Draaiboek: Corne van Rooyen, Rene van Rooyen (medeskrywer)
Regisseur: Corne van Rooyen
Vervaardigers: Dylan Voogt, Saskia Schiel, Vlokkie Gordon (uitvoerende vervaardiger), Corne van Rooyen (medevervaardiger), Rene van Rooyen (medevervaardiger).
Rolverdeling: Christia Visser, Edwin van der Walt, Louw Venter, Nicola Hanekom, Leandie du Randt, Viljé Maritz, Elana Afrika-Bredenkamp
Ouderdomsbeperking: 7-9 (Ouerleiding)
Datum van vrystelling: 26 Junie 2015
Daar is geen ander woord om Hollywood in my Huis te beskryf as magies nie. Lanklaas was daar ʼn fliek wat dinge soos jong liefde, hoërskool en matriekafskeid so eg uitgebeeld het soos dié fliek.
Hollywood in my Huis gaan oor Jana van Tonder (Christia Visser) wat kort voor haar matriekafskeid sien hoe Charlize Theron in 2004 haar Oscar-toekennings (Academy Award) wen. Jana besluit dan om haar eie matriekafskeidrok te maak.
Intussen probeer sy ook die moed bymekaarskraap om Brandon (Viljé Maritz), een van die gewildste ouens in haar skool, na die matriekafskeid toe te vra terwyl Jana se beste vriend, Frikkie (Edwin van der Walt), haar probeer vra om saam met hom te gaan.
Die romantiese komedie het verlede jaar reeds opslae gemaak tydens die Silwerskermfees toe dit met drie toekennings weggestap het. Hollywood in my Huis is egter nie die tipiese Afrikaanse romantiese komedie nie. Hoewel die storielyn in sy mees basiese vorm die ou bekende storie is van die beste vriend wat verlief raak op sy vriendin terwyl sy ʼn oog op iemand anders het, word dit hier vars en uniek aangebied.
Louw Venter en Nicola Hanekom is perfek in die rolle van die skreeusnaakse Tos en Beatrice van Tonder en die toneelspel tussen Christia en Edwin is net so oortuigend soos in Ballade vir ʼn Enkeling.
Corne betower met sy draaiboek en dit is duidelik dat hy met die draaiboek én die regie sy hart in die fliek gesit het. Dié fliek wys ook watse goeie kombinasie dit is wanneer die regisseur ook ʼn goeie draaiboek kan skryf.
Die storie gaan jou hartsnare roer, jou laat lag en terugdink aan jou eie skooldae en is ʼn plaaslike rolprent wat beslis die moeite werd is.
Loer ook gerus na die onderhoud met Francois Jacobs wat die rol van Tyres in Hollywood in my Huis vertolk.