[Resensie] Tainted heroes daag kykers se verwysingsraamwerk uit

AfriForum/Facebook

AfriForum/Facebook

Daar is ʼn vreemde vergelyking te tref tussen die pas vrygestelde film Tainted Heroes, en die bekende, klassieke storie uitgebeeld in die film The Lion, The Witch and The Wardrobe. In laasgenoemde ontdek vier kinders ʼn versteekte deur in ʼn klerekas, waardeur hulle ontsnap na ʼn wêreld wat hulle nie geweet het bestaan nie.

As ʼn mens na Tainted Heroes kyk, kry jy amper dieselfde gevoel. Jy leer ken ʼn wêreld – of minstens ʼn kant van die wêreld – wat voorheen vir jou grootliks onbekend was.

“Ontsnap” sou wel, in die geval van Tainted Heroes, ʼn onvanpaste beskrywing wees. Inteendeel: Dié film, ʼn eerste vir Forum Films, die burgerregte-organisasie AfriForum se filmproduksiehuis, konfronteer jou met feite waarmee jy liefs nie gekonfronteer sou wou wees nie. Dit vertel ʼn derde kant van ʼn bekende verhaal. Die meeste van ons lesers wat hierdie resensie lees, is waarskynlik goed vertroud met “ons” kant van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Te danke aan geskiedenisboeke en ʼn ANC-bewind is ons net so vertroud met die regerende party se kant van die land se geskiedenis. Maar die derde kant is die deel van die legkaart waarmee Tainted Heroes jou konfronteer.

Tainted Heroes is nie ʼn wit teenoor swart-verhaal soos ʼn mens vooraf verwag nie. As dié verwagting jou sou keer om die film te gaan kyk, wees dus gerus dat dit nie net nóg ʼn stuk “wit propaganda” is nie.

Die film skets die prentjie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis vanaf die Soweto-studenteopstande in 1976, tot na die inhuldiging van oudpresident Nelson Mandela in 1994. Die ANC se “people’s war”-strategie kom veral onder die loep. Beeldmateriaal, getuienisse, verhale en statistiek in die film vertel die storie van gewelddadige aanvalle op mededingende bevrydingsorganisasies soos Inkatha, die Black Consciousness Movement, die PAC en Azapo – alles met die doel om die ANC as die alleenverteenwoordiger van swart mense te vestig.

Die term “dokumentêr” is gepas; tog ook onvanpas. Hoewel die film ʼn stuk geskiedenis in dokumentêre styl uitbeeld, is daar nie sprake van ʼn feitelike in oënskou neem soos normaalweg die geval is met ʼn dokumentêre produk nie. Daarvoor is die grafika, videomateriaal en meesleurende “storielyn” te werklik en skokkend.

Tog kry Forum Films dit in Tainted Heroes reg om die kyker nie te oorweldig met emosie en skokkende tonele nie. Die fokus is op kwaliteit onderhoude met geloofwaardige persone soos Strike Thokoane (ʼn leier van die Black Consciousness Movement en adjunkpresident van Azapo), Anthea Jeffery (outeur van die boek People’s War, New Light on the Struggle for South Africa, waarop baie van die inligting in die film gebaseer is) en Tony Leon (voormalige leier van die DA). Infografika en die stem van die verteller verseker dat die kyker se aandag bly by die harde feite. Slim videoredigeringstegnieke verseker dat die dikwels grafiese en skokkende videomateriaal uit die tydperk 1976 tot 1994 (waarvan baie nog nooit gesien is nie) die kyker op ʼn effense afstand hou; terselfdertyd werk dit vindingryk met beeldmateriaal wat, weens die ouderdom daarvan, nie van goeie gehalte is nie.

Tainted Heroes bly ʼn mens by en laat jou wakker lê. Nie weens die ontstellende en donker aard daarvan nie, maar weens die feite waarmee jou verwysingsraamwerk gekonfronteer word.

Forum Films kan hulself op die skouer klop met dié eerste produk uit hul ateljees. Met ʼn tema soos hierdie kon hulle baie maklik in die slaggat trap om lesers te manipuleer met emosie en melodrama, maar dis glad nie die geval nie – inteendeel: die film hou die kyker op ʼn professionele afstand.

Die regisseur van die film, Elrich Yssel, verdien spesiale vermelding. Onthou gerus dié talentvolle jong man se naam.

Tainted Heroes gaan sonder twyfel wye kritiek en uiteenlopende menings ontlok, en ek glo dis presies wat hulle hiermee wou bereik. Selfs dié wat dit kyk en nie met die standpunte daarin saamstem nie, sal moet erken dat hulle minstens tot ʼn mate anders dink oor ʼn “bekende” stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis.

  • Tainted Heroes se ouderdomsbeperking is 18. Die film bevat baie ontstellende en grafiese beeldmateriaal en moet liefs nie deur sensitiewe kykers gekyk word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frank ·

Goed gedoen Afriforum! Gebruik die mees kragtigste medium om ‘n verskil te maak nl. film. Hoop ons sien nog BAIE hiervan!

Gerhardt ·

Susan, ek voel jy veralgemeen bietjie deur te sê lesers ken nie daai derde kant nie, so asof ons naief min weet van die ANC en struggle dae. Bv Baie van ons weet bv van “Camp Quatro” en ANC strafkampe in Angola. Ons weet bv Zuma het self mense ter dood veroordeel. Ons weer van rebelies in daai kampe. Ons onthou “Shell House”. So vir my is min in “Tained Heroes” ‘n skok of nuwe insig, maar ek is baie baie bly Afriforum het die fliek laat maak. En ek is jonger as wat jy hieruit vermoed. Google is ‘n vriend en Praag kan nogal sulke geskiendenis mooi uitwys.

Susan ·

Dagsê Gerhard, ek neem kennis. Dalk sou dit meer akkuraat gewees het om te sê “die breë publiek”, want ek dink wel die gemiddelde man op straat ken min van die inligting in die film. Dis immers waarom die film gemaak is. Groetnis!

Andre ·

Dit is ‘n baie goeie film, boeiend, realisties en akkuraat so ver my eie kennis van daardie tyd strek. Wel gedaan AfriForum. Die geskiedenis mag nie verdraai word nie, maar moet in sy totale harde werklikheid vertel word. Dis al hoe mens daaruit gaan leer.

Attie Snyman ·

Alhoewel ek nie die film gesien het nie, sal ek graag ‘n onafhanklike resensie van filmkundiges buite die Solidaritetgroepering (en Maroela Media) daaroor wil lees. Ek saal graag ook die film wil sien. My onderstaande kritiek handel nie oor die film of inhoud daarvan as sodanig nie, maar oor onduidelikheid in die resensie.
Susan Lombaard maak egter ‘n fout in haar resensie dat: “…daar nie sprake is van ‘n feitelike in oenskou neem soos normaalweg die geval is met ‘n dokumentere produk nie”. Enige historiese dokumentere film, juis in die geval van Tainted Heroes, word altyd feitelik begrond. Die historiese gebeure (feitelike) moet dus in oenskou geneem word en vorm juis die basis en storielyn van enige historiese dokumentere film. Grafika, videomateriaal (skokkende argiefmateriaal en onderhoude) navorsing, draaiboek en redigering bepaal egter die struktuur en aanbiedingstyl van enige dokumentere film. Al voorgenoemde geintegreerde produksie-elemente bepaal die kwaliteit en sukses van enige dokumentere film, ongeag die dokumentere filmgenre. Tainted Heroes voldoen waarskynlik aan al hierdie vereistes, veral ten opsigte van die historiese dokumentere film en is daarom geslaagd. Sonder ‘n feitelike of historiese oenskou sou Tainted Heroes nie ‘n sukses gewees het nie. Hou so aan Forum Films

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.