Plaaslike fliek ʼn treffer by internasionale filmfeeste

Akteurs soos Deon Lotz, Armand Aucamp, Crystal Donna Roberts, Jacques Bessenger en Brendon Daniels is te sien in Krotoa (Foto: Facebook)

Die plaaslike rolprent Krotoa is nog nie in Suid-Afrika bekend gestel nie, maar spog reeds met ses amptelike benoemings deur internasionale rolprentfeeste.

Die fliek het onder meer benoemings gekry van die Internasionale Rolprentfees vir Omgewing, Gesondheid en Kultuur, Wêreld-filmtoekennings, Artemis Vroue-in-aksie-filmfees en die Nashville-rolprentfees.

Krotoa het ook reeds sewe toekennings verower waaronder ’n toekenning van uitnemendheid by die Internasionale Rolprentfees vir Vroue, Sosiale Kwessies en Zero-diskriminasie, ’n beste rolprent van die fees-toekenning by die Depth of Field Internasionale Filmfees en ’n platinum-toekenning by die Internasionale Rolprenttoekennings.

Krotoa (Crystal Donna Roberts) is so ’n tragiese heldin en haar vergete verhaal gaan binnekort lewe kry op die silwerskerm. Die rolprent word in Vrouemaand vrygestel en is die perfekte manier om die verskil wat die vroue in ons land maak, te vier.

Hierdie geskiedkundige drama vertel die storie van ’n vurige 11-jarige Khoi-prinses, wat van haar stam weggeskeur word om vir Jan van Riebeeck (die eerste goewerneur van die Kaapse Kolonie en haar oom se handelsvennoot) te gaan werk.

Krotoa (Foto: Facebook)

Sy word na die eerste Fort, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie gevestig is, geneem waar sy grootword as ’n visioenêre jong dame. Krotoa, wat later leer om die Nederlandse taal en kultuur goed te verstaan, word ’n invloedryke tolk tussen Jan van Riebeeck (Armand Aucamp) en haar eie mense. Vasgevang tussen twee kulture, probeer sy om dié twee wêrelde met mekaar te versoen, wat veroorsaak dat die Khoi-stam haar verwerp en die Nederlanders haar vernietig.

“Daar is baie min Suid-Afrikaanse vroue, in vergelyking met mans, wat erkenning kry vir die invloed wat hulle op die land se geskiedenis gehad het. Vroue soos Ruth First, Lillian Ngoyi, Bettie du Toit en Sophia Williams-du Bruyn het sterk gestaan in die opstand teen die apartheidsregering. Wanneer ons egter delf in Suid-Afrika se ryk geskiedenis, ontdek ons dat daar ander inheemse vroue is wat instrumenteel was tot die ontwikkeling van ons nasie – selfs nog voor diegene wat gehelp veg het vir ons vryheid,” sê Roberta Durrant, die regisseur en vervaardiger.

“Krotoa is die heldin van hierdie fliek. Dit is belangrik om haar storie te vertel as gevolg van alles wat sy bereik het, en ook om te beklemtoon dat sy vasgevang was tussen twee leefwyses en dat sy telkemale gedwing is om te kies tussen hierdie twee kulture. Identiteit, die behoefte om in te pas en versoening is die sterk, universele temas van hierdie kragtige verhaal. Dit is veral belangrik, omdat die identiteit van ’n persoon – wat tussen twee kulture staan – so relevant is in ons multikulturele samelewing,” sê Durrant.

Krotoa is geskryf deur Kaye Ann Williams en Margaret Goldsmid.

Vir meer inligting, besoek Krotoa se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Sonja Coetzee ·

Is sooooooo lekkerrrrrrrrr om Afrikaans te wees en te sien ons taal doen so goed oorsee dis n gevoel wat mens nie kan beskryf nie!!!!!Crystal Donna Roberts is n uitstekkende jong aktrisse sy gaan nog baie ver kom in die Suid-Afrikaanse film bedryf.Is so lekker om te weet dis ons taal well done!!!

Bert ·

Die hoofboodskap van die film is sekerlik dat wit mense boos is. Andersins sal al die ‘kenners’ nie pryse uitdeel nie. So is dit maar.

Lynette Schultz ·

Slawerny is boos. Geen mens met ‘n sin vir geregtigheid kan dit goedpraat nie. Dit is net so jammer dat mense vergeet dat daar nie net ‘anderskleurige’ slawe was nie. Oor eeue heen al maak slawerny nie onderskeid tussen rasse nie. En die oorsaak van die meeste euwels, insluitend slawerny, bly GELDSUG!

Koos Malgas ·

Die artikel bevat talle feitefoute en fokus seker meer op die fliek se interpretasie van Krotoa se verhaal. Van Riebeeck was nie die eerste goewerneur van die Kaap nie, wel die eerste kommandeur. Daar was nie ‘n eerste Fort nie, die Fort was eerste gebou en later jare die Kasteel wat vandag nog bestaan. Krotoa was geensins ‘n Hottentot-prinses nie en nie eers Wikipedia maak hierop aanspraak nie. Haar oom na wie verwys word was Herrie die Strandloper wie later Robbeneiland toe verban is weens wangedrag. Krotoa was nie weggeskeur van haar mense nie, dit skep ‘n wanindruk en veroorsaak dat mense soos Lynette hierbo van slawerny begin praat. Die Hottentotte was nooit slawe nie, die VOC het hulle slawe ingevoer, meestal vanaf die Ooste. Krotoa het later met ‘n wit amptenaar Pieter van Meerhof getrou, maar het na sy dood ‘n volslae alkoholis geraak en sy is self Robbeneiland toe verban. In 1685 het die VOC ‘n verbod op verdere gemengde huwelike ingestel.

Lynette Schultz ·

Koos, die sleutelwoord in my kommentaar was die woord ‘boos’. Ek ken toevallig die stukkie geskiedenis en ek verseker jou – die wêreld se persepsie dat haar lewe ook maar net ‘n vorm van slawerny was is klaar daar en jy gaan sukkel om dit te verander. Ongelukkig was daar slawe in ons land (van waar ookal) en hulle nasate dink hulle is nog steeds in slawerny. My punt is dat van ons blanke voorouers in Europa ook slawe was op ‘n stadium. Dit is geskiedenis. ‘n Mens beweeg aan. Die praktyk van slawerny bly egter boos

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.