Silwerskerm 2018: Hier is vanjaar se vollengte flieks

Schalk Bezuidenhout in "Kanarie".

Schalk Bezuidenhout in “Kanarie”.

Die kykNET Silwerskermfees word vanjaar vir die agtste keer by The Bay Hotel in Kampsbaai aangebied en vanjaar se rolprente bied ʼn verskeidenheid van vermaak vir fliekgangers van alle ouderdomme.

Die flieks is in drie kategorieë verdeel: kort-kortflieks (11 minute), kortflieks (22 minute) en vollengte flieks. Só lyk vanjaar se lys kortflieks.

‘Ander mens’ (aksie-komedie)

Daniel Niemand is een van daardie mense wat van die een mislukking tot die volgende teleurstelling lewe, en dit is op ʼn goeie dag. Hy weet dit nog nie, maar dit gaan alles binnekort verander.

Die moeilikheid begin wanneer sy vrou hom vir ʼn ander man los, wat toevallig hul huweliksberader is. In ʼn wanhopige poging om sy eer te herwin, bring Daniel per ongeluk sy eks-huweliksberader se lewe tot ʼn einde.

Gelukkig (of óngelukkig) vir hom, ontdek hy dat sy baas, Frank, en dié se broer, Hansie, nie bloot die onskuldige eienaars van ʼn konstruksiemaatskappy is nie, maar ook die ongenaakbare leiers van ʼn plaaslike sindikaat.

Hoewel hulle bedoelings effe verdag en onduidelik voorkom, bied Frank en Hansie aan om vir Daniel te help om van die lyk ontslae te raak – maar dit is nie lank voor die polisie aan Daniel se deur kom klop en hom in hegtenis neem nie. Inspekteur Acker soek al jare lank ʼn rede om vir Frank toe te sluit, en Daniel mag dalk net die perfekte geleentheid daarvoor wees, op die vooraand van sy aftrede. Daniel, wat soos altyd net die regte ding wil doen, gee vir Acker die inligting wat hy nodig het om Frank uiteindelik vas te trek.

Bewus van die teiken op Daniel se rug, kontak Acker die Getuienis-beskermingseenheid en Daniel word in die sorg geplaas van Erica Kruger, die beste in haar veld. Vir Daniel lyk dit asof sy lot uiteindelik ietwat meer rooskleurig voorkom, maar min weet hy dat Acker hom as lokaas gebruik om vir Frank, nou kort op sy hakke, vas te trek.

Welkom by die aakligste week in Daniel Niemand se lewe.

Met: Bennie Fourie, Marlee van der Merwe, Frank Opperman, James Borthwick, Laudo Liebenberg, Andre Weideman, Jana Cilliers en Roeline Daneel. Quentin Krog het die regie gedoen.

‘Die seemeeu’ (drama)

Elkeen van Tsjechof se volronde karakters sukkel met hul eie vrese, verlange, twyfel en frustrasies, wat natuurlik as gevolg van hul eie toedoen is. Ons ontmoet die teaterdiva, Irene, wat sukkel om gewoond te raak aan streeksrade wat nie meer bestaan nie en  kunstefeeste wat haar loopbaan se voorland is; haar sieklike ouer broer, Piet, wat wens hy het meer kanse gevat in sy lewe; die onsekere, verlore en vergete seun, Konstant, wat net sy  ma se aandag en goedkeuring soek; die naïewe aspirant-aktrise, Nina, wat wil wegkom uit die kloue van haar ouers en die klein dorpie waar sy woon, en dan nie weet wat om te doen wanneer sy die geleentheid kry nie; die immer-teneergedrukte Masha, wat ʼn liefdesdriehoek moet handhaaf; die opgewekte filosoof, dr. Eugene, wat alles van ʼn afstand waarneem; die onafgewerkte plaasbestuurder, Elias, sy onderdanige vrou, Paulina, die armoedige onderwyser, Simon, en die bekende skrywer, Boors.

Elkeen van die karakters dra by tot die gevoel van gevangenskap wat die vakansie op die familieplaas onder ʼn vergrootglas bring.

Die regisseur Christiaan Olwagen se unieke styl, wat ons leer ken het in Johnny is nie dood nie (2016) –  ʼn tegniek vervolmaak deur kinematograaf Christiaan Vermaak – dra by tot die suksesvolle verplasing van hierdie teaterstuk na film, een honderd jaar later, aan die ander kant van die wêreld.

Met: Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Albert Pretorius, Rolanda Marais, Deon Lotz, Martelize Kolver, Cintaine Schutte, Gerben Kamper, Geon Nel en Allyzander Fourie.

‘Die stropers’ (drama)

Suid-Afrika is die geïsoleerde vesting van die Afrikaanse minderheidskultuur. In hierdie konserwatiewe boerderygemeenskap wat behep is met krag en manlikheid, is Janno anders, geheimsinnig, en emosioneel broos. Op ʼn dag bring sy ma, streng godsdienstig, vir Pieter, ʼn geharde straatweeskind wat sy wil red, huis toe. Sy vra vir Janno om ʼn broer van hierdie vreemdeling te maak. Die twee seuns begin ʼn stryd om mag, erfenis en ouerliefde.

Met: Brent Vermeulen, Alex van Dyk, Juliana Venter, Morné Visser, Erika Wessels, Benre Labuschachne, Danny Keough en Roxana Kerdachi.

Etienne Kallos het die draaiboek geskryf en die regie behartig.

‘Kanarie’ (drama)

Wanneer Johan Niemand vir militêre diensplig opgeroep word, lê hy ʼn oudisie af vir die Suid-Afrikaanse kerkkoor en konsertgroep, die “Kanaries”, en word gekies.

In ʼn politieke landskap waar wet en godsdiens individualiteit onderdruk, moet Johan en die Kanaries militêre opleiding doen en daarna op ʼn landwye toer gaan, mense vermaak en geloof in die kerk en weermag versterk. Op toer ontwikkel Johan gevoelens vir ʼn mede-koormaat en dit veroorsaak dat hy alles oor homself en sy wêreld bevraagteken.

Hy ontmoet verskeie karakters op toer; sommige trots op die koor se pogings en ander wat hom bewus maak van die realiteit en effek van apartheid in Suid-Afrika. Namate Johan sy geloof, patriotisme en seksualiteit bevraagteken, lei sy kreatiwiteit en passie vir musiek tot direkte konflik met sy bevelvoerders.

Met: Schalk Bezuidenhout, Hannes Otto, Germandt Geldenhuys, Gérard Rudolf, Jacques Bessenger, Beer Adriaanse, Ludwig Binge, Francois Jacobs, De Klerk Oelofse, Dawid Viviers en Andrico Goosen.

Christiaan Olwagen en Charl-Johan Lingenfelder het die draaiboek geskryf. Olwagen het ook die regie gedoen.

‘Ellen, Die storie van Ellen Pakkies’ (drama)

In 2007 het die dood van die twintigjarige Abie Pakkies opslae gemaak in Suid-Afrika, asook wêreldwyd.

Die ontstellendste aspek van die moordsaak was dat Abie se ma, Ellen, haar seun vermoor het. Toe advokaat Adrian Samuels die saak aanvaar, was hy vasbeslote om te bewys dat Ellen Pakkies nie ʼn keuse gehad het nie, maar waarom het sy ophou hulp soek? Hoe word ʼn ma desperaat genoeg om haar eie seun se lewe te neem?

Die fliek, “Ellen, Die Storie van Ellen Pakkies”, wat oor twee tydlyne afspeel, delf in die innerlike psige van ʼn familie wat deur dwelms vernietig word in een van die armste en gevaarlikste gemeenskappe in Suid-Afrika.

Met: Jarrid Geduld, Jill Levenberg, Elton Landrew, Clint Brink, Kay Smith, Ilse Klink en Russel Savadier.

Amy Jephta het die oorspronklike draaiboek geskryf terwyl Daryne Joshua die regie behartig het.

‘Dominee Tienie’ (komedie)

Ná sestien jaar as predikant van die Moedergemeente word Tienie Benade gekonfronteer met ʼn geweldige daling in bywoning en ʼn moderne gemeenskap wat by die dag verander.

Is daar nog ʼn plek in hierdie wêreld vir predikante of die kerk? Hy probeer sy bes om aan te pas en sin te maak van die veranderinge, maar in die proses vervreem hy sy vrou en kinders. Ná ʼn insident met ʼn sterwende boemelaar bevind Tienie homself by ʼn kruispad. Sal hy sy selfvertroue en die liefde van sy gesin kan terugwen en sal hy dapper genoeg wees om sy gemeente in ʼn nuwe era in te lei?

Met: Frank Opperman, Henriëtta Gryffenberg, Thapelo Mokoena, Regardt van den Bergh, Paul Eilers, Carel Nel, Annette Engelbrecht, Gerrit Schoonhoven, Izel Bezuidenhout, Luan Jacobs, Laré Birk en Rikus de Beer.

Die fliek is gebaseer op die toneelstuk deur Dana Snyman. Sallas de Jager is die regisseur.

Daar is ook twee flieks wat vanjaar vertoon word wat nie in die kompetisie is nie.

‘An Act of Defiance’ (drama)

Op ʼn wintersdag in Julie 1963 voer die polisie ʼn klopjag uit op ʼn plaas in Rivonia. Nege swart en wit leiers van die verbande ANC en Umkhonto we Sizwe word in hegtenis geneem. En ʼn tiende lid word by die groep van nege gevoeg, ʼn man wat vroeër in hegtenis geneem is: Nelson Mandela.

Die apartheidsregime het een doel voor oë, om hierdie vryheidsvegters tot die dood te veroordeel: nie net as ʼn waarskuwing aan die ANC se volgelinge nie, maar ook om ontslae te raak van hul mees berugte vyande; om die vryheidsbeweging ʼn doodshou toe te dien.

Met: Peter Paul Muller, Antoinette Louw, Izel Bezuidenhout, Leroux van Diemen, Morné Visser, Willie Esterhuizen, Sylvaine Strike, John-Henry Opperman, Hannes Brümmer, Dan Robbertse en Fezile Mpela.

Jean van de Velde het die draaiboek geskryf en die regie behartig.

‘Table manners’ (drama)

Huisvrou Megan se idilliese bestaan ontaard in ʼn nagmerrie wanneer dit aan die lig kom dat haar man, Lloyd, swaar tronkstraf in die gesig staar weens belastingontduiking. Megan word onkant betrap en verloor kop wanneer sy nie slegs haar man, haar huis en haar gemaklike voorstedelike bestaan verloor nie, maar geïmpliseer word in die belastingbedrog en sy ook tronkstraf moet uitdien.

Platsak en sonder vooruitsigte, moet Megan herontdek wie sy regtig is. Met die hulp van haar seun en haar beste vriendin, Lindiwe, vind sy troos en hoop in haar lewenslange liefde en aanvoeling vir kook. Sy leer dat die reis terug huis toe begin met die besef dat sy “genoeg” is en dat al wat sy nodig het, haar familie, kos en liefde is. Skep jou lewensbord vol smullekkerkos.

Met: Diaan Lawrenson, Renate Stuurman, Neels van Jaarsveld, Julian Robinson, Fiona Ramsay,
Graeme Kriege, Thorsten Wedekind, Dimitri Bailanis en Carmen Pretorius.

Leli Maki het die draaiboek geskryf en Nkuli Sibeko is die regisseur.

Die kykNET Silwerskermfees vind van 22 tot 25 Augustus plaas. Besoek die webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Daan Erasmus ·

Ek sal ook Kanarie wil sien. Net omdat ek familie van Christiaan Olwagen is. En omdat hy briljant is.

Helene du Toit ·

Wat n teleurstelling dat die fees nou eksklusief vir die filmmakers is. Geen kaartjies vir die publiek beskikbaar nie, so miskien moet die naam verander na Silwerskerm Media Netwerk Kloekgroep?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.