‘The Lion King’ kraai koning by loket

Hierdie skermskoot uit ‘The Lion King’ wys ‘n jong Simba (stem deur JD McCrary) saam met Timon (stem deur Billy Eichner) en Pumbaa (stem deur Seth Rogen) tydens ‘n toneel in die fliek. (Skermskoot: Disney via AP)

Die nuwe weergawe van Disney se The Lion King het tydens sy afgelope openingsnaweek ʼn allemintige $185 miljoen in die VSA ingeoes en nóg $269,4 miljoen in kaartjieverkope wêreldwyd.

Daar is geen twyfel daaraan dat 2019 se loketrekords aan Walt Disney Co. behoort nie. Afgesien van The Lion King wat in sy openingsnaweek rekords laat spat het, het Avengers: Endgame ook Avatar verbygesteek om die rolprent te word wat nog die meeste inkomste ooit verdien het.

The Lion King het die afgelope naweek in 4 725 rolprentteaters in die VSA begin draai. Fliekgangers het na teaters gestroom om van die eerstes te wees om die nuwe weergawe van hierdie geliefde animasierolprent van 1994 te sien, maar die rolprent het egter gemengde reaksie uitgelok.

Die vervaardigers van die nuwe weergawe van The Lion King het die nuutste tegnologie gebruik om die rolprent so realisties moontlik te laat lyk. Die stemme van die karakters word ook deur groot name in die vermaakbedryf gedoen, onder wie Beyoncé, Donald Glover, James Earl Jones en Seth Rogan.

‘n Toneel uit “Toy Story 4”. (Skermskoot: Disney/Pixar via AP)

“Ons het ʼn uitmuntende vertoning die naweek gehad,” het Cathleen Taff, Disney se president van verspreiding, gesê. “Ons het geweet ons het hier iets regtig spesiaal beet weens die fliek se gewildheid onder alle ouderdomme.”

Dit is die tweede keer vanjaar dat die Disney-handelsmerk kritici se flou reaksie op ʼn rolprent oorheers het. Aladdin, wat nie juis jubelende resensies ontvang het nie, is steeds in die top-10 rolprente ná nege weke in teaters en kan reeds met $989 miljoen wêreldwyd spog.

“Sekere handelsmerke het soveel goedhartigheid en gelykheid. Resensies maak duidelik net nie saak nie,” het Paul Dergarabedian, senior media-ontleder vir Comscore, gesê.

Hierdie skermskoot uit ‘The Lion King’ wys ‘n jong Simba (stem deur JD McCrary) saam met ‘n jong Nala (stem deur Shahadi Wright Joseph) en Zazu (stem deur John Oliver) tydens ‘n toneel in die fliek. (Skermskoot: Disney via AP)

Wanneer daar gekyk word na die volle tien dae wat The Lion King al in rolprentteaters vertoon word (die fliek is ʼn week vroeër in China bekendgestel), het die rolprent wêreldwyd al meer as $531 miljoen ingeoes. Volgens berigte het die fliek sowat R24,5 miljoen tydens sy openingsnaweek in Suid-Afrika verdien.

Fliekgangers het ook gestroom om die fliek in grootformaat en 3D te kyk – 36% van die wêreldwye inkomste kom uit 3D-vertonings en $25,2 miljoen van IMAX-teaters.

Disney kan nou spog met vyf van die topses-posisies vir die jaar. Avengers: Endgame het uiteindelik Avatar se rekord van die meeste inkomste ooit verbygesteek met $2,79 miljard.

Hier is die geraamde inkomste uit kaartjieverkope van Vrydag tot Sondag:

RolprentInkomste VSA en KanadaInkomste res van die wêreld
1The Lion King$185 miljoen$269,4 miljoen
2Spider-Man: Far From Home$21 miljoenR37,2 miljoen
3Toy Story 4$14,6 miljoen$25,8 miljoen
4Crawl$6 miljoen$2,7 miljoen
5Yesterday$5,1 miljoen$4,3 miljoen
6Stuber$4 miljoen$1,1 miljoen
7Aladdin$3,8 miljoen$9,2 miljoen
8Annabelle Comes Home$2,7 miljoen$7,4 miljoen
9Midsommar$1,6 miljoen$584 000
10The Secret Life of Pets 2$1,5 miljoen$6,7 miljoen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DeVill ·

Saam met my dogtertjie gaan kyk. Dit was presies soos die eerste een!

Anka le Roux ·

Ek het vanog die temalied gehoor, beyonce sing dit. Dit was TERRIBLE!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.