Resensie: ‘Die verhaal van Racheltjie de Beer’ ʼn móét om te kyk

“Die Verhaal van Racheltjie de Beer” sal in Oktober in teaters begin draai.

Die nuwe Afrikaanse rolprent, Die Verhaal van Racheltjie de Beer, is pas by die afgelope kykNET Silwerskermfees vertoon en vertel ʼn welbekende verhaal met soveel vernuwing, aanvoeling vir die magiese eb en vloei van emosie en dramatiese ironie dat dit ’n moet is vir enigeen om te kyk.

Die Verhaal van Racheltjie de Beer sal in Oktober in teaters begin draai en is geskoei op die topverkoper-roman met dieselfde naam deur die skrywer en rolprentmaker Brett Michael Innes. Die fliek vertel die legendariese verhaal van die 12-jarige Racheltjie wat haar vyfjarige boetie, Jamie, in haar klere toegewikkel en in die ysige koue voor die ingang van ʼn miershoop gaan lê het sodat hy kan oorleef. Al het dit haar haar lewe gekos.

Kom ons begin by die kinematografie. Soveel van die verhaal van Racheltjie de Beer handel oor die mens se stryd teen die magtige natuur. Dit is dus gepas en met fyn aanvoeling dat die karakters so dikwels verdwerg word deur die pragtig geskiete skote van die dramaties wispelturige natuur wat die handeling raam. Spesifiek opvallend is hoe die wolkemassa opbou namate die spanningslyn styg.

Wat spel betref wentel die verhaal om die puik vertolking van Herman de Beer, Racheltjie se pa, deur die bobaas-akteur Stian Bam. Soos baie van ons is Herman ten spyte van sy afhanklikhede, verlede-bagasie en die skadu’s in sy siel hartstogtelik lief vir sy familie. In hartstog word die kiem van ondergang dikwels saamgedra, maar dit weet ʼn mens nie altyd van jouself terwyl jy jou bes probeer doen nie.

Marius Weyers en Sandra Prinsloo as die Lundt-egpaar is die sleutel tot die verhaal, met Prinsloo wat dramatiese ironie tot die bykans onuitstaanbare uiterste rek wanneer die kyker weet hoe haar benewelde brein alles inspan om Racheltjie tot diens te wees, maar tog so sukkel om verstaanbaar te kommunikeer.

Ook Seputla Sebogodi as Lazarus, Zonika de Vries as Racheltjie, Johannes Jordaan as die onnutsige klein patroon van ’n Jamie en Antoinette Louw as die Lundt-egpaar se dogter Sara, wat haar eie hoop verydel sien maar haar eie ideale bly koester, lewer uitstekende spel.

Die knap nagevorste rolprent met ’n stel waarin ’n verskeidenheid kultuurgoedere as rekwisiete binne die Lundt-opstal vervat is, bied ’n kosbare blik op die leefwêreld en gewoontes op ’n afgeleë binnelandse boereplaas in die negentiende eeu. Dit is lewende Afrikaner-kultuurgeskiedenis.

Een van die hoogtepunte van die hele belewing is die rol van die magiese in die verhaal, in die taal van die plante, en die verhouding tussen Racheltjie en haar moeder. Skort jou ongeloof vir ’n oomblik op, en kyk hoe Die verhaal van Racheltjie de Beer jou meesleur.

Afrikaans is geseënd om tans so ’n pragtige rolprent te kan voortbring. Gaan ondersteun dit gerus met ywer en sonder voorbehoud by die loket – dis deur en deur die kyk werd!

Eksklusiewe première vir Maroela Media lesers

Racheltjie de Beer
Prys: R130 pp
Waar: Nu Metro VIP Parkview (Garsfonteinweg)
Wanneer: 10 Oktober 2019
Tyd: 19:00 vir 19:45

Kom saam bioskoop toe! Maroela Media bied jou die geleentheid om saam met ons die première van die langverwagte “Racheltjie de Beer” te kom kyk. Dit gaan ʼn aand op die rooi tapyt wees wat jy nooit sal vergeet nie. Kom kuier saam met Maroela Media, die akteurs van “Racheltjie de Beer” (Stian Bam en Antoinette Louw) en ander Maroela-lesers. Daar is slegs 100 plekke beskikbaar vir die publiek, so jy moet vinnig spring om jou plek te bespreek.

Jou kaartjie na die eksklusiewe Maroela-première bied jou die geleentheid om saam met Maroela Media oor ʼn glasie wyn te kuier, saam peuselhappies te geniet voor die fliek begin, sowel as die geleentheid om ʼn foto saam met die akteurs te neem op die rooi tapyt.

Kry jou kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

R Buger ·

Dankie tog! n Slag weer n Afrikaanse fliek sonder vuil/vieslike taal!! Ek wás n kranige Afrikaanse fliek ondersteuner tot die “modegier” van vuiltaal alles kom bederf het. Dankie vir die geleentheid om weer iets moois te kan gaan kyk!

Nellene Dempsey ·

Ek is tog te bly om te hoor daar is ‘n kunswerk in Afrikaans beskikbaar sonder gekruide taal. Met gekruide taal, korrupsie en moord die orde van die dag in Suid-Afrika le ons geestelik in die modder. Ek sien baie uit na Racheltjie de Beer. ‘n Verhaal oor ‘n edele daad sal ons almal ophef and weer laat moed skep. Ons ou volkie het iets moois nodig.

Therese van Schalkwyk ·

Dit klink werklik na ‘n móét kyk rolprent! Sien uit daarna.

Die feit dat Racheltjie de Beer al die jare as ‘n Suid-Afrikaanse kinderheldin voorgehou is, terwyl dit eintlik glad nie waar is nie, was vir my persoonlik ‘n ontnugtering en uiters teleurstellend.
Hoeveel ander leuens is só oorvertel? Het Dirkie Uys en Japie Greyling bv. regtig bestaan? Daar is darem wragtie ‘n verskil tussen ware heldedade en opbouende stories.
‘n Mens sou reken die destydse ‘onthulling’ van hierdie ‘bedrog’ sou ten minste ‘n ligte ophef veroorsaak, maar dit het ‘n stille dood gesterf.

Joesie ·

@Theresa, al dié stories is net Folklore. Niks fout daarmee nie.

Krummel ·

Ai tog, die beterwetende, alleswetende, navorsende verligte mens, wat nou tot die slotsom kom dat die verhaal nie die waarheid is nie. Is daar regtig soveel neergeskryf dat julle dit nou so kan analiseer om presies te weet wat gebeur het en nie gebeur het. Sou die verhaaltjie regtig aan ons opgedis wees vir soveel jare, as dit nie die waarheid is nie. En as dit dan nie was nie, waarom dit nie los vir ons vir wie dit kosbaar is nie. Elke afrikanerkind het dit vir dekades lank beleef as deel van sy Geskiedenislesse. Vir ons wat lief is vir ons volk se geskiedenis, was dit een van die mees aangrypende verhaaltjies in die laerskool geskiedenisklas. As die wat so slim is dan so niks voel vir dit nie, laat dit met rus sodat ons dit steeds kan koester. Die leuens wat vandag in Geskiedenis handboeke verkondig word van terroriste wat helde geword het, is soveel groter.

Pieter ·

Krummel, jy haal vir Theresa uit omdat sy haar weergawe op feite baseer terwyl jou eie geen basis in feite het nie. Dit maak jou argument die swakker een.
My eie opinie is dat dit ‘n verdraaing is van die werklike storie van Hazel Milner van Amerika. Die storie het hier vlam gevat nadat dit deur Eugene Preller oorgeskryf is ongeveer 1939 as Afrikaner feite. Voor daardie datum is daar geen bewys van die storie nie, en genealogie kan ook nie aantoon waar Racheltjie bestaan het nie.
Preller kon egter sy weergawe verkoop aan die publiek aangesien dit baie moeiliker was daardie tyd om die twee stories aanmekaar te koppel sonder die internet. Deesdae kan ons self navorsing doen en ons eie opinie vorm.
Hou by joune. Dit was ‘n inspirerende verhaal wat ek self op skool geleer het. Ongeag wat haar naam werklik was, Racheltjie of Hazel.

Therese ·

Ai tog, dit sal ‘n mens nou leer om maar liewer niks te sê meer nie.
Krummel verstaan nie dat ek net so ontstoke en teleurgesteld was soos hy/sy toe daar destyds in die pers geïmpliseer is dat “Racheltjie” nie ‘n ware Suid-Afrikaanse verhaal is nie.
Dit bly ‘n inspirerende verhaal, maar Suid-Afrikaners verdien om die waarheid te weet oor ware helde, al dan nie.
Lyk egter nie of dit Jan Publiek vreeslik pla nie, so alles sal voortaan met ‘n sak sout gelees moet word.

Krummel ·

@Theresa – Ek het eerlikwaar op geen moment na jou verwys in my skrywe nie. Dit was Pieter wat gemeld het dat ek jou uithaal. Ek het jou sentiment onmiddellik identifiseer en ek voel presies soos jy daaroor. Ek kan dit nie verklaar nie, maar dit was vir my baie traumaties dat dit blyk ‘n leuen te wees. Dit was wel vir my sleg dat jy ook nou die ander kinderhelde bevraagteken. Japie Greyling en Dirkie Uys val vir my egter in ‘n ander kategorie. Ek het onlangs ‘n artikel gelees dat ‘n skokkende 60% van mense nie vir 15 minute aanmekaar kan gesels sonder om te lieg nie. Ek het ook al onderwerpe nagevors op die Internet waar 2 bronne mekaar lynreg weerspreek. Ek het tot die slotsom gekom dat die Internet waarop almal so steun ook maar glad nie altyd so betroubaar is nie. Feit bly staan, Racheltjie se storie is ‘n inspirerende verhaal wat ‘n lewensles inhou. ‘n verhaal van opoffering, wat definitief ook deel geword het van my karaktervorming as mens wat homself opoffer ten koste van ander in nood.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.