‘Susters’ maak skoonskip by loket tydens openingsnaweek

Diaan Lawrenson, Leah en Quanita Adams (Foto: Verskaf)

Susters, die lankverwagte Afrikaanse chick-fliek wat op 29 Maart in fliekteaters landwyd begin draai het, het die afgelope Paasnaweek meer as R1 miljoen by die loket verdien.

Volgens Jenny Griesel, vervaardiger van die fliek, het die openingsnaweek se sukses die span agter die fliek “weggeblaas”.

“Met heelwat groot Afrikaanse rolprente wat die afgelope jaar die lig gesien het, is dit voorwaar ʼn heerlike gevoel om te hoor dat Susters in terme van openingsnaweeksyfers die grootste Afrikaanse rolprent sedert Kersfees 2016 is,” het Griesel gesê.

Volgens Griesel het die fliek dubbeld soveel verdien as wat Jagveld en Kampterrein verdien het, 32% meer as Vuil wasgoed, en 51% meer as Vaselinetjie op hul onderskeie openingsnaweke. Die fliek was in ook in die no. 1-posisie by ʼn hele aantal fliekteaters reg oor die land.

“Te oordeel na rolprentgangers se reaksies op die fliek se Facebook-blad, slaag die rolprent in sy doel om ʼn goedvoel-storie oor te dra,” het Griesel gesê.

Die fliek vertel die verhaal van drie aangenome susters, vertolk deur Diaan Lawrenson, Quanita Adams en Leah, wat van mekaar vervreem geraak het. Die susters word op ʼn ontdekkingsreis gestuur met die dood van hul moeder.

“Dit is ʼn reis gevul met tere herinneringe, interessante karakters, ongelooflike mooi plekke en dit wat die skoner geslag baie goed mee is – hoe om sakke vol pret te hê,” het Griesel gesê. “Dit is ʼn rolprent vir vroue deur ʼn oorwegend vrouespan.”

Die draaiboek is geskryf deur Corine du Toit en Sandra Vaughn en die fliek vervaardig deur Griesel. Sunel Haasbroek het die kinematografie behartig.

“Die enigste dorings in die hele groep is mede-vervaardiger Johan Vorster wat ook vir die musiek verantwoordelik was, en regisseur Corné van Rooyen, bekend vir sy werk aan Hollywood in my huis en Vaselinetjie,” het Griesel gesê.

Die lys van teaters waar die fliek te sien is, is intussen ook aangepas en uitgebrei. “Die komende naweek sal Susters ook te sien wees in Potchefstroom, by die East Rand Mall in Johannesburg, The Victorian in Newscastle, Bay West in Port Elizabeth en Swakopmund in Namibië.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.