Racheltjie de Beer-fliek ʼn verhaal van dapperheid, liefde

“Die Verhaal van Racheltjie de Beer” sal in Oktober in teaters begin draai.

Die amptelike plakkaat van die Afrikaanse rolprent, Die Verhaal van Racheltjie de Beer, wat pas bekendgestel is, gee kykers ʼn gevoel van wat om van dié rolprent te verwag – ʼn verhaal van verlies, dapperheid, opoffering en onwrikbare liefde.

Die Verhaal van Racheltjie de Beer sal in Oktober in teaters begin draai en is geskoei op die topverkoper-roman met dieselfde naam deur die skrywer en rolprentmaker Brett Michael Innes.

Die fliek vertel die legendariese verhaal van die 12-jarige Racheltjie en haar boetie, Jamie (5), wat hulle vyf jaar ná hul ma se dood op pad na die goudvelde van die Witwatersrand saam met hul pa, Herman, bevind om ʼn nuwe lewe daar te begin.

Tydens die trek duik daar ʼn probleem op met die ossewa en die De Beers vind verblyf op ʼn afgeleë plaas in die bergagtige Oos-Vrystaat wat deur George en Jacoba Lundt en hul dogter Sara bewoon word. Die eerste kouefront is op pad en George waarsku Herman dat hulle op die plaas sal moet aanbly en wag tot die sneeu opklaar voor hulle weer die pad na die goudvelde toe kan aandurf.

In ruil vir verblyf en kos help Herman om die vervalle klipkraal te herstel. Soos die De Beers aanpas by die lewe op die plaas bly Racheltjie bewus dat Goeie Vrydag, die gedenkdag van hul ma se dood, al hoe nader kom.

Goeie Vrydag breek aan en, later daardie aand, sluip Racheltjie en Jamie uit die huis om saam met Sara hul ma se lewe en dood te herdenk. Herman, gekant teen die herdenking van Marie se dood, betrap hulle en in ʼn uitbarsting neem hy die besluit om summier die pad te vat.

Die volgende oggend, terwyl Herman gereed maak om die plaas te verlaat, besef hulle dat Jamie se troetelkalfie vermis is. Herman los die kinders in die huis terwyl hy die wa herstel, maar die onheilspellende stormwolke en sterk wind trek in oor die plaas en hy het geen keuse as om sy waansinnige missie te laat vaar nie.

Herman keer terug na die huis nes Racheltjie besef dat Jamie uitgeglip het om die kalfie te gaan soek. Die son het reeds gesak en ʼn soekgeselskap word uitgestuur terwyl Racheltjie by die huis moet agterbly.

Marius Weyers vertolk die rol van George.

Terwyl die eerste sneeuvlokkies val, besef Racheltjie dat Jamie na die mierneste gegaan het waar hulle vroeër die week die kalfie gevind het. Met niemand om te vertel nie en die storm wat al hoe sterker woed, neem sy ʼn lantern en durf die wind en sneeu aan om haar boetie te gaan haal.

Racheltjie vind hom by die mierneste, maar die swaar sneeu en donker maak dit onmoontlik vir die twee kinders om hul pad terug huis toe te vind. Sy kom te staan voor ʼn keuse wat óf hul albei se lewe sal kos of een sal laat oorleef. Racheltjie neem die dapper besluit wat van haar ʼn heldin sou maak.

Die volgende oggend vind Herman Racheltjie se bevrore, naakte lyk wat die ingang na een van die miershope bedek. Hy trek haar dooie liggaam teenaan sy bors en vind vir Jamie, snoesig toegedraai in Racheltjie se warm klere binne-in die miershoop, veilig en lewend danksy haar opoffering.

Die rol van Racheltjie word vertolk deur Zonika de Vries, terwyl Johannes Jordaan sy heel eerste rol as Jamie vertolk. Stian Bam, bekend vir sy spel in onder meer Modder en Bloed en Verraaiers, is te sien in die rol van Herman, terwyl Marius Weyers die rol van George vertolk.

Nog bekendes soos Sandra Prinsloo, Antoinette Louw en en Beate Opperman maak deel van die rolverdeling uit. Die rolprent se regie is behartig deur Matthys Boshoff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Leon ·

Ek hoop mense weet dat dit net n storie was en nooit werklik gebeur het nie.

Swanna ·

Soos Dirkie Uys ook ‘n storie in die volksmond volgens ander , Leon!.

sweis ·

Dit is goeie nuus ek het dit in geskiedenis geleer maar die onderdrukkers het dit uit die selabus gehaal sodat die eensydige propaganda geleer kan word.

allaWereld ·

Leon
dis n ware vehaal tensy ons almal voor gelieg was
EK SIEN SO UIT NA DIE FLIEK

jaco ·

van kleins af wonder ek: hoekom het sy nie net haar klere aangehou en ook in die uitgeholde miershoop geklim nie?
Maar toe ek dit vir my nasionale party broederbond geskiedenis onderwyser vra, is ek uitgekryt as n onpatriotiese Afrikaner… Ek het dus nie later die leerlingraad gehaal nie.
Anyway, gaan lees die storie op die Afrikaanse Wikipedia. genoeg bewyse daar dat dit net n storie is – dit het nooit regtig gebeur nie.

Frank ·

Sien Wiki altyd slegs as aanvullende verwysing, Jaco. Nie altyd glo wat jy lees nie.

Cora Simpson ·

Daar was ook ‘n gediggie: As jy van Helde dade hoor
Van menig dapper Held
Vergeet dan nie Racheltjie de Beer
Sneeuwytjie van die veld
Ons het dit op skool geleer in die baie vroee vyftiger jare. So 70 jaar gelede

sweis ·

En mandela was n ikoon wat ook niks met die kerk straat bom te doen gehad het nie,en daar is geen diskriminerende wetgewing teen minderhede in SA nie en die DA is die party om voor te stem en so glo die mense wat blootgestel is aan soveel breinspoel dat dit nooit sal regkom nie

M ·

Leon … regtig ? Dalk tyd vir jou om te immigreer Australia toe. Ons sal jou sommer help pak …

Fanie Kemp ·

Feitlik in elke land ter wereld is daar pragtige Volksverhale ( legendes as jy wil ) wat daardie Volk van geslag tot geslag oor vertel om hul mense te inspireer tot dit wat mooi en edel is.
Waarom, O waarom moet daar altyd diegene wees wat die mooi en edele in ons Volk se Geskiedenis wil verswyg, verkleineer of belaglik maak.
Ek verkies om hierdie verhaal ( waar of dan ‘n sprokie ) te sien as simbool van die mooi en edele van ons Volk.

Rhoda ·

Hazel Dulcie Miner, a student at a rural Great Plains one-room school, died while protecting her 10-year-old brother, Emmet, and 8-year-old sister, Myrdith, from the spring blizzard of 1920 in Center, Oliver County, North Dakota.
Gebore:11 April 1904

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.