‘The Favourite’ inderdaad die gunsteling by 2019-Bafta’s

Olivia Colman met haar beeldjie vir haar rol in 'The Favourite'. (Foto: Ian West/PA Wire)

Olivia Colman met haar beeldjie vir haar rol in ‘The Favourite’. (Foto: Ian West/PA Wire)

Die room van die internasionale televisie- en rolprentbedryf het Sondag in Londen by die Royal Albert Hall byeengekom vir die 72ste British Academy of Film and Television Arts-toekennings (Bafta’s).

The Favourite, wat in die 18de eeu afspeel in ʼn tyd waar Engeland en Frankryk in ʼn oorlog gewikkel is, het in sewe van die 12 kategorieë waarin dit benoem is, gewen.

Olivia Colman, wat die rol van koningin Anne in die fliek vertolk, is met die beeldjie vir beste aktrise vereer terwyl haar medespeler, Rachel Weisz, die toekenning vir beste vrouebyspeler ontvang het. Albei aktrises is ook vir ʼn Oscar benoem.

Die fliek is ook met die beeldjies vir beste Britse rolprent, beste produksieontwerp, beste kostuumontwerp, beste hare en grimering, asook beste oorspronklike draaiboek huis toe.

Yorgos Lanthimos is die regisseur van dié sterbelaaide fliek.

Die Meksikaanse Netflix-rolprent, Roma, is met vier beeldjies vereer. Dié fliek vertel die verhaal van regisseur Alfonso Cuarón, wat die toekenning vir beste regisseur ontvang het, se jeug in Meksiko. Die fliek is ook aangewys as beste algehele rolprent en beste nie-Engelse rolprent en is ook met die beeldjie vir beste kinematografie huis toe.

Die epiese musiekrolprent Bohemian Rhapsody, wat handel oor die rockgroep Queen, is ook met twee toekennings vereer. Rami Malek is aangewys as beste akteur vir sy rol as Freddie Mercury en die fliek het ook die toekenning vir beste klankbaan ontvang.

A Star is Born, met Bradley Cooper in die hoofrol én regisseurstoel, is vir sewe toekennings benoem, maar is slegs met een, vir beste oorspronklike musiek, vereer.

Sien die volledige lys van benoemdes en wenners hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.