‘Pinocchio’ binnekort op SA se grootskerms te sien

Carlo Collodi se 19de eeuse roman Pinocchio is nie net een van die gewildste verhale van sy tyd nie, maar ook een van die mees vertaalde nie-geestelike boeke in die wêreld.

Die bekroonde Italiaanse rolprentregisseur Matteo Garrone bied met sy rolprentverwerking ʼn nuwe en unieke perspektief op dié ikoniese verhaal.

Pinocchio bly naby aan die oorspronklike storielyn van ʼn eensame timmerman wat ʼn houtseuntjie maak. Wanneer hierdie seuntjie lewendig word en weghardloop, lei dit tot ʼn reeks ongewone avonture. Op hierdie avonture ontmoet Pinocchio verskeie kleurvolle – en soms ongure – karakters. Hy word maklik mislei en val van een mislukte avontuur na die volgende.

Die Oscar-bekroonde akteur Roberto Benigni is warm en melancholies in die rol van Geppetto, teenoor Federico Ielapi as Pinocchio. Marine Vacth speel die feetjie en Pinocchio se lojale vriendin, wat probeer om hom te oortuig dat sy droom om ʼn regte seun te word nooit sal waar word as hy nie bereid is om te verander nie.

“Pinocchio se kenmerkende gesig met die lang skerp neus is oral te sien en het die gesig geword van die Italiaanse leefstyl. Sy avonture is deel van elke aspek van die Italiaanse kultuur en taal en die res van die wêreld weet ook wie hy is,” verduidelik die regisseur.

Die fliek is in Desember verlede jaar in Italië uitgereik en het sowat €15 miljoen (sowat R273 miljoen) by die loket ingeoes, wat dit die winsgewendste fliek van Kersweek in Italië gemaak het.

Roberto Benigni en Federico Ielapi in ‘Pinocchio’. (Foto: IMDb)

Die oorgeklankte Engelse weergawe is vroeër vanjaar in Brittanje en Ierland uitgereik en word op Kersdag in die VSA en Kanada versprei. Die fliek sal vroeg in die nuwe jaar in Suid-Afrika in fliekteaters landswyd te sien wees.

“Ek koester al van my kinderdae af die droom om my eie weergawe van Pinocchio te maak. Ek het nog steeds my eie persoonlike Pinocchio-storiebord op my lessenaar wat ek geteken en ingekleur het toe ek klein was en ek is baie sentimenteel daaroor. Die liefde wat ek vir Pinocchio het, was nie liefde met eerste oogopslag nie. Dit is net ʼn karakter tot wie ek nog altyd aangetrokke gevoel het.”

Hoewel die rolprent al die bekende en verwagte elemente bevat, soos Pinocchio se neus wat groei en die kriek wat kan praat, word dit op ʼn ongewone manier aangebied.

Matteo Garrone (links), regisseur van ‘Pinocchio’ en Roberto Benigni. (Foto: IMDb)

Pinocchio bevat pragtige beeldmateriaal en die onheilspellende atmosfeer word deurgaans gekomplementeer deur die werk van die kinematograaf Nicolai Brüel en die komponis Dario Marianelli, asook die visuele effekte deur One of Us en die werk van Oscar-bekroonde grimeerkunstenaar Mark Coulier, wat daarin slaag om lewe in elke karakter te blaas.

Pinocchio is ’n aksiebelaaide spanningsverhaal en speel af in beeldskone plekke reg oor Italië. Die fliek bied ʼn ryk fantasiewêreld wat ideaal is vir diegene wat iets anders wil hê as wat die gewilde Disney-weergawe bied. Dit het ’n ouderdomsbeperking van 10 tot 12.

Pinocchio sal vanaf 1 Januarie 2021 in plaaslike bioskope te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.