Trevor Noah se lewensverhaal in ʼn fliek omskep

Trevor Noah (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaans gebore komediant en gewilde televisieaanbieder Trevor Noah se outobiografie – Born a Crime: Stories from a South African Childhood – gaan in ʼn fliek omskep word.

Die bekroonde aktrise Lupita Nyong’o het dié nuus op sosiale media bevestig.

“Ek kon nie die boek neersit toe ek Trevor Noah se Born a Crime gelees het nie. Ek is opgewonde om aan te kondig dat ek in die fliekweergawe te sien gaan wees én as vervaardiger gaan optree,” het sy gesê.

Nyong’o gaan volgens die webwerf Deadline die rol van Noah se ma, Patricia, in die fliek vertolk. Die komediant het al baie gepraat oor die groot rol wat sy ma in sy grootwordjare gespeel het en dat sy al donker tye deurgemaak het – soos onder meer toe sy deur Noah se stiefpa geskiet is, maar oorleef het.

Noah en Nyong’o gaan dié projek aanpak saam met Ark Angel Productions, sy produksiemaatskappy, asook Aladjem, Derek van Pelt and Sanaz Yamin van Mainstay Entertainment.

Born a Crime: Stories from a South African Childhood is in 2016 gepubliseer. Die boek was vir ongeveer 26 weke op die topverkoperslys en het al verskeie pryse, soos onder meer die James Thurber-boekprys, verower.

Nyong’o is met ʼn Oscar vereer vir haar rol in die fliek 12 Years a Slave. Dit is nog nie duidelik watter ander akteurs ook in die fliek te sien gaan wees nie.

Noah sal na verwagting in November vanjaar sy tweede boek bekend stel.

Lupita Nyong’o en Trevor Noah (Foto: Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VanAfrika ·

En weereens gaan hierdie fliek wys wat n gehate nasie die blanke Afrikaner is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.