SA fliek ding ook in Beijing mee

krotoa

Crystal-Donna Roberts as Krotoa. (Foto: Verskaf)

Krotoa, die veeltalige Suid-Afrikaanse rolprent wat op verskeie rolprentfeeste erkenning gekry het, is genooi om deel te neem aan die agtste internasionale rolprentfees in Beijing in China. Die fliek sal ook op dié fees meeding om ’n gesogte Tiantan-toekenning.

Wenners vir dié pryse word gekies uit tien verskillende afdelings, insluitend beste speelfliek, beste regisseur, beste akteur en beste aktrise.

Crystal-Donna Roberts, wat die rol van Krotoa vertolk, is onlangs met ’n Safta-toekenning vereer as beste aktrise vir haar aangrypende vertolking van dié vergete heldin.

“Dit is my eerste toekenning en dit is ’n groot voorreg om erkenning te kry vir wat ek doen, al het die rolprent nogal baie omstredenheid uitgelok,” het Roberts gesê. Sy is binnekort te sien in Mense Mense, die nuwe kykNET-komediereeks.

Roberts gaan saam met Armand Aucamp, wat gehore beïndruk het met sy vertolking van Jan van Riebeeck, asook Roeline Daneel (Maria van Riebeeck), Ernest St. Clair (Doman) en regisseur en vervaardiger, Roberta Durrant, die glansgeleentheid in Beijing bywoon.

“Ons is baie opgewonde oor die benoeming en in ons noppies dat die organiseerders bereid is om my en vier van die akteurs af te vlieg en te huisves gedurende die fees,” het Durrant gesê. “Dit is ’n riem onder die hart dat Krotoa steeds soveel belangstelling prikkel en dat haar storie sodoende, deur middel van hierdie feeste, met die wêreld gedeel word.”

Roberts het bygevoeg dat sy uitsien daarna om buitelandse kykers se reaksie op die fliek eerstehands te ervaar. “Dit is ’n baie opwindende geleentheid, want die fliek was al deel van soveel rolprentfeeste reg oor die wêreld, maar ons kon dit nog nooit bywoon nie en nou kan ons uiteindelik gaan.”

Die drama, uit die pen van Kaye Ann Williams en Margaret Goldsmid, vertel die ware verhaal van ʼn dapper Khoi-prinses wat van haar stam weggeskeur word om vir Jan van Riebeeck, die eerste goewerneur van die Kaapse kolonie en haar oom se handelsvennoot, te gaan werk.

Sy word na die eerste fort, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie gevestig is, geneem waar sy grootword as ’n visionêre jong vrou wat die Nederlandse taal en kultuur so goed verstaan dat sy ’n invloedryke tolk word vir Van Riebeeck, die eerste goewerneur van die Kaapkolonie.

Krotoa word egter op die ou einde deur haar eie mense verwerp en deur die Hollanders vernietig wanneer sy probeer om ’n middeweg tussen die twee kulture te vind.

Buiten vir die prestasies wat plaaslik behaal is, spog die fliek reeds met agt internasionale toekennings en talle benoemings deur verskeie rolprentfeeste. Die fliek is ook gekies as die openingsprent vir die galageleentheid van die Toronto South African-fliekfees in Oktober verlede jaar.

Die Beijing-fees vind van 15 tot 22 April plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Ek het Daleen Matthee se boek (Pieternella van die Kaap) gelees wat ook hierdie storie vertel. Dit was aangrypend. Ek wil graag die fliek gaan kyk.

Karien ·

Ek het nie krag vir n fliek wat net nog petrol op die vuur gooi in ons land waar spanning oor wit en swart en apartheid en onderdrukking n sensitiewe kwessie is nie. Al ons klomp wat veeantwoordelik was vir apartheid en alles wat daarmee gepaart gaan is nou al stokoud en op pensioen of oorlede, maar ons wat niks daarmee te doen gehad het nie en ons kinders en kleinkinders moet die gevolge dra en dan ways hulle nog sulke flieks wat spanning in die land net kan vererger. Sal ons ooit vorentoe kan beweeg hulle bly karring aan die verlede?

Is dit so? ·

Ek verstaan dat in die fliek word Jan van Riebeeck sommer ook as verkragter uitgebeeld.

Is dit nie ‘n onnodig artistieke verbeeldingsvlug wat haat aanblaas nie?

Hoe kan regdenkende akteurs hulself met so ‘n walglike verdraaiing van die geskiedenis vereenselwig?

Lynette Schultz ·

O, die ironie. ‘n Verhaal oor die ‘skending van menseregte’ ding mee by ‘n rolprentfees in Beijing, China. Dieselfde China waar Tiananmen-plein is, dieselfde China waar geen ‘menseregte’ bestaan nie. Die Keiser was nog nooit so kaal nie, maar die massas wil tog net nie dom en ongeleerd voorkom nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.