[Resensie] Fliek: ‘Twee grade van moord’: Wat sou die liefde doen?

Twee grade van moord

Twee grade van moord

Enige gereelde Afrikaanse fliek- of teaterganger weet sommer as jy die name “Marius Weyers” en “Sandra Prinsloo” langs mekaar in ‘n produksie sien, kan jy maar moeite doen om dit te gaan kyk. Twee grade van moord is nie ‘n uitsondering nie.

Dié twee gesoute akteurs, wat saam in meer as 200 verhoogproduksies en 35 vollengte flieks gespeel het, was in 1989 laas saam op die grootskerm.

Prinsloo vertolk die rol van Aleksa Cloete, ‘n bekende Kaapstadse sielkundige met ‘n topverkoperboek wat haar intellektuele standpunt oor die liefde onderskryf. Weyers speel haar man, Ben.

Aleksa onderneem om deel te wees van ‘n dokumentêre werklikheidsreeks wat fokus op haar terapeutiese werk met vroue wat “liefde met pyn verwar”, en een van haar pasiënte, Tanya Basson (Hilda Cronje) stem in om die proefkonyn te wees.

Kraaie en duiwe speel ‘n groot rol in die fliek wat simboliek betref.

“As jy ‘n kraai teëkom, dan kan jy maar weet jy gaan buite jou bestaande omstandighede uitgedaag word,” verduidelik Prinsloo se karakter in die fliek. Byna elkeen van die karakters word met ‘n kraai gekonfronteer: ‘n uitdaging wat hulle nie verwag het nie, en onseker is hoe om dit te hanteer.

Ben boer met duiwe en kry twee “ondersteuners” vir sy posduif, Moses. Die twee ondersteuners noem hy “Aäron” en “Hur”, gebaseer op die Bybelse verhaal in Eksodus van dié twee mans wat Moses se arms weerskante in die lug moes hou. Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste, en wanneer sy hand gesak het, die Amelekiete.

Ben moet homself in sy lyding ook beroep op ‘n Aäron en Hur wat kan intree om simbolies sy arms omhoog te hou.

Tragedie tref die Cloetes en Tanya – maar op verskillende maniere. Aleksa moet ‘n groot besluit neem: “Wat sal die liefde doen?” – ‘n besluit wat haar verhouding met haar seun moontlik onherstelbaar kan laat verbrokkel; en Tanya se optrede verander haar lewe ook onherroeplik.

Twee grade van moord laat jou nadink oor wat jy self in die verskillende situasies sou doen: absolute onselfsugtigheid of algehele selfsug?

Daar bly egter talle onopgeloste vrae en die kyker moet self ‘n paar verhoudings en kwessies probeer uitpluis – veral aan die begin van die fliek, omdat daar nie enige agtergrond geskets word nie. Die kyker word as’t ware in die middel van die gebeure ingedruk en dan stap jy ‘n paar tree saam met hierdie groep mense – boonop moontlik deur die moeilikste tyd van hul lewe, voor jy weer uit die teater stap en hulle agter laat.

Dis egter nie steurend nie. Jy word genoeg inligting gebied om jou eie storie te vorm en die paar swaargewigte, waaronder ook Shaleen Surtie-Richards (wat die rol van Fy Abrahams vertolk), dra die verhaal.

Mens wonder byna of jy die fliek vir ‘n tweede keer moet kyk om, met die inligting wat uiteindelik openbaar word, van voor af te sien of daar fyner nuanses is wat jy dalk gemis het.

Hierdie kyker is net onseker oor die rede vir die aantal manlike agterstewes wat kaal in die rolprent te sien is, maar dankbaar dat daar (nie eintlik) enige vroulike naaktheid is nie.

Spesiale vermelding moet gemaak word vir die Jack Russel (Dot Jennings) wat die rol van “Dot Cloete” vertolk – dié woef kán toneel speel!

Gerrit Schoonhoven het die regie behartig en is ook vlugtig in ‘n kameerol te sien as ‘n lekeprediker voor die hof.

Twee grade van moord begin op 22 Julie landswyd in teaters draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.