‘Semi-Soet’-akteurs hou aanlyn reünie

Van links na regs: Louw Venter, Paul du Toit, Sandra Vaughn, Anel Alexander, Diaan Lawrenson en Nico Panagio bied op Saterdag 30 Mei ‘n aanlyn reünie aan ten bate van die Teater Bystandsfonds. (Foto: Facebook via Sandra Vaughn)

Byna agt jaar gelede het die rooikop-aktrise, Anel Alexander, as die werkholis Jaci van Jaarsveld en die hartebreker, Nico Panagio, as die model JP Basson in die romantiese komedie Semi-Soet fliekgangers in teaters landwyd laat snik en skater.

Nou gaan dié twee geliefde akteurs saam met mede-akteurs Sandra Vaughn, Diaan Lawrenson, Louw Venter, Corine du Toit en Paul du Toit ʼn Semi-Soet-reünie aanlyn aanbied om geld in te samel vir die Teater Bystandsfonds (TBF).

Die Teater Bystandsfonds is ʼn niewinsgewende organisasie wat mense uit alle sektore van die kunstebedryf ondersteun.

Alexander is tans in Suid-Afrika om te skiet aan ʼn nuwe produksie terwyl haar man, James, onlangs uit Los Angeles in Suid-Afrika aangekom het. Vaughn, medeskrywer van Semi-Soet wat die rol van Karla Jordaan vertolk, verklap dat die reünie baie pret vir aanhangers van die fliek inhou.

Louw Venter en Sandra Vaughn as Hertjie en Karla in ‘Semi-Soet’. (Foto: Verskaf)

“Mense het nou die geleentheid om vir ons goed te vra waaroor hulle nog altyd gewonder het. Ons gaan baie gesels oor wat agter die skerms gebeur het, ons gaan ʼn hele klomp staaltjies vertel en geheime verklap. Ons gaan selfs ons oorspronklike oudisies wat in 2011 opgeneem is, wys,” sê Vaughn oor die reünie.

“Ek sou byvoorbeeld nooit die rol van Karla vertolk het nie. Toe ek die karakter geskryf het, het ek haar geskoei op een van my beste vriendinne en ons wacky vriendskap. Joshua Rous, wat destyds die regisseur was, het gesê ek moet inkom vir die oudisies. Ek het gedink hy bedoel ek moet kom help die dag, maar toe ek daar aankom, moes ek ʼn oudisie aflê vir die rol – en daar kry ek dit! Ek was só opgewonde.”

Anel Alexander en Nico Panagio destyds op die stel van ‘Semi-Soet’. (Foto: Verskaf)

Dit is die soort staaltjies wat hulle gaan vertel, sê Vaughn. Sy lag wanneer sy vertel die toneel waar die vark die hoofkarakters deur die wingerd jaag, is geskoei op ʼn werklike gebeurtenis in haar eie lewe. “Anel-hulle lag gereeld vir my, want baie van die goed waaroor ek skryf, het in die regte lewe met my gebeur.”

Die vertoning is 90 minute lank en die groep is al vir ʼn paar dae besig met voorbereiding. “Ons het so gelag, want ons almal is gewoond daaraan om goeie beligting te hê wanneer ons voor die kameras is. Ek dink ek het nou sewe ligte rondom my opgestel!” lag Vaughn.

Dit sal ook die enigste keer wees dat dié reünie te sien sal wees. “Sodra ons vlak drie van die landwye afsondering ingaan, gaan ons almal weer met ander projekte in verskillende rigtings spat.”

Die span van die gewilde rolprent is tans hard besig met die skryf en vervaardiging van Semi-Soet 2.

Die Semi-Soet-akteursreünie is op Saterdag 30 Mei om 19:00. Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

antieke antie ·

klink baie goeie idee en ek is jammer maar ek sal nie dit kan bekostig nie…. dankie dat ons julle talente soms kan geniet… sal probeer die nuwe semi-soet gaan kyk

Chantel ·

Ek het hierdie Afrikaanse fliek baie geniet, vandag steeds gebruik beide ek en my dogter die frase wat gebruik was in die fliek ” bye byt hulle steek nie.” Lekker gelag in die fliek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.