Staan opsy, hier kom Sarel Fourie

Sarel Fourie wat deur Chris Chameleon vertolk word in die fliek ‘Fanie Fourie’s Lobola’. Foto: realsarelfourie.com

Sarel Fourie is gebore in Benoni en maak al musiek sedert hy klaargemaak het met skool, maar hy het eers regtig vir homself begin naam maak ná sy verskyning in die fliek Fanie Fourie’s Lobola. Ons wou bietjie meer uitvind van die man agter die treffer Dinky.

Hoe het jou sangloopbaan ontstaan?

Ek hou nog altyd van musiek en ek sing al liedjies vandat ek kan onthou. Ek wou nog altyd ʼn loopbaan daarvan gemaak het en het ná skool daarmee begin. Dit is nie so maklik soos wat baie mense dink nie. Dit is maklik om te sing, maar dit is nie so maklik om daarvan ʼn loopbaan te maak nie.

Wat inspireer jou musiek?

Ek hou van Afrikaanse musiek; iets met ʼn lekker beat en wat jou vrolik maak.  Vir Fanie Fourie’s Lobola was die inspirasie iets tussen Nicholis Louw en Armand Hofmeyr, maar my musiek is net my musiek.  Dit is Sarel Fourie en dit is dit.

Wie sou jy sê is jou gehoor?

Enigiemand wat hou van lekker musiek is definitief my gehoor.

Hoe het die album Dinky ontstaan?

Dit was veronderstel om aanvanklik net drie liedjies vir die fliek te wees.  Ek was baie gelukkig om saam met Hunter Kennedy, Fred den Hartog en Chris Chameleon te werk. Daai bra’s het my gehelp om dit aanmekaar te sit en hoewel hulle net drie liedjies moes gedoen het, was dit so lekker, toe dink ons “Kom ons maak sommer ʼn hele album”. Daai perde is al gevestig en ek is bly hulle het my gehelp wat jy kan sommer hoor dit is beter as enigiets wat ek nog ooit gedoen het.

Chris Chameleon vertolk jou in die fliek, is jy tevrede met hoe hy jou uitgebeeld het?

Ek is ʼn sanger nie ʼn akteur nie so hulle het vir Chris gekry om my te speel en hy het nogal ʼn goeie werk gedoen. Chris is ʼn ernstige ou, baie meer ernstig as ek. Ek weet ook nie of hy so party-mens is soos ek nie, maar hy het dit goed gedoen.

As daar ooit ʼn fliek gemaak word oor jou lewe, sal jy wil hê dat Chris Chameleon jou weer vertolk?

Ek dink Chris is die regte ou.  Hy is regtig ʼn goeie akteur. Ek het dit nie geweet nie, maar hy het begin as ʼn akteur en toe het hy begin musiek maak.  Dit is miskien hoekom daar so baie drama in sy liedjies is, maar hy is ʼn goeie akteur. Partykeer kyk ek hom so en dan dink ek dit is ek.

 Het jy enige talente waarvan jou aanhangers nie weet nie?

Ek is soos enige ou, ek hou van rugby al speel ek dit nie baie goed nie.  Ek kan nie kolf nie, maar ek kan boul.  Ek braai nogal goed om eerlik te wees.  Die vrouens maak die kos, maar as dit braaityd is dan staan ek nader met my vurk en braai-spanner

 As jy nie gesing het nie, wat sou jy gedoen het?

Dit is nogal ʼn moeilike vraag, want ek is nogal useless met enigiets anders. Ek sou seker ʼn DJ geword het of iets met musiek.

 Watter raad kan jy aan jong kunstenaars gee?

Staan opsy, want hier kom Sarel Fourie! Ag nee, ek grap sommer.  Jy moet maar net hard werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.