Plaaslike én internasionale sterre in ‘Modder en Bloed’

Charlotte Salt. Foto: Jacques “Jay” Loots (keyart.co.za)

Charlotte Salt. Foto: Jacques “Jay” Loots (keyart.co.za)

Charlotte Salt, die Britse aktrise bekend vir haar rolle in Entourage en CSI: Crime Investigation, gaan tel onder die sterre wat op 10 Maart die Modder en Bloed-fliekpremière in Johannesburg bywoon.

Charlotte vertolk die rol van Katherine Sterndale in dié fliek oor die Suid-Afrikaanse Anglo-Boereoorlog wat tans die vermaaklikheidsbedryf aan die gons het.

Sy is bekend vir die rol van Sam Nicholis in die mediese reeks Casualty en was te sien in die periode-televisiereekse The Musketeers, The Tudors en Beowulf.

Modder en Bloed vertel die storie van die Anglo-Boereoorlog en die verhaal van ’n groep Boere wat op die St. Helena-eiland in die Atlantiese Oseaan aangehou word. Hier gaan hulle gebuk onder die wreedheid van die Britse imperialis, kolonel Swannell (Grant Swanby), en wanneer een van hul eie lewens op die spel is, gaan hulle ’n gevaarlike weddenskap aan om die belangrikste wedstryd van hul lewe te speel.

Charlotte Salt as Katherine. Foto: Jacques “Jay” Loots (keyart.co.za)

Charlotte Salt as Katherine Sterndale. Foto: Jacques “Jay” Loots (keyart.co.za)

In dié fliek is Katherine Sterndale die dogter van die goewerneur van St. Helena-eiland en sy simpatiseer met die Boere-gevangenes, terwyl sy haar eie demone uit die verlede in die gesig moet staar.

Katherine is ’n vrou wat stemreg teweeg wil bring deur vreedsame protes, en is gekant teen die manier waarop kolonel Swannell die Boere behandel. Gevolglik veg sy vir die mans se waardigheid en ook om die vuur van hoop in hulle aan te wakker.

Die rolprent spog met een van die grootste rolverdelings in ’n plaaslike fliek en sluit Suid-Afrikaanse akteurs soos Stian Bam, Altus Theart, Edwin van der Walt, Deon Lotz, Bok van Blerk, Albert Maritz, Jacques Bessenger, Albert Pretorius en David Louw in met rolle deur Britse akteurs soos Patrick Connolly, Josh Myers en Nick Cornwall.

Modder en Bloed draai vanaf 1 April landwyd in teaters.

Kyk die lokprent vir die fliek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.