Silwerskermfees bemagtig steeds die plaaslike rolprentbedryf

Leandie du Randt en Stiaan Smith is te sien in ‘Meisies wat fluit’.

Sedert die eerste kykNET Silwerskermfees in 2011 op Prins Albert in die Wes-Kaap aangebied is vir ʼn enkele groep rolprentgeesdriftiges, het die fees oor die afgelope dekade gegroei tot ʼn volwaardige rolprentfees wat elke jaar aan die hange van Kampsbaai plaasvind.

Die fees gaan vanjaar ʼn nuwe baadjie aantrek en in ʼn ander formaat aanlyn aangebied word. Die fokus vir vanjaar se fees is op produksie, die ontwikkeling van kortflieks en ander opwindende en belangrike aspekte van die rolprentbedryf.

Die eerste kykNET Silwerskerm-webinaar sal van 2 tot 4 September plaasvind met ʼn fokus op internasionale vennootskappe, befondsing, nuwe maniere van vervaardiging in die rolprent- en televisiebedryf en hoe om jou projek vir ʼn nuwe landskap reg te kry.

Die webinaar skop af met Audrey Clinet, ʼn Franse vervaardiger en verspreider van flieks, wat rolprentmakers sal toespreek oor internasionale verspreiding en verkoopstrategieë. Daarna volg die Suid-Afrikaanse vervaardigers Steven Markovitz, Elias Ribeiro en Roelof Storm, wat ter uitbreiding daarvan hulle kennis en ervaring rondom hierdie aspekte sal deel.

Plaaslike rolprentmakers sal ook aan internasionale verteenwoordigers soos Rowan Woods (Britse Rolprentraad, VK), Nashen Moodley (Sydney Rolprentfees, Australië) en Claudette Godfrey (SXSW-fees, VSA), blootgestel word in ʼn sessie wat deur Dorothee Wenner, ʼn keurder vir die Berlinale, gelei sal word. Wenner is tans die afgevaardigde vir flieks uit Sub-Sahara-Afrika.

Die Silwerskermfees 2020 sal in ‘n digitale formaat aangebied word.

Martin Ferreira van Fremantle Media Australië sal ʼn in-diepte gesprek fasiliteer oor na-produksie terwyl Tebogo Malebogo en Petrus van Staden meer vertel van hul kortfliekproduksiemaatskappy, Vanishing Elephant, en die vrystelling van hul jongste kortfliek, Mthunzi.

Monica Rorvik, hoof van rolprent- en mediapromosie by Wesgro, sal ʼn sessie oor befondsing aanbied met gassprekers soos Bhacanesh Parbhoo (IDC), Desmond Mthembu (GFC), Carol Coetzee (KZNFC), Nicola van Niekerk (kykNET) en Kaye Ann Williams (M-Net). Twee verteenwoordigers van die NFVF, Yolanda Ncokotwana en Refilwe Hlabioa, sal in wegbreekruimtes later in die middag beskikbaar wees vir gesprekvoering.

Lisa Mini, ʼn rolprent- en mediabedryfskenner, sal ook ’n rolprentondersteuningsdienste en Covid-19-produksiewerkswinkel rondom produksiebestuur en vervaardiging, met verskeie sprekers aanbied.

Die Silwerskerm-webinaar sluit ook eksklusiewe kortfliekpremières in.

Die bekroonde skrywer-regisseur, John Trengove, se iBhokhwe [Die Bok] is eerste aan die beurt op die program. Daarna volg C’est du caviar [Dit is kaviaar], ʼn internasionale kortfliek wat deur die Audrey Clinet versprei word, en Mthunzi, ʼn plaaslike kortfliek van Tebogo Malebogo en Petrus van Staden.

Ná elke digitale première volg ʼn gesprek met die betrokke rolprentmakers oor hulle roete tot sukses.

Jack Parow se dokumentêr ‘Parow to Parowfest’ sal ook vanjaar te sien wees op die fees.

Tydens die fees sal feesgangers ook toegang verkry tot die eksklusiewe voorskoue van die speelfliek, STAM [The Tree], voor die rolprent se wêreldpremière op die Durbanse Internasionale Rolprentfees, asook die dokumentêr, Parow to Parowfest.

Daarby sal die plaaslike skrywer-regisseur, Johan Cronje (Wonderlus), se nuutste speelfliek, Meisies wat fluit, ook tydens die Silwerskerm-webinaar première op 4 September asook Parow to Parowfest en sal ook beskikbaar wees vir kykers by die huis op DStv BoxOffice.

Die amptelike lokprent van Meisies wat fluit word 18 Augustus vrygestel. Leandie du Randt, Stiaan Smith, Amalia Uys, Geon Nel, Anré Bouguenon, Pietie Beyers, Hanli Rolfes en Bennie Fourie is in dié rolprent te sien.

Vanjaar se fees sluit af met opleiding- en voorleggingsessies vir Silwerskermfees-fliekmakers wat deur Kisha Imani Cameron, spreker en loopbaanafrigter by Visionary Legacy Project, fasiliteer sal word.

Nog opwindende aankondigings rakende die Silwerskermfees-inhoud word binnekort bekendgemaak.

Die volledige program van die Silwerskerm-webinaar is beskikbaar by www.silwerskermfees.co.za. Gesels saam op sosiale media – op Facebook, Twitter en Instagram en gebruik die hutsmerk #Silwerskermfees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae