Plaaslike dokumentêr oor seldsame siekte eersdaags op silwerdoek

Skermskoot uit die voorskou van die rolprent.

Die plaaslike Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprent Tin Soldiers word Saterdag amptelik die eerste keer bekendgestel by die Johannesburgse filmfees by The Bioscope in Johannesburg. Dié rolprent werp lig op Fibrodysplasia ossificans progressiva (FOP) as seldsame siekte.

FOP is ’n siekte waarin spier- en bindweefsel (senings en ligamente) met been vervang word. Dié siekte veroorsaak dat ’n “tweede geraamte” buite die persoon se oorspronklike geraamte vorm. Mense met dié siekte staan dikwels bekend as “bliksoldate” omdat beweging byna onmoontlik is vir hulle.

FOP word beskryf as ’n “katastrofiese siekte” wat soos “’n dief in die nag” kom beslag lê op jou gesondheid en menswees. Met slegs 900 bekende gevalle wêreldwyd, word dit beskou as een van die wêreld se mees seldsame siektes.

Luidens ’n verklaring deur ByDesign Communications is dié rolprent, onder leiding van veelbekroonde Suid-Afrikaanse vervaardiger Odette Schwegler nie net nóg ’n rolprent nie, maar ’n wêreldwye beweging om duisende “bliksoldate” op te spoor wat aan dié seldsame siekte ly, maar nog nie daarmee gediagnoseer is nie.

Skermskoot uit die voorskou van die rolprent.

Volgens statistieke kom dié siekte by een uit elke 1,4 miljoen geboortes voor, wat beteken dat daar meer as 5 000 gevalle van FOP wêreldwyd moet wees. Daar is reeds 18 bekende gevalle in Afrika aangemeld, waarvan 15 in Suid-Afrika is.

Met Tin Soldiers wil Schwegler ook bewusmaking oor FOP en die tekens daarvan skep omdat daar so min inligting oor dié seldsame siekte beskikbaar is. Die hartseer werklikheid is dat dié siekte reeds tydens swangerskap waarneembaar is, maar mense is nie bewus van die tekens nie. Daar is tans vier kliniese proewe aan die gang om ’n kuur te vind.

Die Johannesburgse filmfees is Johannesburg se oudste multigenre-filmfees wat in 2012 begin het om ’n platform buite die tradisionele rolprentteaters vir plaaslike onafhanklike rolprentvervaardigers te skep. Die agtste filmfees vind van 3 tot 6 Oktober plaas.

Tin Soldiers wys Saterdag 5 Oktober by die Johannesburgse filmfees. Kyk die voorskou hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae