Die nuwe rolprentweergawe van Dalene Matthee se klassieke verhaal Fiela se kind is vandeesweek te midde van groot opwinding op die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad, vertoon. Dié prent begin op 13 September in rolprentteaters landwyd draai.
Die 1988-weergawe van die boek, met Shaleen Surtie-Richards en Dawid Minnaar in die rolle van Fiela en Benjamin/Lukas, onthou baie mense nog met vreugde. Die jongste weergawe vertel dieselfde verhaal, maar op knetterend vars manier.
Soveel het trouens verander in ons wêreld sedert 1988 dat ʼn mens gewonder het oor die waagstuk om die verhaal nou weer vir die silwerdoek te takel. Die antwoord is eenvoudig: Hierdie is ʼn nuwe produk en vergelykings met die vorige rolprent is onnodig en teenproduktief: Die nuwe Fiela staan op haar eie bene.
Dit is veral twee vroue wat ʼn mens noop om na dié rolprent te kyk. In die rol van Fiela lewer Zenobia Kloppers ʼn onvergeetlike kragtoer en so ook Cindy Swanepoel as die bosvrou, Barta van Rooyen.
As vrou wat moet aanvaar van omdraai en stilbly teen ʼn wordende stelsel wat groter en ongenaakbaarder as haar moederliefde vir haar hanskind is, lewer Kloppers die diep oortuigde, skerp gebekte Fiela sterk spel.
Fiela is egter ook ʼn vrou wat foute maak, wat verloor as gevolg daarvan, wat die regte ding probeer doen en nie altyd daarin slaag nie. Sy is iemand wie se voorkeure en voorliefdes groot gevolge vir twee uiters verskillende gesinne inhou: die Komoeties van die Langekloof en die Van Rooyens van die Knysna-bos.
Kloppers lewer ʼn geskakeerde vertolking wat verseker dat Fiela voor en in ons oë ʼn geronde karakter is wat tot haar reg kom.
As die bosvrou Barta van Rooyen wie se driejarige kind, Lukas, jare tevore in die bos vol ruigtes en grootvoet-olifante weggeraak het, lewer Swanepoel ʼn geloofbare vertolking, byna onherkenbaar verwyder van die glanskarakter dr. Annelize Roux wat sy in die TV-sepie Binnelanders vertolk. Die rol van Barta vereis voortreflike liggaams- en gesigspel, want sy praat nie baie nie. Ook haar foute en voorkeure rig die lewensloop van die Komoeties en die Van Rooyens, en sy moet met die gevolge daarvan, en die wete van haar dade, saamleef in werklik taai gesinsomstandighede.
Is Barta swak of sterk, onderduims of welmenend? Dalk al hierdie dinge op verskillende tye en maniere. Swanepoel gee ʼn puik en ondernemende vertoning waarin sy die geleenthede in ʼn rol vol teenstrydighede voluit benut om die kaleidoskoop van haar talent te toon.
Die tempo van die rolprent is taamlik stadig, maar vir my was dit gepas, want baie word gesê deur die gelade, ongesêde tekstuur van die stiltes. Dit word dikwels ʼn ode aan die krag en binnespel wat magspel kan word in spesifiek die Klein-Karoo, waar stadige verloop, versweë bitterheid en ʼn onverbiddelikheid so hard soos die landskap spesifiek dikwels kruiskant van dieselfde munt is.
Fiela se kind is ʼn verhaal wat die konsepte van reg en verkeerd, die perke van moederliefde en die omvang van magswreedheid aan die bod bring. Wat van hierdie weergawe opval is die mate waarin bruin en wit newekarakters gelykmatig ontwikkel.
Wat is die rede vir Fiela se besluit om Benjamin op die oog af voor te trek, en wat is die reaksie en gevolge in die Komoetie-gesin? Wat vertel dit ons van familiegrond, oorerwing en magspel: daardie ingewikkelde driehoek waarmee ons land en ons mense nog altyd worstel? Wat is die impak op ʼn individuele gesinsverband wanneer liefde, wedywering en kompeterende toekomsdrome vervleg raak?
Een punt van kritiek op ʼn rolprent wat sy tydsgees andersins netjies vasvang, is die Afrikaans waarin uit die Bybel gelees word. Dit kon tog nie in daardie tyd nie.
Fiela se kind is een van vanjaar se rolprenthoogtepunte wat gehore sal verbly, uitdaag, verryk en laat wonder. Daar is min swak plekke in die rolverdeling, tegniese versorging en uiteindelike eindproduk. Gaan kyk gerus daarna.
Maroela hoe kan julle kommetaar verwag as die flim nog nie eens gedraai het nie en wat ek al agter gekom het is dat so ‘n indrukwekende film, wanneer hy weer verfilm word eintlik maar uiters swak en ‘n negatiewe beeld van die vorige film is en dat almal juis ook teleur getseld oor juis die film en die rubiek soos hierbo oor die film. Maar net my opinie.
Miskien is ek dom of agter die klim maar my opinie is waarom ‘n film maak van ‘n boek waaroor daar reeds ‘n film gemaak was? Dalene Matthee het soveel wonderlike boeke geskryf, waarom nie uniek wees en een van die ander boeke verfilm nie? Nuwe akteurs, nuwe vervaardigingsspan, selle ou storie. (Maar net my opinie – sal graag wil sien hoe geredelik dit aanvaar sal word)