Skoolkursus sluit wêreld van animasie vir jongspan oop

Leerders besig met die animasiekursus (Foto: Facebook)

Leerders besig met die animasiekursus (Foto: Facebook)

Die produksiehuis Fopspeen Moving Pictures gaan binnekort ʼn unieke animasiekursus, wat gemik is op laer- en hoërskoolleerders, van stapel stuur, wat na-ure by skole aangebied gaan word.

Dié kursus sal met behulp van die animasieprogram, Vuvumation, aangebied word.

Charles Badenhorst, dryfkrag agter die projek, sê dié kursus wil die jongspan die geleentheid gee om die wêreld van animasie te ontdek.

“Dit is al vir jare ons droom om die projek te ontwikkel en kinders die geleentheid te gee om die wêreld van animasie te ontdek.  In Europa is daar wonderlike animasiesentrums in elke groot stad, waar kinders die opwindende kunsvorm kan aanleer.  In Suid-Afrika is daar egter geen sulke geleenthede vir veral die jongspan nie en ons wil daarom sulke geleenthede skep,” het hy gesê.

Die kunstenaars Diek Grobler en Mercia van Wyk is ook deel van die Vuvumation-span.

Fopspeen is onlangs deur die animasie-ensiklopedie Animation: a World history (Vol 3) beskryf as ʼn ‘eksentrieke animasieproduksiehuis’.

“Die rede hiervoor is waarskynlik dat Fopspeen piepklein is gemeet aan bedryfstandaarde, maar het ʼn indrukwekkende hoeveelheid toekennings op hul kerfstok.  Buiten sewe internasionale animasietoekennings, is die produksiehuis se werk reeds op meer as sestig internasionale animasiefeeste vertoon,” het hy bygevoeg.

Die produksiehuis het al onder meer werk gedoen vir SABC1, kykNET, Anna Davel, Jak de Priester en Karin Hougaard.  Hulle het ook meer onlangs die suksesvolle Filmverse projek saam met die ATKV van stapel gestuur.

Leerders besig met die animasiekursus (Foto: Facebook)

Leerders besig met die animasiekursus (Foto: Facebook)

Vuvumation fokus onder meer op die basiese beginsels van animasie. “Leerders leer presies hoe animasiefilms werk en hoe om dit te maak.  Animasie is ʼn waardevolle leerstelsel, omdat ʼn magdom kennis vanuit ander skoolvakke in animasie toegepas word, soos wiskunde en tegnologie,” het hy verduidelik.

“Dit ontwikkel verder ʼn kind se probleemoplossing, taalvaardigheid, kreatiwiteit en vermoëns om ʼn projek te ontwikkel en te bestuur.  In ʼn toenemend visueel-ingestelde wêreld vermeerder beroepsmoontlikhede met animasie as grondslag by die dag.”

Dié program leer kinders ook ʼn verskeidenheid verskillende tipes animasie. “Leerders kan leer van klei- tot teken-animasie, hoe om ʼn draaiboek te skryf, storiebordontwerp en -ontwikkeling, storievertelkuns en nog vele meer.”

Ander projekte sluit onder meer die maak van advertensies, musiekvideo’s en kortflieks in.

Badenhorst  meen dié program vereis minimum finansiële belegging en tegnologie.  “Al wat jy nodig het, is ʼn slimfoon of soortgelyke toestel. Die program fokus op die basiese beginsels van animasie en leerders het daarom geen duur kameras of sagteware nodig nie.”

Vuvumation vir skoolleerders bestaan uit lesse van 90 minute. Die kursus strek oor vier jaar. Daar is ook volwasse kursusse beskikbaar wat vir korter periodes wat op spesifieke mediums en metodes fokus.

Vir meer inligting, besoek Vuvumation se Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Toekoms ·

Ons mense beweeg nou baie sterk in die regte rigting. Die ekonomie van die toekoms gaan die tipe kennis vereis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.