Só verweef rolprentmaak veelsydige Lika se passies

Lika Berning. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Vir Lika Berning is daar niks wat haar vele passies en veelsydige talente só goed en sorgloos verweef as om rolprente te maak nie.

Haar liefde vir alles, van visuele kuns en aktrise wees tot redigeringswerk en selfs musiek, het gehelp in Lika se reis tot die regisseurstoel vir haar eerste vollengte-rolprent, #Lovemyselfie – wat eersdaags in fliekteaters oor die hele land gaan draai.

In dié komedie gryp die plaaslike televisiester, Adele Swan (vertolk deur Illse Roos), ʼn geleentheid aan om haar skuld te delg deur in te stem om die gesig van ʼn eiendomsmagnaat, George, se veldtog te word: ʼn kompetisie op die luukse plesiervaart, die MSC Sinfonia.

Hier moet sy help om eksklusiewe eenhede van die Silwer Eike-aftreelandgoed te verkoop.

Nie net kry haar ego ʼn knou wanneer sy agterkom dat sy aan die Survivor of Seniors-kompetisie aan boord van die skip sal moet deelneem nie, maar sy loop ʼn ou skoolvriendin, Winifred, raak wat die deure van haar langvergete verlede open.

Akteurs soos June van Merch, Joanie Combrink, Robyn Scott, Chané Grobler, Hélène Truter, Chanelle de Jager, Moses Williams en Kevin Smith vorm ook deel van die swaargewigrolverdeling.

“Dit was nogal vreesaanjaend en beslis ʼn vuurdoop vir my. Ek kyk nou in ʼn heel ander lig na gesoute regisseurs en dink: hoe op dees aarde doen julle dit oor en oor. Dit is nie speletjies nie,” vertel Lika laggend in die Maroela Media-ateljee.

Lika kunstenaar in eie reg

Dié geliefde aktrise, bekend vir rolle in Liefling, Vrou soek boer en Die Byl, se loopbaanreis is geen verrassing nie. As dogter van aktrise Jana Cilliers en filmmaker Regardt van den Bergh het sy immers agter die skerms van die rolprentbedryf grootgeword.

“Ek onthou ek het op my ma se skoot gesit terwyl sy in die grimeerstoel was, en gereeld vir my pa op stelle gekuier. Ek het ʼn romantiese uitkyk op my ouers se werk gehad, so natuurlik wou ek nes hulle wees.”

Lika glo dat mens alle geleenthede moet aangryp. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Haar pa is later met die Orkney snork nie-aktrise, Clara Joubert, getroud en haar ma met die komediant en akteur Bill Flynn – wat in 2007 aan ʼn hartaanval oorlede is.

Selfs haar oumas aan ma én pa se kant was ook onderskeidelik legendes in die vermaak- en kunswêreld; die kunstenaar Bettie Celliers-Barnard en Agter elke man-aktrise, Dulcie van den Bergh.

“My ouma Bettie het altyd ʼn potlood of inkleurpen in my hand gedruk om prentjies te teken. Sy was vrygewig en aanvaardend van alles wat ek gedroom het om eendag te doen. Sy het gewaarsku dat my uitdaging sal wees om net een beroep te kies,” onthou Lika.

Hoewel sy haar seëninge met haar talentvolle familie gereeld tel, bieg Lika dat die druk en oordeel tog met tye verdubbel as jy bekende bloed het.

“Elkeen van ons gebruik die mense wat ons ken en die mense in ons kringe om vir ons deure te help oopmaak. Ek het soveel ondersteuning in my lewe gekry, maar die moeilike ding is: om kunstenaar te wees het baie te doen met ʼn proses.

“In my geval het my proses van grootword, leer en my styl vind, as mens én kunstenaar, in die openbare oog plaasgevind. Ek is nie skaam of fussy nie, maar alles word natuurlik met my ouers se standaard vergelyk – waar ek eintlik wil hê mense moet weet dis oukei en normaal om foute maak en jou eie voete te vind.”

Sy erken dat party projekte of drome nooit aangepak is nie, juis uit vrees vir veroordelende oë.

Daarom is haar grootste brokkie raad aan jongmense wat naam wil maak in enige kreatiewe bedryf om nie hulself aan druk, prestasies of perfeksie te steur nie.

“Werk, werk, werk. Dís eenvoudig die beste leerskool.”

Sprong van aktrise na agter die kamera kom al ʼn lang pad

Met ʼn graad in dokumentêrerolprent-vervaardiging, woeker Lika al eintlik meer as tien jaar lank agter die kamera.

Haar werk as redigeerder vir verskeie projekte, waaronder haar eie kinderprogram vir die SAUK, het ook waardevolle lesse vir haar latere werk as regisseur ingehou.

“As jy iets redigeer, haal jy dit alles uitmekaar en voeg dit weer saam. Mens leer oor skote, storieskryf, die vloei van ʼn verhaal, eintlik alles.”

Sy beskryf ook die bekroonde rolprentredigeerder Ronelle Loots, wat in 2023 ná ʼn kort kankerstryd oorlede is, as “ʼn mentor in die bedryf en byna ʼn tweede ma”.

#Lovemyselfie was boonop een van haar laaste groot projekte.

“Ronelle het my veral gehelp om al hierdie verskillende aspekte van my lewe en werk bymekaar te bring in die redigeerkamer.”

Ander werk agter die skerm sluit Lika se Silwerskermfees-fliek van 2014, Vashou-ding, in. Dié kortfilm handel oor ʼn vrou wat haar eie baba in ʼn fratsongeluk verloor en ʼn ander verlate baba op ʼn vullishoop kry.

“Komedie is moeilik, vir my is dit makliker om met mense se hartseer te empatiseer en dit te probeer verstaan. As ek self skryf, staan my kop ook altyd na ʼn drama eerder as ʼn komedie.”

Tóg is haar liefde vir drama ook te sien in #Lovemyselfie se komieklike karakters, wat elkeen met temas soos vriendskap, vergifnis, liefde en selfaanvaarding te midde van ouer word moet worstel.

“As ons mekaar, en onsself, liefhet, aanvaar en koester – sal dit ons outentieke binneste self uitbring. Ek voel dis die kern van #Lovemyselfie.”

Haar loopbaanfokus lê tans by rolprente maak, hetsy as skrywer of regisseur.

“Ek is lekker greedy en wil álles doen, maar filmmaker wees is nou deel van my langtermynplan, so ek gaan vir ʼn paar ander goed ongelukkig moet nee sê.”

ʼn Romantiese drama, waaroor sy nog nie veel kan verklap nie, is tans in die vooruitsig.

Te midde van al haar werksrolle is Lika se grootstes steeds dié van vrou vir haar akteurman, Clive Berning, en hul drie spruite, Hugo (10), Jesse (6) en Anneke (byna 5).

Die gesin het gedurende die Covid-19-pandemie na Plettenbergbaai getrek en hoewel dit die logistiek vir twee vryskutakteurouers moeilik maak, sê Lika dat sy nie sommer daar wil weg nie.

“Dis pragtig en rustig, ons kinders is in klein plaasskole. Dit is wel uitdagend omdat ek en Clive albei dikwels moet reis, dán word die arme oumas maar ingespan,” skerts sy.

Haar droom vir haar kroos is ook om eendag hul roeping te kan uitleef.

“Ouerskap verdiep alles. Mens wonder hoe gaan die wêreld lyk as my kinders eendag kinders het. Natuurlik moet mens realisties wees, maar ek glo dis nie gesond om net suiwer vir ʼn inkomstestroom te leef nie. Ek wil nie hê dat hulle net moet oorleef nie, maar ook floreer en dit wat hulle doen, geniet.”

Hoewel sy al ʼn smaak van oorsese stelle gehad het, sê Lika dat haar hart altyd in en vir Suid-Afrika sal wees.

Sy en haar man is ook aan die stuur van iKasi Media, wat jongmense in rolprentvervaardiging oplei.

“Ons het soveel lekker stories om te vertel en Suid-Afrikaanse produksiespanne en filmmakers het ʼn unieke soort toewyding en deursettingsvermoë. Ons respekteer elkeen mekaar se rol op die stel, ek dink dit maak van ons goeie en lekker spanne om mee te werk. Ek sien uit daarna om verder my voete in dié bedryf te vind.”

  • Luister na Lika se onderhoud met Maroela Media oor haar regisseursrol in #Lovemyselfie boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.