‘Stroomop’ ʼn treffer by die loket

Leonie_stroomop_akteurs.jpg

Ivan Botha en Donnalee Roberts saam met Leonie Bezuidenhout van Maroela Media saam met gaste wat die geleentheid by The Grove Mall in Pretoria.

Die splinternuwe Afrikaanse avontuurfliek, Stroomop, wat amptelik op Vrouedag (9 Augustus) in fliekteaters landswyd uitgereik is, het skoonskip gemaak tydens sy eerste naweek by die loket.

Die fliek se loketinkomste ná die openingsnaweek is R2,5 miljoen en meer as 38 500 mense het reeds na die fliek gaan kyk.

Volgens Pieter Geldenhuys, hoof van bemarking en aankope vir onafhanklike rolprente by Filmfinity, het Stroomop nie net die grootste openingsnaweek by die loket vir ʼn Afrikaanse rolprent dié jaar gehad nie, maar ook die grootste openingsnaweek vir ʼn plaaslike rolprent dié jaar.

“Dit was vir die afgelope drie jaar ons grootste droom om mense saam te kan neem op hierdie epiese visuele avontuur en met hulle te kon deel wat ons ervaar het op daardie asemrowende en ongerepte deel van ons land waar daar op dele nog nooit eers ’n voetspoor getrap is nie,” sê Ivan Botha, regisseur van die fliek. “Daardie wêreld raak letterlik aan jou siel.”

“Daar is soveel inspirerende vroue wat al ons pad gekruis het en ons al gëinspireer het. Stroomop is bring hulde aan hulle – vroue wat daagliks die heldinne van hulle eie storie is,” sê Roberts, wat ook mede-vervaardiger van die fliek is.

“Ons hoop was dat elke vrou wat dit gaan kyk ʼn stukkie van haarself in ons karakters sou sien en ons is onbeskryflik dankbaar en oorweldig deur die magdom terugvoer van reg oor die land oor presies dít! Ons is ook net so dankbaar vir die mans wat die avontuur amper meer geniet het en ook met ons hulle harte en wonderlike insig gedeel het. Dankie aan elke persoon wat Stroomop al gekyk het en wat dit nog gaan kyk. Dit is te danke aan julle dat ons trots Suid-Afrikaanse stories kan vertel en flieks kan maak wat net hier in ons land gebore en gemaak kan word.”

Donnalee Roberts en Ivan Botha. (Foto: Verskaf)

Donnalee Roberts en Ivan Botha. (Foto: Verskaf)

Die fliek handel oor vyf vroue wat ontmoet tydens groepterapie. Daar is Lana (Donnalee Roberts), die perfeksionistiese en effe rebelse dokter wat verplig word om daar te wees; Adrie (Chanelle de Jager), die ma van drie wat wroeg oor haar gewig en begeerlikheid; Diona (Ilse Klink), wat haar hele lewe lank haar loopbaan voor haar dogter, Nixie (Carla Classen), se behoeftes gestel het en Vivian (Simoné Nortmann), ʼn valerige data-analis wat angstig en bang is vir die lewe.

Dié vyf vroue pak saam met ʼn riviergids, Guy (Armand Aucamp), die onstuimige waters van die Oranjerivier aan en wanneer hulle in die moeilikheid beland en die gids verdwyn, moet die vroue hul verskille (en geskille) eenkant toe skuif om hulself, én Guy, lewend aan die ander kant uit te kry.

Neels Clasen, Elize Cawood en Franci Swanepoel is ook in die fliek te sien. Die draaiboek is geskryf deur Botha, Roberts en Sean Robert Daniels van The Writers Block.

“Die fliek is só suksesvol dat nog fliekteaters die komende naweek bygevoeg word waar die rolprent vertoon sal word,” het Geldenhuys bygevoeg.

NuMetro Emperors Palace, Movies@The Ridge, Movies@Silverstar, Victorian Theatres in Newcastle en Minimax Paarl is die teaters wat bygevoeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Channelle ·

Sho wat n wonderlike fliek om te gaan kyk. Dit was baie baie goed. Trots op die groep

Pieter ·

Stroomop = Susters klink baie na dieselfde storielyn. Die hoeveelheid dames verskil egter. In beide is daar ook net 1 man. Nou wonder ek ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.