Resensie: Ballade vir ʼn Enkeling – ʼn nuwe standaard vir plaaslike rolprente

Ballade-vir-n-enkeling-se-poster

Die gewilde televisiereeks, Ballade vir ‘n enkeling, herleef nie nou net op die grootskerm nie, maar die musiektreffers uit die reeks kry ook ‘n splinternuwe baadjie. Foto: Verskaf.

Draaiboek: Leon van Nierop
Regisseur: Quentin Krog
Vervaardigers: The Film Factory – Danie Bester
Rolverdeling: Armand Aucamp, Rolanda Marais, Jacques Bessenger, Donnalee Roberts, Edwin van der Walt, Christia Visser, Luan Jacobs
Ouderdomsbeperking: 16 (taal, geweld, seksuele geweld)
Datum van vrystelling: 20 Maart

In die internasionale rolprentbedryf, en meer spesifiek Hollywood, is daar rolprente wat ʼn omkeerpunt in die bedryf veroorsaak het. ʼn Rolprent wat veroorsaak het dat die daaropvolgende rolprente volgens ʼn nuwe standaard moet wees en die gehoor honger gelos het vir nog sulke flieks. Vir ons rolprentbedryf is dit Ballade vir ʼn Enkeling.

Ballade vir ʼn Enkeling is gegrond op die uiters gewilde televisiereeks in die 80’s, maar in hierdie fliek kry die storie van Leon van Nierop ʼn splinternuwe baadjie. Dit vertel die storie van die skrywer Jacques Rynhard wat verdwyn op die aand wat hy ʼn groot literêre prys ontvang. ʼn Joernalis, Carina Human, besluit om ondersoek in te stel en besef vinnig dat daar baie geheime is wat agter die verdwyning skuil.

Die rolverdeling is sterbelaai met akteurs soos Rolanda Marais (Lena Aucamp) Donnalee Roberts (Carina Human), Armand Aucamp (Jacques Rynhard), Jacques Bessenger (Jan-Paul Otto) en Helene Lombard (Liebet Rynhard). Elkeen van hierdie akteurs is fantasties in hul onderskeie rolle, maar dit is egter die jong akteurs wat die gehoor gaan verras.

Edwin van der Walt vertolk die rol van Jacques Rynhard (jr.) en die jong akteur maak ʼn mens ongelooflik opgewonde vir wat hy vir die bedryf kan doen.  So ook met Christia Visser (Lena Aucamp jr.) en Luan Jacobs (Jan-Paul Otto jr.).

Daar is egter nie een akteur in hierdie fliek wat nie spesiale erkenning verdien nie. Miles Petzer in die rol van Gert Grové gaan jou hare laat rys en Cindy Swanepoel is moeiteloos skreeusnaaks as Mysi Moolman.

Die kinematografie is beeldskoon gedoen en staan terug vir niks (nie eens vir internasionale flieks soos Gone Girl en Birdman nie).

Quentin Krog is geen vreemdeling in die rolprent- en televisiewêreld nie en het meer onlangs in die regisseurstoel gesit vir die televisiereeks Sterlopers. Krog se benadering met die regie van Ballade vir ʼn Enkeling is uiters verfrissend.

Die oorspronklike musiek van die televisiereeks asook nuwe weergawes daarvan word gebruik en is propvol nostalgie wat jou hoendervleis gaan gee.

Ongeag of jy die televisiereeks gekyk, net daarvan geweet of geen benul het waaroor dit gaan nie: hierdie fliek gaan jou bekoor en mag nie misgeloop word nie.

Ballade vir ʼn Enkeling is die begin van groot dinge vir ons rolprentbedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Neptunus

Mag nie misgeloop word nie, werklik? Het dit op uitnodiging van vriende saam gaan kyk. Om dit in een woord op te som: Anachronisme. Die kinematografie is goed, maar hoekom met minder tevrede wees, dis tog 2015, en laat mens plek-plek voel of dit eerder ‘n advertensie is waarna jy kyk. Die reënmasjien was seker duur om te huur, derhalwe die klomp tonele met stortreën in? Die storielyn en agtergrond van stoomtreine ensovoorts is nie suksesvol oorgeplant na ons hedendaagse tydgreep nie. Die seuns as skoolkinders blaai ‘n Loslyf deur, kamtig circa 1996, maar is nog onderworpe aan lyfstraf? Lyfstraf… Lees meer »

Zuri

Die beste Afrikaase fliek ooit. Hou so aan….

Annakie

Ek het ook gevoel daar is te veel anachronismes om my werklik in die storie in te trek. Dit sou beter gewerk het as die kinders jonk was in die 1970’s. En die fliek is te lank. Maar ja, pragtige kinematografie met ‘n kontemporêre en vars aanslag.