Resensie: ‘Turning Red’ bekyk grootword deur ander lens

Die plakkaat van Turning Red (Foto: verskaf)

Walt Disney en Pixar Studios se jongste animasierolprent, Turning Red, is ’n verhaal van mondigwording wat die koppe om al die regte redes sal laat draai.

Kinderlike verbeelding sal aan die dag gelê moet word, maar met ’n titseltjie begrip sal volwassenes dié animasierolprent uit dié ateljee, wat ook die gewilde Inside Out opgelewer het, saam met hul kinders geniet.

Dit handel oor 13-jarige Meilin “Mei” Lee, ’n Chinees-Kanadese meisie wat worstel met die werklikheid van grootword, die druk wat deur haar familie op haar geplaas word en die balans tussen die dinge van ’n tiener en familieverpligtinge.

Die kinkel in die kabel is egter dat Mei nie ’n normale 13-jarige is nie. Wanneer die emosies van die meisie begin oorborrel, verander sy in ’n verskriklike dog skattige rooi pandabeer, en soos dit nou maar is met tieners, gebeur dit dikwels.

Mei se skielike verandering is egter geensins uniek nie, maar sy is die een wat aan ’n nuwe hoofstuk in die familie se boek hieroor moet skryf.

Mei floreer egter in haar rooi gewaad, en sukkel om ’n lewe daarsonder in te sien.

Sy het drie beste vriendinne, wat natuurlik regdeur die rolprent ’n yslike rol in Mei se lewe speel. Die kattekwaad en manewales waarmee die vier vorendag kom, kan jou dalk net aan jou eie tienerjare herinner.

As mens deur die amper ongelooflike verandering grou, kom mens met gemak agter dat die yslike rooi pandabeer ’n metafoor vir die ware self is. Dan sien jy eintlik iets wat jy moontlik in jouself ook kan identifiseer. Daardie werklikheid dat jy nie aan elke vereiste hoef te voldoen nie, dat jou boksie nie noodwendig dieselfde lyk as die mense rondom jou s’n nie.

Die rolprent bied heerlike kykgenot vir die jongspan wat op die vooraand van tienerskap staan. Hulle sal alte graag hul oë op die dierbare rooi pandabeer wil hou.

Dit bied egter ook ’n bietjie selfondersoek vir ma en pa wat dalk noodgedwonge die rolprent saam gaan moet sit en kyk.

Turning Red is ’n heerlike familievriendelike rolprent wat oor selfuitdrukking, -ontdekking en druk handel wat deur die hele gesin geniet kan word.

Mei Lee word vertolk deur Rosalie Chiang en Sandra Oh van die Grey’s Anatomy-faam het haar stem aan Mei se ma geleen.

Die fliek sal op 11 Maart vanjaar in teaters landwyd te sien wees.

Kyk na die lokprent van die rolprent hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.