Teaterman, komponis maak animasiekortfliek

‘Jak en die Rankplant’ is binnekort aanlyn te sien.

Kosie Smit, bekende teaterman, en die komponis Dawid Boverhoff se animasiefliek Jak en die rankplant is binnekort aanlyn te sien.

Smit, wat ook ʼn uiters vaardige animeerder is, het tydens die inperking kragte saam met Boverhoff gesnoer om dié animasiefliek van sowat 33 minute lank te vervaardig.

Smit was verantwoordelik vir die teks, animasie en redigering, terwyl Boverhoff die musiek geskryf, musiekregie behartig en saam met Smit die produksie se regie aangepak het.

Volgens die duo het die projek ʼn “bekoorlike handgemaakte gevoel”. Hulle wou die bekende volksverhaal wat meer algemeen bekend staan as Jan en die boontjierank in ʼn aweregse storie omskep wat op ʼn unieke manier vertel word.

Jak en die rankplant is aanvanklik ontwikkel om as ʼn teaterproduksie reg oor die land te toer, maar toe die inperking ingestel word in Maart verlede jaar het die idee vir die animasiefliek posgevat.

Dit het uiteindelik sewe maande geneem om te voltooi. “Om aan die fliek te werk het ons deur die inperking gedra. Ons kon steeds elke dag skeppend wees,” sê Smit.

‘n Greep uit ‘Jak en die Rankplant’.

Die veteraanakteur Tobie Cronjé gee lewe aan die karakter Frikkie die Reus. Die aktrise Anel Wood is Ma. Die jong akteur Hendré Calitz is Jak en Zahné Durand is Magdil.

Smit vertel hy het kort voor die inperking Kaap toe getrek en het in Johannesburg die karakters se stemme opgeneem toe die inperkingsregulasies verslap is.

Hy sê hoewel hy ʼn gesoute animeerder is, het hy steeds elke dag iets nuut geleer tydens die vervaardigingsproses. “Ek het nie geweet ek kan dit doen nie! Ons praat reeds oor moontlikhede om nog ʼn fliek aan te pak.”

Die kortfliek is gemik op die hele gesin. “Ouma en oupa of ma en pa kan gemaklik saam met die kinders na die fliek kyk. Ons het dit só geskryf dat ouers dit kan geniet terwyl kinders iets daaruit leer.”

Die fliek is vanaf 1 Mei tot 6 Junie aanlyn te sien. Kaartjies kos R45 en is beskikbaar by Quicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.