Superheldfliek steek ‘Titanic’ verby by loket

Michael B. Jordan, Lupita Nyong’o en Chadwick Boseman (Foto: Facebook)

Die superheldfliek Black Panther het die afgelope naweek na nét twee maande in Amerikaanse fliekteaters meer as $665 miljoen by die loket verdien – ʼn groottotaal wat dié fliek amptelik in die derde posisie plaas van flieks wat die meeste geld nóg laat inrol het.

The Hollywood Reporter berig dié fliek het pas die ikoniese 1997-lokettreffer Titanic verbygesteek. Dít nadat Titanic – wat $659 miljoen by die loket in Amerika verdien het – vir langer as ʼn dekade koning gekraai het.

Black Panther vertel die verhaal van T’Challa wat ná die dood van sy pa, ook die koning van Wakanda, terugkeer na sy tuisdorp om sy regmatige plek as koning in te neem. Hy gaan oor tot aksie nadat ʼn ou vyand die lot en veiligheid van sy volk bedreig. Die akteurs Chadwick Boseman, Michael B. Jordan, Lupita Nyong’o en Danai Gurira is in die fliek te sien.

Vanity Fair berig Titanic, ʼn fliek deur die Kanadese filmmaker James Cameron, het in 2009 ná 12 jaar as die grootste lokettreffer ʼn tweede plek ingeneem om plek te maak vir Avatar – ook ʼn Cameron-fliek. Avatar het $760 miljoen by die loket in Amerika verdien.

In die eerste plek vir die laaste drie jaar is Star Wars: The Force Awakens (2015) wat $937 miljoen by die Amerikaanse loket verdien het.

Bespiegelinge doen egter reeds die ronde op sosiale media of Black Panther nie dalk beide Star Wars en Avatar sal verbysteek nie, aangesien dié fliek nog ʼn tyd lank in fliekteaters te sien gaan wees.

Luidens ʼn verklaring het Black Panther tot dusver al meer as $1,29 miljard in fliekteaters wêreldwyd verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Die inhoud van die artikel is baie misleidend. Black Panther is nou eers die top 10 van algehele lokettreffers gebaseer op inkomste.

Hier is die top 10 op 6 April:
Avatar
Titanic
Star Wars: The Force Awakens
Jurassic World
The Avengers
Furious 7
Avengers: Age of Ultron
Harry Potter and the Deathly Hallows – Part 2
Star Wars: The Last Jedi
Black Panther

Vervang ! met /
volgens: https:!!en.wikipedia.org!wiki!List_of_highest-grossing_films

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.