SA akteur deel van nuwe ‘Lion King’-fliek

Die rolverdeling vir die nuwe “werklikheidsweergawe” van The Lion King (Foto: Twitter)

ʼn Gesoute Suid-Afrikaanse akteur tel onder die rolverdeling vir die nuwe “werklikheidsweergawe” van The Lion King wat Donderdag vir die eerste keer bekend gemaak is.

Walt Disney Studios het vroeër verlede maand aangekondig dat hy dié fliek saam met die regisseur Jon Favreau gaan aanpak.

Dié rolprentreus het Donderdag bevestig dat John Kani die rol van Rafiki in die nuwe fliek sal speel. Kani is veral bekend vir werke soos Nothing but the Truth, The Ghost and the Darkness en So ry Miss Daisy saam met Sandra Prinsloo.

Die veelbekroonde Amerikaanse sangeres Beyoncé gaan ook in dié fliek te sien wees as die karakter Nala. Dié sangeres het al 17 Grammy-toekennings ontvang en is ook al vir verskeie toekennings vir haar rolprentwerk benoem, onder meer ʼn Golden Globe-toekenning vir haar rol in Dreamgirls.

Die ander rolle sal vertolk word deur Donald Glover (Simba), James Earl Jones (Mufasa), Chiwetel Ejiofor (Scar), Alfre Woodard (Sarabi), John Oliver (Zazu), Seth Rogen (Pumbaa), Billy Eichner (Timon), Eric Andre (Azizi), Florence Kasumba (Shenzi), Keegan-Michael Key (Kamari), JD McCrary (die jong Simba) en Shahadi Wright Joseph (die jong Nala).

Dié verwerking volg ná die deurbraak van The Jungle Book waarvan Favreau ook die regisseur was. Dié fliek is in April vrygestel en het wêreldwyd $965,8 miljoen verdien. Dieselfde verwerking van Beauty and the Beast, waarin akteurs soos Emma Watson en Dan Stevens te sien is, het tydens sy openingsnaweek nagenoeg $350 miljoen by die loket verdien.

Volgens Disney is The Lion King (1994) een van die grootste animasieflieks ooit en het dit wêreldwyd meer as $968,8 miljoen by die loket verdien.

Die fliek het destyds Oscar-toekennings ontvang vir die oorspronklike lied “Can You Feel The Love Tonight” (Elton John, Tim Rice) en oorspronklike klankbaan (Hans Zimmer), asook twee Grammy-toekennings. Meer as 14 miljoen eksemplare van die klankbaan is verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.