Shaleen speel Fiela nou met ‘meer diepte’

Vian Singleton, Shaleen Surtie-Richards en Phillru van Achterbergh (Foto: Verskaf)

Die aktrise Shaleen Surtie-Richards sê hoewel sy meer as drie dekades gelede in die trefferfliek Fiela se kind te sien was, bly die rol van dié karakter steeds een van haar gunstelinge.

Surtie-Richards, wat saam met Lefra Produksies dié produksie vir die derde keer na die verhoog bring, sê persoonlike groei in haar loopbaan kan egter vandag help dat sy dié rol nou met meer diepte as voorheen vertolk.

“Ná al die jare sien ek vreeslik uit om weer die karakter van Fiela te speel en kan nie wag om weer op die verhoog te kom met hierdie lekker rol nie,” sê sy. “Die oomblik as ek die kopdoek aansit, word ek Fiela. Ek het Fiela 30 jaar gelede gespeel, maar dis werklik asof niks verander het nie. Ek is seker ek speel nou die rol met baie meer diepte as 30 jaar gelede.”

Die aktrise sê haar “kinders” – die akteurs Vian Singleton wat die rol van die jong Benjamin vertolk en Phillru van Achterbergh wat die ouer Benjamin vertolk – het diep in haar hart kom nesmaak.

“Ek het vir die regisseur, Frans Swart, van die begin af gesê hy moet baie seker maak van die kinders. Vandag kan ek sê hy het beslis seker gemaak, want dis twee ongelooflike talentvolle akteurs.  Die jonger een, Vian, is ongelooflik talentvol. Hy is maar 11, maar jy kan wragtag nie glo die seuntjie kan só emosioneel speel nie. Elke aand as ek hom bad, dan sien ek hoe kom die traantjies, en ag, dan huil ek ook.

“Die ouer Benjamin is nou vir jou ʼn aantreklike jong man. Hy speel my ook elke aand in trane in. As  hy vir my sê hy het nog die vyf sjielings wat ek vir hom gegee het, dan loop die trane. Ek dink albei speel die rolle ongelooflik eerlik en dit is juis waarom die stuk so geloofwaardig is,” vertel sy.

Fiela se kind is van 22 tot 26 Augustus (elke dag om 11:00 en 19:30) in die Baxter-teater in Kaapstad te sien.  Kaartjies is beskikbaar op Computicket. Skoolgroepe kan afslag kry en kan Monica bel by 011 815 300 of ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niccy ·

Ai Shaleen jy klim sommer diep in my hart ook in. Ek sal soo daarvan hou om net te sit en luister as jy praat van al jou karakters wat jy al gespeel het. Jy leef jouself so uit daarin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.