Thys & Trix-première: Sterre deel staaltjies

Bouwer en Leandie du Randt-Bosch (Foto: Facebook)

Die akteurspaar Bouwer en Leandie du Randt Bosch is eersdaags terug op die silwerdoek met ʼn splinternuwe fliek Thys & Trix. Die span van dié aksiekomedie het Woensdagaand in Johannesburg byeengekom vir die première.

Die fliek handel oor Thys en Trix, ’n broer en suster, asook ywerige maar onbeholpe polisiebeamptes. Thys is ’n bedagsame knoeier en Trix ’n ongeskikte, sexy rabbedoe. Hul onderlangse twis en die feit dat hulle van kleins af sukkel om as span saam te werk, veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens een keer te veel in die verleentheid stel.

Speurder Solomons, ’n gesoute en passievolle speurder, ondersoek die bedrywighede van ’n dwelmsindikaat in ’n hoogs onwaarskynlike plek – ʼn eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai.

Daar is egter een probleem: Solomons gaan sukkel om in te pas in die landgoed en vanweë hulle “vanielje-voorkoms” word Thys en Trix vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ’n ondersoek te lei, of eerder te laat ly. Solomons sal hulle vergesel, maar is glad nie ingenome met die feit dat hy die dienskneg gaan wees nie.

Bosch (Thys) en Du Randt Bosch (Trix), wat die hoofrolle vertolk, het saam by die Cresta Barnyard op die glanstapyt verskyn. Leandie was geklee in ʼn uitrusting deur haar eie klerereeks, Skoonma Clothing.

Sterre van die fliek soos Zak Hendrikz (André), Dorette Potgieter (Chandré) en Brendon Daniels (Solomons) het ook ʼn draai by die première gemaak. Potgieter was geklee in ʼn dramatiese swart skepping.

Carine Rous (Heidi), Sama-wenner vir haar rol in die kykNET-komediereeks Elke skewe pot, en Deon Coetzee (Stephàn) het ook die geleentheid bygewoon.

Charlie Bouguenon (Gerhàrd) en sy vrou, Anré, het saam vir die flitsende kameras geglimlag. Die paartjie is in April naby die Wieg van die Mensdom getroud.

Ivan Zimmerman (Ben) en Chanelle de Jager (June) is ook in die fliek te sien.

Thys & Trix begin op 22 Junie in fliekteaters landwyd draai.

Bouwer en Leandie du Randt-Bosch (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Dorette Potgieter (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Charlie en Anré Bouguenon (Foto: Leonie Bezuidenhout/ Maroela Media)

Carine Rous (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Zak Hendrikz (Foto: Leonie Beuizenhout/Maroela Media)

Quentin en Dominique Krog (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.