Silwerskerm-kortfliekkompetisie: Inskrywings nou oop

Die inskrywings vir die kortfliekkompetisie van die negende jaarlikse kykNET Silwerskermfees is nou oop. Dié kortfliekprojek bied elke jaar aan voornemende rolprentmakers die geleentheid om hul tande in hierdie medium te slyp.

Vanjaar is daar drie kategorieë. Die eerste kategorie is vir kortflieks van 24 minute en hier geld die reël dat vorige jare se uiteindelike deelnemers, met ander woorde die persone wie se flieks op die vorige Silwerskermfees te sien was, nie in dieselfde hoedanigheid mag inskryf nie.

As jy dus vorige jare die skrywer was, mag jy nie weer as skrywer inskryf nie, maar wel in ʼn ander hoedanigheid soos onder andere vervaardiger of regisseur. Hierdie reël geld natuurlik nie indien jy nog nooit voorheen ʼn uiteindelike deelnemer was nie.

Die tweede kategorie, ʼn nuwe kategorie vanjaar, is vir kortflieks wat op digitale platforms vertoon kan word. Dit sluit musiekvideo’s, skerpskerts-sketse of enige eksperimentele werk in.

Die derde kategorie, ook ʼn nuwe kategorie, is spesifiek vir die komedie-genre. Hierdie flieks is, soos die kortflieks in die allegenre-kategorie, 24 minute lank. Albei nuwe kategorieë, digitaal en komedie, is oop vir almal, ook deelnemers wat rolprente by vorige feeste gehad het.

Die span van die vollengte fliek 'Kanarie' tydens verlede jaar se Silwerskemfees in Kampsbaai. (Foto: Retha Ferguson)

Die span van die vollengte fliek ‘Kanarie’ tydens verlede jaar se Silwerskermfees in Kampsbaai. (Foto: Retha Ferguson)

Die voorstellers van die topkonsepte wat gekies word, sal aan ’n skryfskool deelneem waar die finale draaiboek, onder leiding van mentors in die filmbedryf, geskryf sal word. Die top-15 konsepte sal van April 2019 vervaardig word vir die 9de kykNET Silwerskermfees.

Voornemende fliekmakers het tot Woensdag 13 Maart om op die Silwerskermblad (www.silwerskerm.tv) te registreer en voorstelle, wat tussen 250 en 300 woorde moet wees, elektronies in te handig.

Inskrywings vir die bestaande kortfliekkategorie sluit op 2 Mei 2019. Hierdie kategorie is oop vir bestaande kort-, dokumentêre en eksperimentele films.

Vorige wenners van die kortfliekprojek staan vandag hul plek in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf vol met onder andere René en Corné van Rooyen (Vaselinetjie en die nuwe kykNET-dramareeks Alles Malan), Christiaan Olwagen (Johnny is nie dood nie, Kanarie), Bennie Fourie (Vuil wasgoed, Hotel) en Nosipho Dumisa (Nommer 37) wat reeds naam as rolprentmakers gemaak het.

Die negende kykNET Silwerskermfees vind plaas van 21 tot 24 Augustus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.