Regisseur van ‘Die seemeeu’ oor rolverdeling, uitdagings

Die Afrikaanse rolprentverwerking van Die seemeeu, die verhoogstuk van die Russiese dramaturg Anton Tsjekof, word op 5 April in fliekteaters landwyd uitgereik nadat dit verlede jaar vir die eerste keer aan Suid-Afrikaanse gehore op die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai vertoon is.

Christiaan Olwagen het eers die regie van die teaterstuk en daarna van die fliekweergawe behartig. Olwagen neem dié klassieke teaterstuk, wat reeds in die 1900’s deur een van Rusland se grootste skrywers geskryf is en verplaas dit na Suid-Afrika in die 1990’s, bykans 100 jaar nadat die stuk geskryf is.

Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Gerben Kemper, Alyzzander Fourie, Deon Lotz, Rolanda Marais, Martelize Kolver, Albert Pretorius, Geon Nel en Cintaine Schutte vorm deel van die ensemble-rolverdeling wat in dié rolprent, wat deur talle resensente as ʼn kragtoer beskryf word, te sien is.

Dié gesoute ensemble het ook in die teaterstuk, wat vir bykans twee jaar die feesrondtes op die planke gedoen het, gespeel en die akteurs het dus dieselfde rolle wat hulle in die teaterstuk vertolk het, vir die rolprentverwerking hervat.

“Uiteraard kies jy mense wat jy voel die karakters verteenwoordig,” sê Olwagen aan Maroela Media. Hy en Saartjie Botha het die oorspronklike draaiboek geskryf. “Destyds toe ek en Saartjie die verwerking gedoen het, het ons al geweet wie ons dink die mense is wat die rolle gaan vertolk, soos Sandra wat die teaterdiva, Irene, speel.

“Wat ongelooflik was van die proses, is dat ons amper twee jaar getoer het met die teaterproduksie en toe ons daarna met die fliek begin, kon ons nog repeteer en skaaf aan die karakters. Ons het ook almal vir die tydperk van die verfilming op Stanford buite Hermanus gewoon en tot ʼn mate het die akteurs die karakters wat hulle in die stuk vertolk, geword.”

Christiaan Olwagen tydens 'n paneelgesprek op verlede jaar se Silwerskermfees in Kampsbaai. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Christiaan Olwagen tydens ‘n paneelgesprek op verlede jaar se Silwerskermfees in Kampsbaai. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Hy voeg by dat hy dit in geen stadium oorweeg het om enige van die rolverdelings met ander akteurs te vervang nie. “Ek het baie sterk gevoel daaroor om dieselfde akteurs te gebruik. Ek is so trots op die ensemble in die teaterstuk en dit was deel van die rede hoekom ek besluit het om ’n fliek te maak met dieselfde akteurs, waar jy nader aan die karakters kan wees en meer in diepte kan gaan as met ʼn teaterstuk.”

In Mei verlede jaar het Olwagen na Rusland gereis toe die rolprent op die Moskou-rolprentfees vertoon is. Hy gee toe dat die ervaring beide vreemd en vreesaanjaend was, maar dat die rolprent fantastiese terugvoer van die Russe ontvang het.

“Hier is jy as Afrikaner en jy het jou interpretasie van een van Rusland se grootste skrywers. Uiteraard het ek en Saartjie dit in die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse milieu gesit en dit was ongelooflik om te hoor dat die Russe steeds totaal en al daarmee kon vereenselwig.

“Dit was vir hulle interessant dat daar sulke parallelle getrek kon word met Tsjekof se karakters. Hy was so goed daarmee om die menslike gesteldheid (human condition) vas te vang en binne die spesifieke Suid-Afrikaanse gegewe van die 1990’s het die stuk nie vir hulle vreemd gevoel nie.

“Daar was ʼn vrou wat vir my gesê het in haar opinie is dit een van die beste Tsjekof-stukke wat sy nog gesien het. Tsjekof is nie maklik nie en dit is veral moeilik vir akteurs en regisseurs.”

Christiaan Olwagen (middel) saam met van die akteurs wat in 'Die seemeeu' te sien is op verlede jaar se Silwerskermfees (van links na regs): Albert Pretorius, Deon Lotz, Rolanda Marais, Geon Nel en Cintaine Schutte. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Christiaan Olwagen (middel) saam met van die akteurs wat in ‘Die seemeeu’ te sien is op verlede jaar se Silwerskermfees (van links na regs): Albert Pretorius, Deon Lotz, Rolanda Marais, Geon Nel en Cintaine Schutte. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Volgens Olwagen wou hy nie veel veranderinge aanbring van die teaterteks na die rolprentdraaiboek nie. “Jy wil nie noodwendig karring aan iets wat werk nie. Ek en Saartjie wou sekere reëls uit die teaterteks probeer behou.

“Ek wou graag hê dat jy die gevoel van real time aan jou bas moet voel en wou dit nie interessanter probeer maak omdat dit nou ʼn fliek versus teater is nie. Die sin van tyd was belangrik vir Tsjekof. Ek wou hê dat die gehoor moet voel hoe tyd die karakters vasvang en hoe tyd amper ʼn graf word.”

Hy voeg by dat die natuur op Stanford ook uitdagings vir die skietproses ingehou het. “Die eerste bedryf speel af langs die meer en Stanford en Hermanus het byna skisofreniese weer, waar die son een oomblik skyn en die volgende oomblik sak ʼn reënbui uit. Dit maak dit moeilik as jy heeltyd hierdie lewendige agtergrond het wat verander, veral as jy die gehoor wil laat voel dat alles in een tydgleuf afspeel.”

Olwagen sê die akteurs en filmspan het soveel tyd saam op die stel deurgebring dat hulle ook amper soos ʼn gesin geraak het, net soos die karakters in Die seemeeu. “Jy leer ken die mense so goed en die stuk is grootliks ʼn familiestorie, hoe disfunksioneel hulle ook mag wees of nie. Die akteurs het ook soos ʼn gesin geraak, met liefde en irritasie wat hand aan hand loop.

Saartjie Botha en Christiaan Olwagen tydens 'n paneelgesprek oor 'Die seemeeu' op verlede jaar se Silwerskermfees. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Saartjie Botha en Christiaan Olwagen tydens ‘n paneelgesprek oor ‘Die seemeeu’ op verlede jaar se Silwerskermfees. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“Tsjekof is so ʼn fantastiese skrywer en om net met daai materiaal te kan sit vir maande was ʼn groot voorreg. Afgesien van die probleme met die weer, was dit ook baie lekker om saam te bly en om deel te word van die natuur en die natuur dikteer uiteindelik amper hoe jy voel.”

Hy voeg by dat die rolprent ʼn eerlike blik gee op tyd wat noodgedwonge saam met familie bestee moet word. “Ek kon die tipe van onvergenoegdheid en moan-agtigheid byvoorbeeld plaas in enige familiestrandhuis tydens ʼn Desembervakansie. Mense wat oopkop genoeg is, sal hiermee kan vereenselwig. Daar is hierdie idee dat Tsjekof vervelig is en hoewel dit handel oor mense wat verveeld is, dink ek nie dit hóéf vervelig te wees nie.

“Vir mense wat die teaterstuk ken, is daar beslis iets in. Natuurlik gee die hele ensemble sulke uitmuntende spel en ek wou dit vasvang in iets meer permanent as ʼn teaterstuk wat net kom en gaan. Dit is gemoderniseerde Tsjekof wat probeer raakpunte tref. Dit is ook belangrik om groot, klassieke tekste te doen in verskillende tale, omdat dit so ʼn sterk fondament vir storievertelling lê. Omdat ek uit ʼn teateragtergrond kom, dink ek ek ken die tiperings wat in die stuk uitgebeeld word baie goed – selfs die hareklowery en oë-uitkrappery tussen mense wat teater maak vir ʼn lewe.”

*Die seemeeu het ʼn ouderdomsbeperking van 16 vir onder meer kru taalgebruik, tonele van dwelm- en alkoholgebruik, seksuele tonele en geweld. Die fliek is nie geskik vir kinders jonger as 16 jaar nie. Ouers se diskresie word aanbeveel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae