Thor gaan as Hulk spiere bult

Chris Hemsworth. Foto: Angela Weiss/AFP

Chris Hemsworth, die man wat die hamerswaaiende Thor in die Avengers-reeks gespeel het, sal nou die rol van Hulk Hogan in ’n rolprent oor dié geelsnor-rofstoeier se lewe vertolk.

Die 37-jarige Hemsworth het in ’n onderhoud vroeër vanjaar met Total Film gesê dat hy na die nuwe uitdaging uitsien.

“Die rofstoeiwêreld is vir my baie interessant. Ek dink almal is gretig om ’n deel van die sport te wys wat mense nog nie vantevore gesien het nie,” het hy gesê.

Nodeloos om te sê, sal hy omtrent daagliks die gimnasium moet besoek indien hy enigsins soos die ster-rofstoeier – wat 2,01 m lank is en 137 kg weeg – wil lyk.

Hulk Hogan. Foto: Fayez Nureldine/AFP

“Die rolprent gaan vir baie pret sorg. Ek gaan net meer spiere as ooit vantevore moet kry,” het Hemsworth gesê.

Die Aussie-akteur het onlangs ’n foto van homself op sosiale media geplaas waar hy besig is om te oefen. En selfs Hogan is met sy transformasie beïndruk.

“Hy is gereed! Die mannetjie lyk goed genoeg om die rol te speel,” het die rofstoeier op Twitter gesê.

Hemsworth sal verder sy aksent moet aanpas en sy hare en snor bleik om die Hulkamania-ster na te boots.

Volgens People.com het die produksiespan vir Hogan as ’n konsultant en uitvoerende vervaardiger nadergetrek, terwyl Bradley Cooper van die American Sniper-faam ook ’n vervaardiger is. Todd Phillips, wat uitstekend saam met Joaquin Phoenix in The Joker gewerk het, sal in die regisseurstoel sit.

Volgens berigte het Netflix die eksklusiewe regte tot die fliek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swanie ·

Mal oor die akteur maar ek hoop hulle werk aan sy aksent , dit is baie Brits en Hogan baie Amerikaans

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.