‘Racheltjie’ vat akteurs terug na hul kinderjare

Sandra Prinsloo vertolk die rol van Jacoba (Foto: Janie Monsieur/Media)

Hoewel Die verhaal van Racheltjie de Beer ʼn splinternuwe film is, het die akteurs reeds ʼn lang pad met dié verhaal gestap. Sandra Prinsloo, Stian Bam en Antoinette Louw het met Maroela Media gesels oor die ervaring om te werk aan ʼn rolprent van ʼn verhaal wat eintlik al volksbesit is.

“Racheltjie de Beer is ʼn storie waarmee ek as kind grootgeword het. Nooit sou ek kon dink dat ek in die rolprent sal speel nie, maar dit was ʼn wonderlike ervaring,” sê Prinsloo.

“Ek was nog baie klein toe ek die storie die eerste keer gehoor het, ek dink ek was nog op laerskool. Dit is daardie tyd vir kinders vertel om hulle te leer oor onbaatsugtige liefde.”

Die verhaal van Racheltjie de Beer is in die Oos-Vrystaat verfilm en vertel die verhaal van ʼn dogtertjie wie se braafheid en liefde haar jonger boetie se lewe red.

“Die Oos-Vrystaat is ʼn baie spesiale plek vir my, want van my familie kom van daar af. Dit is soort van in my bloed. Dit was ook uitsonderlik om saam met Matthys Boshoff (die regisseur) te werk. Ons was ʼn baie gelukkige span, en dit was ʼn wonderlike verhaal om te vertel,” sê sy.

Prinsloo sê sy het beslis meer druk en verantwoordelikheid gevoel om Racheltjie se verhaal te vertel, juis omdat dit so ʼn bekende storie is.

Stian Bam vertolk die rol van Herman de Beer (Foto: Janie Monsieur/Media)

“Dit is so ʼn ikoniese verhaal dat almal eintlik reeds hul eie interpretasie van die storie het. En ons het ʼn verantwoordelikheid gehad om die verhaal so eg moontlik en met eerlikheid aan te bied, asook om dit ʼn verhaal te maak wat almal sal onthou,” sê Prinsloo.

Stian Bam, wat die rol van Herman de Beer, Racheltjie se pa, vertolk, is van die begin af geboei deur die draaiboek.

“Die teks was so eenvoudig en roerend, en veral hoe die storie bymekaar getrek is, het my vreeslik geraak. Matthys het die ervaring baie maklik en aangenaam gemaak. Dit was moeilik, maar terselfdertyd heerlik wat baie verskillende aspekte betref,” het hy gesê.

Hy onthou ook dat hy Racheltjie se verhaal die eerste keer in ʼn volksverhaleboek gelees het toe hy jonger was.

“Daardie tyd het dit nie so ʼn groot indruk op my gemaak nie, behalwe dat ek gedink het dit is tragies. Maar nou speel dit ʼn groot rol en raak my werklik.”

Ook Antoinette Louw, wat die rol van Sara vertolk, kyk terug op Racheltjie se verhaal met goeie herinneringe.

Antoinette Louw vertolk die rol van Sara (Foto: Janie Monsieur/Media)

“Ek het as dogtertjie met Racheltjie grootgeword, so dit was soos om ʼn lucky packet te kry! Ek kan nie eens onthou wanneer ek die storie die eerste keer gehoor het nie, dit is net een van daai dinge wat ʼn mens van kleins af kan onthou, soos Kersvader en die tandemuis – dis eintlik deel van jou menswees. Maar daai opkyk na die meisiekind en dat ek eendag soos sy wou wees, dit kan ek baie goed onthou,” sê sy.

Louw sê sy het probeer om nie vas te kyk in hoe groot die oorspronklike verhaal is nie, anders sou sy heeltyd op haar senuwees gewees het. Sy het eerder daarop gefokus om die storie so goed moontlik te vertel en hul eie persoonlikheid en visie na die skerm te bring.

“Dit was een van die lekkerste ervarings van my lewe. Alles het so goed saamgesmelt, dit was regtig ʼn magiese ervaring,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.