Tannie Evita nou in dokumentêr verewig


Foto: Facebook

Foto: Facebook

Of jy van haar hou of nie, Tannie Evita Bezuidenhout is alombekend. Sy het die mense van Suid-Afrika laat praat oor dinge wat soms taboe was. Selfs met die politieke klimaat wat verander het, is sy steeds nie op haar bek geval nie. Agter dié lewensgroot persoonlikheid staan haar skepper, Pieter-Dirk Uys.

ʼn Dokumentêr, Nobody’s died laughing, is vanjaar in Julie uitgereik en handel oor die lewe en werk van Pieter-Dirk Uys oor die afgelope 50 jaar. Verskeie mense soos Sophia Loren, Charlize Theron, David Kramer, Anna-Mart van der Merwe en FW de Klerk maak hul verskyning in die dokumentêr.

As jy vir Uys vra wat hy dink oor die feit dat iemand dit goedgedink het om sy lewe en werk op so ʼn manier vas te vang, is hy vreeslik nederig. “Toe Willem Oelofsen my nader oor die maak van die dokumentêr, het ek gelag. Ek het vir hom gesê dit gaan ʼn baie kort film wees!” skerts hy. “Ek is baie trots op die film – hulle het vir my ʼn baie mooi ding gegee.”

Uys sê hy was nie nou betrokke by die maak van die dokumentêr nie, maar het wel insette gelewer wanneer Oelofsen inligting benodig het oor mense wat hy langs die pad ontmoet het of oor sy optredes.

“Willem het baie versigtig gekies en sy persoonlike siening voorgehou – ek het baie min daarmee te doen gehad. Dit het begin met ʼn klein geselsie. En voor ek my kom kry, sit ek in ʼn gehoor en kyk na hierdie man op die doek en wonder wie is hierdie mal vent.”

Uys sê dit was vir hom belangrik dat die dokumentêr nie lyk soos iets wat hom op ʼn troontjie plaas, of soos ʼn doodsberig nie.

“ʼn Mens moet ʼn paar keer misluk voor jy een sukses behaal, maar dit gaan nie net oor die sukses nie, en dit was vir my belangrik dat dit ook so uitgebeeld word.”

Dié kunstenaar sê hy hoop die dokumentêr wys vir jong mense dat hulle nie moet wag vir iemand om vir hulle werk te gee nie. “Elke persoon het ʼn passie en ʼn talent. ʼn Mens word soms deur mense gesê dat jou droom nie gaan waar word nie. As jy niks doen nie, gaan niks gebeur nie; as jy iets doen, kan alles gebeur.”

En was daar enige voorskrifte vir die dokumentêr?

“Ek het vir Willem gesê: ‘My pa het altyd vir my gesê ʼn film moenie langer as 90 minute wees nie, want op die 91ste minuut moet hy badkamer toe gaan …”

Luister na die podsending om te hoor wat Pieter-Dirk Uys oor Tannie Evita te sê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.