‘Stam’: Louw Venter-rolprent debuteer op Silwerskermfees

‘n Skermgreep uit ‘Stam’.

Die nuwe rolprent Stam, geskryf en geregisseer deur Louw Venter, onder meer bekend as akteur in rolle soos Corné in die Corné en Twakkie-reeks en Herkie Greyling in Semi-Soet, word vroeg in Oktober op DStv se BoxOffice uitgereik.

’n Private vertoning van die fliek sal vandeesweek vir belanghebbendes van die rolprentbedryf tydens vanjaar se kykNET Silwerskermfees gehou word, wat as ’n webinaar van drie dae aangebied word.

Stam vertel die verhaal van die verweefde lewens van vyf baie uiteenlopende karakters deur die loop van ’n paar uur in die middestad van Kaapstad.

“Ons word nou meer as enige ander tyd sedert menseheugenis gedwing om na die betekenis en belangrikheid van menslike verbintenisse te kyk – ’n tema wat die kern van die rolprent is,” sê Venter.

“Die pandemie het onomwonde bewys dat daar onlosmaaklike magte is wat ons met mekaar verbind; magte wat kragtiger is as wat ons ooit sou kon dink. Ons is almal deel van mekaar se stories. Stam is ʼn ontginning van die onsigbare kettings wat ons aan mekaar bind. Verbintenisse  en verhoudings wat baie verder as bekendheid, die ekonomie, geslag, ras of sosiale aansien strek.”

Die rolprent spog met ’n indrukwekkende rolverdeling wat gelei word deur Inge Beckmann, Gideon Lombard, Tarryn Wyngaard en Niza Jay, met Armand Aucamp, Nicola Hanekom, Jill Levenberg en Oscar Peterson in ondersteunende rolle.

Louw Venter. (Foto: Verskaf)

Die rolprent het reeds heelwat opgewondenheid in die bedryf veroorsaak en word beskryf as uniek Afrikaans en heeltemal onvoorspelbaar. Dit is sonder pretensie of politieke korrektheid in sy verkenning van die innerlike wêrelde van ’n aantal karakters wat op soek is na ’n plek waar hulle tuis sal voel.

Stam sal ook sy internasionale buiging maak as deel van ’n kompetisie op vanjaar se Durbanse Internasionale Rolprentfees (DIFF), wat van 10 tot 20 September plaasvind.

Vir die eerste keer in die 41 jaar van sy bestaan, sal DIFF virtueel aangebied word. Stam sal ook vanaf laat September op die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) se digitale platform vir vertonings beskikbaar wees.

Kaapstad met sy besondere soort gebondenheid, verval, towerkrag, globalisering en herontwikkeling speel ook ’n sentrale rol in die rolprent, sê Venter.

“Dit is ’n stad wat heeltemal anders is as enige ander plek op aarde.”

Die internasionale rolprentbedryf het vanjaar in die rigting van virtuele ervarings beweeg en Suid-Afrika is geen uitsondering nie.

“Ons leef in ’n hiper-gekonnekteerde, mobiele wêreld,” het Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution en die verspreider van Stam, gesê.

“Ons het van die vertoon van rolprente in teaters beweeg na ’n situasie waar ons nou ons gehore na stromingswebwerwe verwys, wat aan verbruikers onmiddellike bevrediging kan bied. Hulle is nou in beheer van wat hulle kyk, en hoe en wanneer hulle daarna wil kyk, wat goeie nuus is vir plaaslike rolprente aangesien ons graag ’n styging in die betrokkenheid van ons gehore wil sien. Wat die karakters, intrige en storievertelling betref, is Stam ’n wonderlike prent wat beslis voordeel sal trek uit die verhoogde hoeveelheid kyktyd van gehore tuis.”

Hierdie rolprent sal vroeg in Oktober die nuwe model van teatervrystelling op BoxOffice volg.

“Dit is opwindend om iets heeltemal nuuts te probeer en ons vennootskap met BoxOffice het dit vir Stam moontlik gemaak om ’n digitale kommersiële debuut in Suid-Afrika te maak,” sê Elias Ribeiro, vervaardiger by die produksiemaatskappy Urucu.

“Ons sien daarna uit om die rolprent oral oor aan gehore beskikbaar te stel sodat ons gehore dit in die veiligheid en gemak van hulle eie huise kan kyk.”

Stam is met die ondersteuning van M-Net, kykNet, die departement van handel en nywerheid van Suid-Afrika (SHN), die Nederlands Filmfonds, die Nederlands Film Incentive en die Nasionale Rolprent- en Videostigting vervaardig.

Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.