Rolprentfees vier mense, stories   

Jozua Malherbe, Rolanda Marais, Donnalee Roberts en Ivan Botha by die bekendstelling van “Beurtkrag”. (Foto: Maroela Media)

Terwyl genooide gaste Woensdag by The Bay Hotel in Kampsbaai vir die tiende kykNET Silwerskermfees opgedaag het, kan fliekvlooie hierdie jaar ook aanlyn inskakel.

Die kykNET Silwerskermfees word vanjaar vir die eerste keer in ʼn byderwetse hibriede formaat aangebied. Rolprente wat in die Rotunda, die fees se hoofvenue, vertoon word, kan gelyktydig op die Silwerskermfees se webwerf gestroom word. Op dié manier bou die fees voort op sy visie om verskeie aspekte van die plaaslike rolprentbedryf te ondersteun en te ontwikkel.

Volgens Waldimar Pelser, direkteur van kykNET-kanale by M-Net, gaan die fees egter nie net oor die bevordering van die plaaslike rolprentbedryf nie, maar ook oor die viering van mense en hulle stories.

“As iemand vra wat die besigheid is van die tiende kykNET Silwerskermfees, dan is dit dít: om die vertel van stories te vier en te stimuleer by ʼn eg Suid-Afrikaanse, Afrikaanse rolprentfees.”

Ivan Botha, Donnalee Roberts, Rolanda Marais, Jozua Malherbe, Nicole Fortuin en Jarrid Geduld is van die bekendes wat Woensdagaand ʼn draai op kykNET se blou tapyt gemaak het.

Donnalee Roberts en Ivan Botha. (Foto: Maroela Media)

Botha en Roberts se jongste rolprent, Beurtkrag, het Woensdag saam met Indemnity ʼn première gehad en kom vir die Silwerskerm-toekennings in aanmerking. Ander rolprente wat in die kategorie vir vollengte rolprente meeding is Barakat, Down so Long, Gaia, Kaalgat Karel, Klein Karoo 2, Stiekyt en Vlugtig.

Die fees se kortfliekprojek het vanjaar 17 flieks van 22 minute elk ontwikkel, wat ook vir Silwerskerm-toekennings in aanmerking kom. Die toekennings word Saterdag tydens ʼn spoggeleentheid by The Bay Hotel uitgedeel.

Ander hoogtepunte waarna kykers kan uitsien is verskeie paneelbesprekings, meesterklasse asook internasionale sprekers. Karen Meiring en Jan du Plessis word op vanjaar se fees ook vereer vir die sleutelbydrae wat hulle gespeel het in die ontstaan en sukses van die fees.

(Foto: Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.