Poppie Nongena: ‘’n Voorste rolprentervaring’

Kom ons kry een ding heel aan die begin uit die pad uit. As jy meen jy het nou genoeg gehad van die bestudering en beskrywing van die onregte van die apartheidsera, bly weg van hierdie rolprent. Dis jou goeie reg.

Maar as jy nie daardie spesifieke blinde kol of irritasiebron het nie, staan jy op die punt om een van die voorste rolprentervarings in die geskiedenis van Afrikaans en, wyer, van Suid-Afrika te ervaar – ʼn fenomenale kragtoer waarin rolprentmaker Christiaan Olwagen die dikwels ambivalente verhouding wat progressiewe Suid-Afrikaners van alle soorte gereeld met Afrikaans het, inweef – dis ʼn geval van son en skadu, met die son die skoonheid van die taal self, en die skadu dit wat in haar naam en in haar woord gedoen is.

Daar is diegene wat meen ʼn mens kan die twee skei, maarmiskien moet ʼn mens aanvaar ʼn taal is soos ʼn mens; die volheid van ervarings en teenstrydighede dra by tot die geheel – dis onderskeibaar maar nie skeibaar nie.

Oor Elsa Joubert se roman Die swerfjare van Poppie Nongena is daar met die verskyning daarvan in 1978 gesê dat geen Afrikaanssprekende daarna sal kan beweer hulle het nie geweet nie. Daar is natuurlik diegene wat weier om te weet, maar die wêreld van die swart Afrikaanssprekende is deur haar oopgeskryf vir diegene met oë om te sien en ore om te hoor.

Poppie is nie ʼn blote rolprentweergawe van Die swerfjare van Poppie Nongena nie. Dit handel net oor die Kaapse deel van die boek, en slegs in ʼn mate. Die rolprent staan op eie bene.

Een van die aspekte waaroor Olwagen wel met Joubert as skrywer beraadslaag het, was in die keuse van die aktrise wat, in die rol van Poppie, die spil van die rolprent sou word. In Clementine Mosimane het hulle regtig reg gekies. Dit is ʼn merksteen-vertoning, ʼn hoogwatermerk van formaat.

Mosimane beskik oor die vermoë as aktrise om die impak van die dramatiese juis te beklemtoon deur dit te onderspeel – stille waardigheid, stille weersin, stille woede, stille wanhoop. Die een baksteen bou op die vorige namate die lewe en die stelsel met haar gebeur en haar meesleur sodat al wat uiteindelik oorbly stille trots is – haar keuses is tegelykertyd uniek en universeel.

Mosimane word Poppie se spartelende soeke na iets beters vir haar en haar kinders. Sy verword deur verwonding – verwond ja, maar onoorwonne; die klein heldedaad van ʼn outentieke soeke na die beste verankering te midde van ontsetting.

Poppie, en Mosimane as Poppie, probeer elke moontlikheid om haar verwringing te keer, maar die lewenstorms bly om haar slaan. Sy word meegesleur en verander, sodat die afloop sowel ontredderend as bevrydend (na gelang van jou oogpunt) is, ʼn begrafnis en ʼn wedergeboorte, ʼn verrassende afloop en ʼn noodwendigheid, maar o aarde, glo my hieroor: Dis ʼn ikoniese einde.

In die vertelling van hierdie Suid-Afrikaanse verhaal staan taal en taaloorgang sentraal. Ja, dit is ʼn Afrikaanse rolprent, maar dit is nie net ʼn Afrikaanse rolprent (of ʼn nét Afrikaanse rolprent) nie. Olwagen gebruik taal soos NP van Wyk Louw se beiteltjie: Dit kan klip breek, skoon soos langs ʼn voeg, met ʼn bars wat van sy beitel af dwarsdeur ons harte loop.

Dit gryp jou soos ʼn wilde golf, sodat jy nie mooi weet wat is bo of onder nie. Dit dop jou, en jou denke, jou oortuigings, om. Geen wonder dit is so wyd bekroon by die mees onlangse Silwerskermfees nie.

Ter aanvulling van Mosimane se vertolking kan ʼn mens byvoeg dat daar werklik nie ʼn swak plek in die rolverdeling is nie. Vergun my egter om Anna-Mart van der Merwe uit te sonder. Sy wys waar soveel verligte Afrikaners oor die jare te kort geskiet het – ons het probeer en ons het uitgedaag, maar nie genoeg nie – en nou draai die wiel, soos hy sal.

Kinematografies is dit ʼn beeldskone rolprent – dis pragtig en ontsettend in hoe dit die kontraste in ons wye en droewe land inklee. Daar is mense wat die kleredrag as rekwisiete kritiseer, maar daaroor kan ek my nie uitlaat nie.

Poppie is ʼn ervaring wat jou op jou kop gaan draai. Dis ervarings soos dié wat rolprente die moeite werd maak. Dis ʼn taai toffie om te kou. En dit gee sooibrand. Want die rolprent is aktueel én seminaal, tegelyk eie verhaal én metafoor. Dit is die verhaal van Poppie en van Afrikaans.

Kortweg: Dit het ewigheidswaarde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.