SA se eerste Western skitter by die loket

five fingers for marseilles

Five Fingers for Marseilles. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika se eerste Western-fliek, Five Fingers for Marseilles, is verlede Vrydag in fliekteaters landwyd vrygestel en het skoonskip gemaak by die loket.

Die fliek, met Vuyo Dabula in die hoofrol, het ʼn beduidende debuut by die loket gemaak en meer as R500 000 in kaartjieverkope tydens sy openingsnaweek verdien.

Die fliek was nommer een by die Rosebank Nouveau-fliekteater in Johannesburg. By teaters soos Sterland, Loch Logan en Newtown het fliekgangers ook die splinternuwe Western verkies bo Hollywood-flieks soos Black Panther en Acrimony.

“Ons het hoë verwagtinge vir die fliek gehad,” het Helen Kuun, hoof van Indigenous Film Distribution, gesê. “Ons het van die eerste vertonings af geweet die fliek is spesiaal. Dit gaan alles oor fantastiese storievertelling en ʼn ongelooflike rolverdeling.”

Om te voldoen aan die openbare vraag na die fliek sal nog vier teaters by die lys gevoeg word waar dié baanbrekersfliek te sien is. Dit sal vandeesweek op grootskerms by Festival Mall in Kempton Park, Sandton City, Vaal Mall in Vanderbijlpark en Mimosa Mall in Bloemfontein begin draai.

(Foto: ANA)

Die hoëspoed-aksiefliek sal ook van 7 September af in die VSA vertoon word, waar dit eers in New York en Los Angeles ten toon gestel sal word. Die fliek sal dan na nog 15 Amerikaanse stede versprei word.

Nadat die fliek in die VSA vertoon is, sal dit ook in Japan en Skandinawië bekendgestel word. Dit sal beskikbaar gestel word op Amazon Prime, Amazon se eksklusiewe video-op-aanvraag-stromingsdiens wat die fliek se gehore wêreldwyd nog verder sal uitbrei.

Die draaiboek vir Five Fingers for Marseilles is geskryf deur Sean Drummond en vertel die verhaal van ʼn groep jong mans, die Five Fingers, wat opstaan teen polisiebrutaliteit en onderdrukking in Marseilles, ʼn dorp in die ruwe “badlands” van die Oos-Kaap.

Tau, een van die Five Fingers, vermoor twee polisiebeamptes en word tot 20 jaar tronkstraf gevonnis. Wanneer hy vrygelaat word, kom die verbitterde “Leeu van Marseilles” agter sy kamerade is almal nou in prominente posisies op die dorp. Daar is ook ʼn nuwe bedreiging wat kop uitsteek, wat Tau noop om die Five Fingers te hervorm om saam met ou bondgenote nuwe vyande aan te vat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ongetemde Dierbare ·

Sal graag wil sien, solank daar geen rassistiese onder- of botone in is nie.

Net regstelling, hd is nie regtig SA se eerste western nie. Die 1970 “Three Bullets for a Long Gun” met Beau Brummel is waarskynlik die eerste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.