Silwerskerm 2018: Hier is vanjaar se kortflieks

Cindy Swanepoel as die fluitende predikantsvrou in "Fluit-fluit".

Cindy Swanepoel as die fluitende predikantsvrou in “Fluit-fluit”.

Die kykNET Silwerskermfees word vanjaar vir die agtste keer in The Bay Hotel in Kampsbaai aangebied en vanjaar se rolprente bied ʼn verskeidenheid van vermaak vir fliekgangers van alle ouderdomme.

Die flieks is in drie kategorieë verdeel: kort-kortflieks (11 minute), kortflieks (22 minute) en vollengte flieks. Só lyk vanjaar se lys kortflieks.

‘Buiteperd’ (donker komedie)

Armand, ʼn gebore verloorder wat by sy pa bly, het altyd gedroom om ʼn akteur te word, maar soos alles in sy lewe het hy ook hier handdoek ingegooi. Deesdae sit hy en pa, Theuns, tuis en dobbel geld uit op perdewedrenne.

Theuns sterf skielik sonder ʼn sent. Armand se selfvertroue is teen die grond en hy moet sonder geld ʼn heldebegrafnis reël of tevrede wees met ʼn staatsbegrafnis. Dit ontaard in ʼn dobbelwedren teen tyd en Armand is die buiteperd. Met Tony Byleveld, Ben Kruger, Brümilda van Rensburg, Mari Molefe van Heerden, Stefan Otto en Chris Almeida.

‘Axis mundi’ (drama)

Die paraplegiese televisieaanbieder Nora de Vos was eens die “koningin van televisie”, maar met haar kykergetalle wat daal, wil die netwerk haar program kanselleer. Nora het egter ander planne. Sy nooi Johan Moolman, ʼn bekende geneser, na ʼn regstreekse uitsending van haar program: ʼn Man wat beweer hy kan haar weer laat loop.

Dit beloof om die televisiegebeurtenis van ʼn generasie te wees, een wat Nora se loopbaan sal red. Soos die kameras rol, is die vraag op almal se lippe: Sal Johan Moolman vir Nora de Vos weer laat loop? Met Antoinette Louw, Deon Lotz, Laré Birk, Mila Guy en David de Beer.

‘Cowboy Dan’ (donker komedie)

“Kroeks” steel ʼn cowboy wat in ʼn droomwêreld leef se beeste terwyl ʼn beeldskone vrou sy aandag aflei. Maar die “kroeks” is kardiewe, die cowboy ʼn karwag, die beeste karre en sy muse ʼn kroegkelnerin.

Die diefstal sit die stedelike cowboy op ʼn tog om die kar terug te kry en reg en geregtigheid te laat geskied. Hierdie tog lei Cowboy Dan deur die kriminele onderwêreld van Kaapstad, met Zancas – ʼn bang boemelaar – as sy hulp. Met Brendon Daniels, Reginald Hufkie, Trix Vivier, Johnny Pienaar, Morné Visser, Ira Blanckenberg en Piet Marais.

‘Die invloed’ (drama)

Hilda Sewes se man word deur die see geneem. Sy sweer dat Milla, haar dogter, die see nooit sal ken nie. Klein Kalbas, Milla se beste maat dra gereeld vis aan. Hilda se vermanings val vir jare op dowe ore – totdat Milla se oë die ware rede vir sy daaglikse besoeke verklap.

Hilda is vasberade om haar dogter so ver weg te neem as wat nodig is om hierdie liefde tot ʼn einde te bring, maar Kalbas beloof dat hy hulle sal volg tot aan die uithoeke van die aarde. Niks sal hom keer nie. Wat hierna gebeur, bewys liefde ken geen perke nie. Met Kim Cloete, Tarryn Wyngaard, Gershwin Mias, Charlton George en Neels Clasen.

Clasen, wat eersdaags te sien is in die avontuurfliek “Stroomop”, is die regisseur en draaiboekskrywer van Die invloed.

‘Nama Swaan’ (magiese realisme)

Drie jaar nadat Willie se oupa in ʼn mynramp dood is, het hulle ʼn nuwe lewe op ʼn plaasdorp naby Kaapstad begin, ver weg van die verlede. Nou in matriek, wil hy wiskunde gaan studeer, maar sy ouma weier om sy beursaansoek te teken. Sy plan: Bereken ʼn som om die volstruis, wat sy ouma in ʼn hok aanhou, te laat vlieg, voordat hy op die plaas as doodgewone arbeider eindig.

Soos hy worstel, besoek ʼn magiese Nama-oerstem hom en word dit die wind onder sy vlerke soos hy sy vryheid verken. Geïnspireer deur Tsjaikowski se Swanemeer word Nama Swaan ʼn simbool om nooit op te hou droom nie. Met Joshua Vraagom, Celeste Mathews, Quinton Manuels en Jeffrey Moss.

‘Kloof’ (drama)

Dit is ontgroeningsweek op kampus en Dawid, saam met sy mede-koshuisseniors, gee vir Siyanda en die ander eerstejaars hel. Die doop raak al meer intens en bou op tot een laaste uitdaging: Om as broers ingesweer te word moet hulle by ʼn kloof op stap en van ʼn hoë krans in ʼn rotspoel spring.

Siyanda is egter te bang en dit is Dawid se verantwoordelikheid om hom te oortuig. Weke later, wanneer Dawid en Siyanda saam na hul tuisdorp terugkeer, word dit duidelik dat die twee ou vriende se verhouding ná die gebeure van die ontgroening nooit weer dieselfde sal wees nie. Met Llewellyn van der Berg, Jurgen Romario McEwan, Erica Wessels en Louw Venter.

‘Benjamin’ (drama)

Dis die jaar 2030, ʼn dekade sedert die laaste reën geval het in Suider Afrika.

Chantelle September, ʼn werknemer van Kinderwelsyn Suid-Afrika, word gestuur na die vervalle plattelandse dele van die Noord-Kaap om sensuswerk te doen. Haar laaste opdrag is by ʼn desperate plaasgemeenskap onder die leierskap van ʼn charismatiese grondeienaar, Tobias du Toit. Haar ondersoek in die area laat haar met meer vrae as antwoorde, die belangrikste een seker: Wie is Benjamin? Met Crystal Donna Roberts, Albert Maritz, Charlene Leroux en Dewald Pedro.

‘Non(kompos)mentis’ (drama)

Karla is ʼn normale huisvrou, ʼn liefdevolle ma en getroue eggenoot. Haar liefde vir tuinmaak hou haar compos mentis. Dit is waar sy, al is dit net vir ʼn rukkie, kan ontsnap van realiteit. Haar goedhartigheid word bewys wanneer sy ʼn werklose man met kos help, maar haar konserwatiewe man, Robert, is gekant daarteen – bedelaars is nie hulle verantwoordelikheid nie.

Dan word Karla se hele optimistiese bestaan op een dag omvergegooi wanneer iets ondenkbaar met haar gebeur en net haar speurder-tweelingbroer haar kan help. Non(Kompos)Mentis is ʼn verhaal oor die onvoorspelbare wêreld waarin almal hulself bevind. Met Jenna Dunster, Francois Jacobs, Charlie Bouguenon, Hanli Rolfes en George Dywili.

Die draaiboek is geskryf deur Burger Meyer en is ʼn verwerking van ʼn kortverhaal deur Clari Niemand.

‘Die ongenooides’ (wetenskapfiksie)

Die wêreld het verander, nie ten goede nie. Bertha van Wyk lewe in isolasie en is verwyder van enige menslike kontak. Niks daarvan was haar keuse nie, maar dis die situasie waarin sy nou moet oorleef. Op die herdenking van ʼn tragiese gebeurtenis word Bertha se chaotiese lewe verder in die war gegooi wanneer twee geheimsinnige vreemdelinge haar lewe betree. Met Nicola Hanekom, Hykie Berg, Gustav Gerdener en Dylan de Beer.

‘Fluit-fluit’ (mokumentêr)

Ons ontmoet ʼn vrou van inbors en karakter wat ʼn goeie lewe lei en ʼn buitengewone aanvoeling vir fluit het. Fluit, soos in die volmaakte vorming van honderde melodieë en klanke van tuinvoëls en ander geluide met behulp van asemgebruik en die perfekte plasing van haar tong. Dis immers wat sy van vroegoggend tot laataand doen.

Om hierdie wonder wyer as haar eie, bekende wêreld te laat strek, huur sy ʼn jong kameraspan om haar te volg in die dae wat oploop tot ʼn groot konsert. Sy is tog, soos sy self sê, Suid-Afrika se fluitfenomeen. Met Cindy Swanepoel en Weslee Swain Lauder.

Hardus van Deventer is die regisseur terwyl die draaiboek deur Cindy Swanepoel, Neeltje Swanepoel en Duan Wanty geskryf is.

Die kykNET Silwerskermfees vind van 22 tot 25 Augustus plaas. Besoek die webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos ·

Antoinette Louw is ‘n puik aktrise. Sy lyk altyd minstens 10 jaar ouer as wat sy werklik is.

Leeu ·

Cindy is n uitstekende aktrise, hoop om haar in komedie te sien, sy’s een van die snaakste mense op en af die verhoog.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.