Silwerskerm 2018: Hier is vanjaar se kort-kortflieks

Hannes Brümmer, Christel van den Bergh, Lida Botha en Pulane Sekepe in 'n toneel uit "'n Kombi, kameelperd en 'n camcorder".

Hannes Brümmer, Christel van den Bergh, Lida Botha en Pulane Sekepe in ‘n toneel uit “‘n Kombi, kameelperd en ‘n camcorder”.

Die kykNET Silwerskermfees word vanjaar vir die agtste keer in The Bay Hotel in Kampsbaai aangebied en vanjaar se rolprente bied ʼn verskeidenheid van vermaak vir fliekgangers van alle ouderdomme.

Die flieks is in drie kategorieë verdeel: kort-kortflieks, kortflieks en vollengte flieks. Só lyk vanjaar se lys kort-kortflieks.

‘Grys’ (drama)

Ná die dood van sy ma leef Xander, ʼn tiener, en sy pa, Dirk, verby mekaar. Elkeen rou op sy eie manier. Xander probeer vasklou, Dirk probeer weggee. Tuis is Xander alleen en die stilte is oorweldigend. Daar is ʼn klop aan die deur en sy vriend Phillip bied ʼn skouer.

Hy is op soek na wie Xander eens was. Op minder bekende plekke vind Xander ontvlugting in iets wat hul verhouding met mekaar vir altyd sal verander. Die fliek bied ʼn intieme uitbeelding van ʼn familie se unieke manier van kommunikeer. Met Luka Geldenhuys, Ben Albertyn en Geon Nel.

‘Die leeftyd van ʼn orgidee’ (drama)

Ben is in rou gedompel nadat sy geliefde vrou, Emma, sterf. Emma se kweekhuis, gevul met ʼn indrukwekkende orgidee-versameling, is al wat vir Ben troos verskaf. Hy probeer gevolglik obsessief die plante lewendig hou, maar hy is onkundig en onbeholpe en die orgideë sterf een vir een. Ben begin die dooie orgideë oral wegsteek; ʼn geheime versameling van sy verlies.

Die kyker volg Ben en sy hond deur die dae en maande wat verbyflits. Ben noteer sorgvuldig elke dag wat hy alleen moet bestaan. Sy wêreld word al hoe kleiner, totdat hy een nag tydens ʼn droom ʼn gewaarwording het wat as sleutel dien tot sy uitkoms. Met Wilson Dunster en Jana Cilliers.

‘ʼn Sterrejag’ (drama)

Daniel, ʼn avontuurlustige seun, word daagliks betower deur ʼn storie van ʼn towenaar, ʼn held en ʼn draak op die maan. Dié storie speel af teen die muur van sy buurman, Jacob, se huis in die vorm van ʼn skadupoppespel. Wanneer dinge op ’n dag skeef loop en dit lyk of sy skadu-avontuur bedreig word, moet Daniel al sy moed bymekaar skraap en alles in sy vermoë doen om sy storie te red. Met Ian Roelofs en Lochner de Kock.

Luan Jacobs van Ballade vir ʼn enkeling-faam is die regisseur.

‘Kromkieriefontein’ (animasie)

Op die dorpie Kromkieriefontein is alles krom. Niemand durf oor die rede praat nie en niemand mag die burgemeester, Meneer Asvaal, se bevel in 1982 bespreek nie. Almal loop gehoorsaam en gedwee met hangskouers en ʼn gefokusde blik op hul voete en die volgende tree.

Almal behalwe Juffrou Kiertsregop, die flambojante gr. 2-onderwyseres van Laerskool Kromkierie. Vier nuuskierige agtjariges – Dahlia, Bella en die tweeling Tienie en Tamara – pak ʼn avontuur aan om uit te vind hoekom hulle juffrou so penorent loop. Die sleutel tot dié raaisel sal nie een van hulle onaangeraak laat nie. Met Sebastian Winterbach, Mia Lottering, Lisa van Niekerk, Alexia Snyders en Albert Maritz.

Die bekende aktrise Milan Murray het die regisseurshoed gedra en die musikant Loki Rothman was verantwoordelik vir die oorspronklike musiek.

‘Haatklop’ (riller)

Mariette skrik wakker en peul uit die plastieksak waarin sy bebloed toegedraai was. Sy is duidelik onseker oor wat gebeur het en begin op haar pad huis toe struikel. Stadig maar seker kom haar geheue terug en gaan soek sy vergifnis, maar betrap Karel met ʼn ander vrou. Is Mariette in staat om te vergewe en aan te beweeg? Met Diani Gernandt, Zak Hendrikz en Marlee van der Merwe.

‘ʼn Kombi, kameelperd en ʼn camcorder’ (komedie)

Wanneer vier vriende vir ouma Dorothy oplaai vir haar kleindogter Celia se troue, kom die wiele af tussen Happy Endings-ouetehuis en die troue in Potchefstroom. Toe Celia op haar jarelange studentevriend, Armand, se knoppie druk om haar ouma na haar troue te bring, kon sy haar nooit indink hoe hierdie road trip sou ontvou nie.

Vasgevang op ʼn ander vriend, Simon (Morné du Toit), se camcorder, kan die komiese avontuur meegemaak word op pad na die troue. Met Lida Botha, Hannes Brümmer, Morné du Toit, Pulane Sekepe, Christel van den Bergh en Marielise van Rooyen.

‘Nag van die ondier’ (riller)

In ʼn onheilspellende woud vergader vriende om ʼn kampvuur om stokbrood voor te berei, potjiekos te maak, pyp te stook en stories te vertel van ʼn ondier wat winters gelede dié woud bewoon het. Wanneer die nag begin brul en die bome begin beef, besef die vriende dat die stories van die ondier dalk nie net stories was nie. ʼn Onaardse spel ontvou in die woud as hulle besef dat sonder lig die skadu jou nie kan vang nie. Met Jacques Wolmarans, Elsje Slabbert, Liesel Harris-Kruger en Tiaan Kelderman.

‘Baai baai, Josef K’ (wetenskapfiksie)

Josef K, ʼn angstige man in sy vroeë dertigs, besluit om vroegoggend te gaan draf. Ná ʼn toevallige ontmoeting met ʼn mede-drawwer kom hy af op ʼn fiksheidshorlosie wat beheer word deur ʼn bose digitale hasie genaamd Bunny. Bunny neem sy foon oor en Josef sit die horlosie aan. Bunny forseer Josef om te hardloop deur hom fisiek te skok elke keer as hy weier. Verder het Bunny toegang tot Josef se sosialemediarekeninge, sy internetgebruik en kan hy hom selfs afpers. Dit ontaard in ʼn vreemde resies tussen hom en die horlosie. Met Jaco van der Merwe.

‘Tuiskoms’ (drama)

Honger, koud en alleen in die strate is vir Eleah ʼn daaglikse oorlewingstryd. Dit is hier waar sy ʼn geheimsinnige vreemdeling ontmoet wat haar meedeel dat hy weet waar haar ma is. Hy belowe Eleah om haar na haar ma te neem, na ʼn plek waar sy nie meer alleen en kwesbaar sal wees nie, ʼn plek van warmte. Sy is desperaat om saam met die vreemdeling te gaan, maar hy het sy prys. En dis dalk meer as wat sy het om te gee. Sy sit alles op die spel om vir die vreemdeling te gee wat hy van haar eis. Met Charis Williams, Sherman Pharo en André Roothman.

‘Uitstappie’ (drama)

Daar is niks soos vars lug om die kop ʼn bietjie skoon te kry nie, maar Magda is moeilik wanneer dit by uitstappies kom. Sy dink nie veel van die gesprekke wat ʼn mens langs die pad moet aanknoop nie en vertrou haarself ook nie noodwendig om die pad terug te vind nie.

Dit is ʼn stryd om haar gereed te kry, maar sy het nie gereken op M nie – ʼn jong, doelgerigte vrou wat haar nie gaan laat ore aansit nie. Die plan vir vandag se uitstappie bly dus staan. Met Annelisa Weiland en Greta Pietersen.

Die oorspronklike draaiboek is geskryf deur Marco Spaumer.

Die kykNET Silwerskermfees vind van 22 tot 25 Augustus plaas. Besoek die webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.