SA film kry internasionale erkenning

Kai Luke Brummer vertolk die rol van Nicholas in “Moffie” (Foto: Facebook)

Die rolprent Moffie is die vierde Suid-Afrikaanse rolprent ooit en die eerste een in 76 jaar wat ʼn amptelike uitnodiging na die Venesiese filmfees ontvang het. Die film het ook onlangs drie benoemings by die British Independent Film Awards (Bifa) verower.

Moffie is die tweede rolprent deur die Suid-Afrikaanse regisseur Oliver Hermanus. Dit het benoemings vir beste regisseur, beste deurbraakvervaardiger (Jack Sidey) en beste kinematografie (Jamie D Ramsay).

Dit is gegrond op ʼn gelyknamige boek deur André Carl van der Merwe.

Hermanus het aan Maroela Media vertel dat hulle glad nie verwag het om so goed ontvang te word nie.

“Dit voel só goed. Ons is opgewonde om deel van ʼn rolprent te wees wat dié soort erkenning kry. Om nominasies by Bifa te kry is ʼn groot een vir ons. Dit oortref ons wildste drome,” sê hy.

Moffie speel in 1981 af en handel oor Nicholas, ʼn jong man, wat soos talle ander mans in daardie tyd, twee jaar van diensplig moet voltooi. Nicholas weet al lank hy is anders en dat daar iets aan hom is wat skandelik en onaanvaarbaar is – iets wat hy ten alle koste moet versteek en ontken.

“Dit gaan oor ʼn jong man in daardie twee jaar van sy lewe en die uitdagings wat daarmee saamkom, en dat hy moet sin maak van sy seksualiteit,” sê Hermanus.

Oliver Hermanus (Foto: Verskaf)

“Dit gaan ook oor die trauma van tieners wat in daardie tyd geïndoktrineer is, en om te verstaan hoe wit mans in Suid-Afrika gevorm is.”

In September is Moffie, wat vervaardig is deur Portobello Productions en Penzance Films, met groot lof ontvang by die filmfees in Venesië, waar dit vir die eerste keer aan die wêreld bekendgestel is.

Moffie is van meet af positief ontvang en Variety het dit bestempel as ʼn “Oliver Hermanus-meesterstuk”. Die film is ook ingesluit by die Thessaloniki-filmfees in Griekeland en die Stockholm-rolprentfees in Skandinawië. Dit sal ook in Skotland, Ierland, Marokko en selfs Estonië vrygestel word, voordat dit op 13 Maart 2020 in plaaslike bioskope te sien sal wees.

ʼn Vertoning van Moffie by die Londen-rolprentfees – waar dit benoem is as beste rolprent – was verlede maand uitverkoop.

“Om erkenning te kry is ʼn eer en ʼn ware mylpaal vir die fliek. Ons het ʼn wonderlike span gehad wat hieraan gewerk het en om op hierdie manier gevier en erken te word, is waarlik ongelooflik.

“Die wêreld is baie nuuskierig oor hierdie rolprent,” sê Hermanus.

Hermanus kom van Montana in Kaapstad en het aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Hy het later sy meestersgraad aan die Londense Filmskool behaal

Ludwig Baxter, Shaun Smit en Hendrik Nieuwoudt in “Moffie” (Foto: Facebook)

Hermanus vertel dat dié film op talle plekke in die Wes-Kaap verfilm is, met sekere tonele wat in Caledon, Wellington, Hopefield en Simonstad afspeel.

“Die fliek is sielvol en emosioneel en ek hoop dat gehore hulle daarmee sal kan vereenselwig. Sommige kykers sal heel moontlik herinner word aan hul eie tyd in die weermag,” sê Hermanus. “Dit was tot dusver verbasend om te sien hoe die rolprent oud-SAW-veterane vir die eerste keer aanmoedig om oor hierdie tydperk in hul lewe te praat.”

Kai Luke Brummer, Hilton Pelser, Matthew Vey, Stefan Vermaak en Ryan de Villiers vertolk almal rolle in die fliek.

Hermanus sê hy, en al die ander benoemdes, sal die Bafa-toekenningsgeleentheid bywoon wanneer dit op 1 Desember in Londen plaasvind.

Moffie begin op 13 Maart 2020 in plaaslike bioskope draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.