Tim Theron praat oor Griekwastad-rolprent

Tim Theron in ‘n toneel uit ‘Griekwastad’. (Foto: Verskaf)

In April 2012 het die Griekwastad-moorde in die Noord-Kaap Suid-Afrika en die wêreld tot stilstand geruk.

Deon (44) en Christel (43) Steenkamp, asook hul dogter, Marthella (14), is wreed op hul plaas, Naauwhoek, vermoor. Marthella is ook verkrag. Don Steenkamp, hul seun wat ten tyde van die moorde 15 jaar oud was, is in 2014 in die hof aan dié gruweldade skuldig bevind.

Die akteur Tim Theron is saam met Deon Meyer, Cobus van den Berg en Tracey Lange die vervaardigers aan die stuur van die produksiehuis SCENE23 en die Griekwastad-moorde-projek. Die rolprent getiteld Griekwastad is tans op Box Office te sien.

Theron vertel die idee vir die fliek was aanvanklik dié van Meyer, bekende Suid-Afrikaanse skrywer van boeke soos Orion en Jagveld, wat ook vir die kassie en silwerdoek verwerk is. Hy het die regte van die boek, Die Griekwastad-moorde – Die misdaad wat Suid-Afrika geruk het deur Jacques Steenkamp, verkry.

Tim Theron op die stel van ‘Griekwastad’. (Foto: Verskaf)

“Dit is so ʼn tragiese verhaal, maar ook so aangrypend. Die rolprent fokus op kol. Dick de Waal, die speurder wat betrokke was by dié opspraakwekkende moordsaak. Deur die storie uit sy oogpunt te vertel, was die enigste manier om so na moontlik aan die feite te kon bly wat deur die hofsaak aan die lig gekom het,” verduidelik Theron.

“Ons wou geensins bespiegel oor wat daardie aand op die plaas gebeur het nie. Die kern van die storie is ʼn speurder wat in die onskuld van ʼn kind glo en wat later van daardie geloof in sy onskuld moet laat gaan.”

Benewens sy rol as vervaardiger van die rolprent vertolk Theron ook die rol van skrywer Jacques Steenkamp in Griekwastad.

“Dit was vir my fantasties om te kan vervaardig en speel. Die kreatiewe proses van so ʼn projek is waar ek my energie en my betekenis kry. Dit het my die geleentheid gegee om op alle gebiede deel te wees van die projek,” sê hy.

“Om te speel en ʼn karakter lewe te gee is ʼn heel ander kreatiewe uitlaatklep. My brood was basies aan albei kante gebotter. Dit is egter harde werk en jy moet fokus op twee verskillende plekke, maar dit is ʼn voorreg om albei te kan doen.”

Theron sê die gebeure van die Griekwastad-moorde het die hele land vasgenael gehou en tot vandag word daar steeds geworstel met vrae soos: “Hoekom? Hoe kan ʼn kind so iets doen? Kan so iets in my familie gebeur?”

Tim Theron op die stel van ‘Griekwastad’. (Foto: Verskaf)

Hy glo dit is wat die verhaal so aangrypend maak. “Dit is iets wat ons raaksien in die reis van kol. De Waal, wat Arnold so fantasties vertolk. Hy glo dit kan tog seker nie wees nie. Niemand wil dink dat ’n 15-jarige seun sy familie kan uitwis nie.”

Volgens Theron het hulle die gewelddadige tonele so sensitief moontlik hanteer. “Jy kan nie ʼn fliek maak oor ʼn moord en nie die moord wys nie. Dit is egter nie grafies nie en ons wys die verskillende weergawes van wat almal gedink het moontlik gebeur het. Ons het nie gedink dit sal ons op die stel só raak nie, maar die akteurs was soms baie emosioneel nadat sekere tonele geskiet is.”

Tertius Kapp en Jozua Malherbe, albei wenners van ʼn Suid-Afrikaanse film- en televisietoekenning (Safta), is onderskeidelik verantwoordelik vir die teks en regie. “Jozua wou graag die kamerawerk self doen omdat die fliek so emosioneel gelaai is. Hy wou baie naby aan die akteurs wees,” sê Theron.

Die terugvoer wat die rolprent tot dusver ontvang het, is positief, sê Theron. “Die fliek het op verlede jaar se Silwerskermfees gedebuteer en die reaksie was geweldig positief. Mense kon sien hoe sensitief ons met die storie probeer werk het. Die terugvoer oor Arnold se spel is ook goed, en mense is verbaas dat sy Afrikaans nog so goed is.”

Dit is Vosloo, die wêreldberoemde Suid-Afrikaanse akteur, wat in internasionale flieks soos The Mummy, The Mummy Returns en Blood Diamond teenoor Leonardo DiCaprio gespeel het, se eerste Afrikaanse rolprent in meer as 30 jaar.

Griekwastad is nou op Box Office beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

EK het gisteraand die voorprent gekyk. Gaan hom beslis op Box office kyk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.