Tuisfliek van die maand: Boetie gaan Border toe

Met Arnold Vosloo en Frank Dankert
Regisseur: Regardt van den Bergh

Hierdie baanbrekersrolprent, ook oor ʼn oorlog, kan met reg aanspraak maak dat dit vir die eerste keer ʼn jong taal, (ook moderne rolprenttaal) durf praat het. Vorige studente- of weermagrolprente het jonges dikwels elokusie-Afrikaans in mooi, volsinne laat praat met ʼn suiwer, blink gelaat waarvan slegs die mondhoeke effens beweeg het. Die res van die rolprent het stilgestaan.

Toe kom Regardt van den Bergh, wat in die vermaaklikheidsbedryf grootgeword het, (sy pa was die vermaerde akteurspaar Gert en Dulcie van den Bergh) en pak die weermag met humor en ʼn skalkse, ondeunde glimlaggie aan.

Selfs vandag nog, 33 jaar nadat dit die eerste keer vertoon is, bly dit byderwets, cool, vol jong geite gevul met jeugdige manewales en streke. Die weermag is nog nooit so humoristies en met soveel styl uitgebeeld nie. Ja, daar was vorige rolprente soos Grensbasis 13 waarin daar (as ek reg onthou) humoristiese tonele was wat die opleidingsproses uitgebeeld het met die kwaai samajoor en onsimpatieke bevelvoerders wat die manne gebrei het. Maar die aanpassing van twee doodgewone jong, verwaande stadslaities in ʼn militêre sisteem word hier met houding en ʼn moedswillige swaai in die stappie gewys.

Verlustig jou in die tagtigerjare toe die weermagkultuur op sy hoogtepunt was en rolprente soos hierdie in ʼn mate uiting aan frustrasies gegee het, maar ook met onverwagse, dog hartseer humor gekyk het na manne wat uit hul gemaksone geruk is en geleer het hoe om manne te word.

Dit is gemaklik, komies, maar ook met erns en begrip gemaak. En die wikkel stappie-styl is eintlik die rolprent se sterkste punt.

Gesoute rolprentresensent, skrywer, draaiboekskrywer Leon van Nierop resenseer maandeliks vir ons ʼn top-Afrikaanse rolprent wat op Showmax te sien is. Indien jy nog nie vir ShowMax ingeteken het nie, probeer die gratis 14 dae-proeflopie vir duisende ure se topklas vermaak op jou rekenaar, slimfoon, slim TV of tablet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.