Superhelde-fliek maak loketgeskiedenis

(Foto: Marvel Studios via ANA)

Chris Hemsworth vertolk die rol van Thor. (Foto: Marvel Studios via ANA)

Die splinternuwe superheldfliek Avengers: Infinity War het tydens sy afgelope openingsnaweek loketgeskiedenis gemaak toe dit sowat $630 miljoen (ongeveer R8 miljard) ingeoes het. Dit ondanks die feit dat die rolprent nog nie in China, die wêreld se tweede grootste rolprentmark, geopen het nie.

Volgens BBC het dié aksiebelaaide fliek stof in die oë van The Fate of the Furious geskop, wat die vorige openingsnaweekrekord opgestel het met $542 miljoen (ongeveer R7 miljard) tydens sy openingsnaweek verlede jaar.

“Marvel het oor die laaste jaar die perfekte bloudruk vir die sukses van Avengers: Infinity War metodies geskep deur vier uitstekende flieks in ʼn ry te maak,” het Paul Dergarabedian, senior media-analis vir die loketmaatskappy ComScore, volgens The Guardian gesê.

“Al die fantastiese karakters in een perfekte springmieliefliek het ʼn popkultuur-fenomeen daarvan gemaak. Dit vergestalt die definisie van ʼn ‘moet-sien-fliek’.”

Marvel se grootste superhelde kom in Infinity War byeen, insluitend Robert Downey Jr. as Iron Man, Chris Hemsworth as Thor, Chadwick Boseman as Black Panther, Chris Evans as Captain America en Mark Ruffalo as Hulk.

Die fliek het tussen $300 en $400 miljoen (sowat R4 miljard) gekos om oor ʼn tydperk van 18 maande te vervaardig, en die broers Anthony en Joe Russo is die regisseurs.

Ander bekende Hollywood-akteurs soos Scarlett Johansson, Benedict Cumberbatch, Chadwick Boseman en Chris Pratt is ook in die fliek te sien. Avengers: Infinity War is die eerste van twee dele. Die tweede deel word in Mei 2019 vrygestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.