‘Stam’ as beste SA fliek op rolprentfees vereer

Die nuwe rolprent Stam is Saterdag tydens ʼn aanlyn prysuitdelingsgeleentheid op die Durbanse Internasionale Rolprentfees (DIFF) as die beste Suid-Afrikaanse vollengte rolprent aangewys.

Stam is geskryf en geregisseer deur Louw Venter en het vroeër vandeesmaand op die kykNET Silwerskermfees gedebuteer.

Die fliek vertel die verhaal van die verweefde lewens van vyf baie uiteenlopende karakters deur die loop van ’n paar uur in die middestad van Kaapstad.

Die rolprent spog met ’n indrukwekkende rolverdeling wat gelei word deur Inge Beckmann, Gideon Lombard, Tarryn Wyngaard en Niza Jay, met Armand Aucamp, Nicola Hanekom, Jill Levenberg en Oscar Peterson in ondersteunende rolle.

“Dit was ʼn baie lang reis tot hier. Om hierdie tipe erkenning aan die einde van hierdie reis te ontvang, maak dit die moeite werd,” het Venter in sy toespraak gesê.

“Dit het ongelooflike samewerking geverg [om die fliek te maak]. Die stel is geskep soos dit my visie was vir die akteurs en die akteurs het vir ons die vertonings gelewer wat ons wou hê – hulle was onverskrokke, kragtig en vreesloos.”

‘n Skermgreep uit ‘Stam’.

Die rolprentfees het van 10 tot 20 September plaasgevind en is weens die Covid-19-pandemie vanjaar vir die eerste keer in 41 jaar aanlyn aangebied.

Die drama This is not a burial, it’s a resurrection is met drie toekennings bekroon, onder meer vir beste aktrise vir die ontslape Mary Twala. Die animasierolprent Ruby and Roach is aangewys as die algehele beste kortfliek, asook die beste kortfliek uit Afrika.

Die Finse komediedrama Force of Habit, wat deur sewe vroueregisseurs behartig is, is as beste algehele vollengte rolprent aangewys.

Stam sal vroeg in Oktober die nuwe model van teatervrystelling op BoxOffice volg.

Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.