Prettige Afrikaanse padrit-fliek nou te sien

Relatief jonk, die splinternuwe Afrikaanse rolprent uit die pen van akteur en regisseur Hendrik Cronjé, is ʼn storie gevul met humor, pret en spontane avontuur.

Cronjé, ook skrywer en regisseur van die fliek Liewe Lisa en bekend vir sy rol as Lukas Mulder in die SABC2-sepie 7de Laan, was weer aan die stuur van sake.

Amalia Uys en Viljé Maritz verskyn ook in die rolprent. Cronjé vertolk die rol van Ben, wat ná ʼn begrafnis op sy tuisdorp so gou as moontlik terug wil kom in die Kaap om met sy eks te praat voordat sy trou aan iemand anders beloof.

Ná die begrafnis oorreed ʼn plaaslike musikant, Bismarck (Viljé Maritz), vir Ben om hom ʼn saamrygeleentheid Kaap toe te gee. Net voordat hulle die dorp verlaat, maak Mila (Amalia Uys), wat veronderstel is om met haar verloofde te trou, haar opwagting.

Sy het egter koue voete gekry en oorreed ook vir Ben vir ʼn saamrygeleentheid Kaapstad toe. Om die geselskap verder te kompliseer word dit duidelik dat daar ʼn ingewikkelde geskiedenis tussen Ben en Mila is.

Bismarck sien die reis as die ideale geleentheid vir pret en avontuur, maar Ben is haastig om terug te keer. Gedurende die reis leer elkeen lewenslesse wat hul siening van die liefde en vriendskap verander.

Relatief jonk kyk met ʼn tong in die kies na van die kwessies wat mense in hul laat 20’s kwel. Is jy bedoel om met ʼn spesifieke persoon te trou? Wanneer laat vaar jy jou drome? Een besluit kan die hele koers van jou lewe verander, so hoe weet jy dit is die regte besluit?

“Daar is nie regte antwoorde op hierdie vrae nie. Daarom hoop ek mense geniet die storie en dalk dink hulle hoe hulle lewens anders sou wees as jy op ʼn spesifieke tyd in jou lewe ʼn ander besluit geneem het.”

Cronjé se broer, Johan Cronjé, het die fliek gehelp vervaardig.

Relatief jonk word plaaslik deur Filmfinity versprei en is van 9 Julie op DStv Box Office te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.