Epiese periodefilm oor die Anglo-Boereoorlog binnekort op silwerskerm

Modder-en-Bloed-Stian-Bam-05

Stian Bam vertolk die hoofrol in die nuwe fliek Modder en Bloed wat in April 2016 op die silwerskerm sal wees. Foto: Jacques ‘Jay’ Loots/Keyart.co.za

Die eerste foto’s van ʼn splinternuwe periodefilm, wat in 1901 tydens die Anglo-Boereoorlog op die krysgevangene-eiland St. Helena afpeel, is pas uitgereik.

Sean Else is die regisseur van Modder en Bloed en dit vertel die verhaal van Willem Morkel (Stian Bam), ʼn Boerekryger en familieman, wie se vrou en enigste kind in die oorlog deur Britse soldate vermoor word. Willem word saam met ander Boere-krygsgevangenes op St. Helena in die Atlantiese Oseaan aangehou onder die beheer van Kolonel Swannell (Grant Swanby), ʼn vuurvreter imperialis met ʼn onblusbare haat teenoor die Afrikaner.

Die krygsgevangenes word aan brutale geweld en onderdrukking onderwerp. Hulle word voortdurend deur die Britse bevelvoerder en sy soldate verneder in pogings om hulle emosioneel te knak en fisies af te breek. Te midde van die ongekende marteling en die onmenslike ontbering word hul weerstand en soeke na vergelding net elke dag sterker. Met die bystand van sy medegevangenes aanvaar Willem ʼn uitdaging wat uiteindelik lei tot soete wraak in die belangrikste rugbywedstryd van hul lewens.

Modder en Bloed is in die Worcester-omgewing en dele van Kaapstad verfilm. Sean sê hy is vooraf gewaarsku dat die Worcester-winters rof is. “Die wind waai woes, dis yskoud en dit reën aanhoudend, maar ek wou nie luister nie. Inteendeel, ek het gevoel sulke weer sou perfek wees vir ʼn omvangryke periodefilm soos Modder en Bloed. En dit was ook so: die wind, die sand, die reën, die mis en die koue gedurende die lang, stormagtige aande het ʼn getrouheid en werklikheid aan die rolprent verleen wat geld nie sou kon koop nie.”

Volgens Sean was dit ʼn ervaring wat ʼn ongelooflike span mense van reg oor die wêreld, voor en agter in die kamer, met elke uitdaging net nader aan mekaar en die projek gebring het. “Elke persoon in die Worcester-gemeenskap het agteroor gebuig om die onmoontlike vir hierdie fliek moontlik te maak. Ek weet nie waar begin ʼn mens om dankie te sê vir alles nie. Ek kan net sêe dat ek ontsettend trots is op die hele span en die film wat ons almal saam gemaak het. Ek kan nie wag om hierdie storie met die hele wêreld te deel nie,” sê Sean.

Die fliek spog met ʼn indrukwekkende rolverdeling wat Suid-Afrikaanse en Britse rolprentpersoonlikhede insluit. Van die Van die bekende plaaslike sterre wat te sien sal wees is Bok van Blerk, Albert Maritz, Michael Richard, Edwin van der Walt, Jacques Bessenger, Altus Theart, Albert Pretorius en Deon Lotz. Die Britste rolverdeling sluit Charlotte Salt (Beowulf/The Tudors), Patrick Connolly (Inferno/Crushed), Nick Cornwall (Blood Loyal/Retribution) en Josh Myers (The Sweeney/Anti-Social) in.

Sien die volledige rolverdeling hier: www.modderenbloedmovie.com

Modder en Bloed word op 1 April 2016 plaaslik bekend gestel en deur Ster Kinekor Entertainment versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Loeis ·

Waaroor gaan die fliek regtig?

Ek het dit natuurlik nog nie gesien nie, maar die woorde “Modder en Bloed” kom uit Bok van Blerk se de la Ry, wat oor die Tweede Vryheidsoorlog handel.

Ek vind dit bitter ironies dat daardie selfde sanger in ‘n ander liedjie, Ons vir jou Suid-Afrika, sing van “Ons helde, span saam op die veld, sal veg tot die einde om ‘n nasie te smelt.” Dit klink darem maar baie na die ‘versoening’ wat in praktyk op niks anders as swart heerskappy neerkom nie.

Volgens die artikel speel rugby ‘n belangrike rol in die fliek. Wat herinner aan Nelson Mandela se boek, Playing the Enemy, waarin hy beskryf hoe handig hy die Afrikaner se obsessie met rugby gebruik het om mense agter hom te verenig. Sien, hule span saam en sal veg tot die einde om ons in die mengelmoes te versmelt.

Onn sal sien waaroor die fliek regtig gaan…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.