Tuisfliek van die maand: Daar doer in die bosveld

Met Jamie Uys en Hettie Uys
Regisseur: Jamie Uys.

So reg in die middel van die klein Afrikaanse fliek-renaissance wat tans aan die gang is, moet ʼn mens miskien met respek terugkyk na een van die oorspronklikes, een van die grotes: die eenvoudige storie van ʼn stoere en lomp bosveldboer en sy romanse met ʼn skoolonderwyseres in die middel van nêrens toe die bosveld, en ʼn afgeleë bestaan, nog paradyslik was.

Jamie Uys het destyds daarin geslaag om ikoniese status te kry as ons eie Afrikaanse Charlie Chaplin wat betref sy oor-die-voete-vallery. Slapstick het in sy bekwame hande ʼn kuns geword. Hy het geliefd en gewild geraak in ʼn reeks rolle waarin hy gewoonlik die naïewe boer gespeel het wat goed was met beeste of plaaswerk, maar nie met vroue nie. Dit is egter sy goeie hart en mededeelsaamheid wat uiteindelik die vroue se harte gewen het. Hierdie was sy eerste film treë.

Wat Daar Doer in die Bosveld so spesiaal maak, is die absolute eenvoud en eerlikheid daarvan. Ook die feit dat daar ʼn naïwiteit is wat nooit bespotlik of verkleinerend geraak het nie. So baie doodgewone manne van die jare vyftig het met die Jamie Uys-karakter geïdentifiseer en hom selfs bewonder. Maar die grootste bydrae wat Uys gemaak het, was om die Afrikaner, wat maar baie fyngevoelig in hierdie tyd van die spanning tussen Boer en Brit was, te leer om vir homself te lag.

Net die toneel waar Uys as die boer Hans Botha probeer om sy motor te keer om agteruit te beweeg by ʼn plaashek, terwyl hy dit probeer oopmaak, en hoe hy die onderwyseres Martie du Toit, (pragtig gespeel deur sy vrou Hettie Uys) in die water laat val het, is steeds klassiek. ʼn Mens het ook nie noodwendig vír die karakters gelag nie, maar sáám met hulle.

Die tonele van die ongeskonde bosveld, die grapperige manewales van wilde diere (wat later in Beautiful People weer sy beslag sou kry) en die goedhartigheid van ʼn boer wat eensaam was en na die regte vrou gesoek het, is met goeie smaak, warmte en deernis oorgedra. Terloops, Jamie het die motor-agteruitloop-toneel ook in ander rolprente herhaal!

Moet dus onder geen omstandighede dink dat Daar Doer in die Bosveld ʼn “outydse” film is wat by moderne rolprente afsteek nie. Dit het hart, maar ook respek vir sy karakters. Geen platvloersheid of oordrewe komedie kniehalter die rolprent nie. Daar is ʼn meelewendheid wat aansteeklik is, en dit is wat hierdie rolprent so spesiaal maak. Dit het nie verouder nie. Dit het steeds dieselfde hartlikheid en vrolikheid, maar ook respek vir sy karakters as 66 jaar gelede.

Jamie Uys met sy klipgesig wat nooit verander het nie (daar was elemente van die baas-komediant Buster Keaton se strakheid dog komieklikheid in sy vertolking) het van Hans een van die mees geliefde karakters ooit in Afrikaanse rolprente gemaak.

Die rolprent is nou op Showmax, en jy kan dit gerus vir die kleinspan wys sodat hulle kan sien waar ons vandaan kom, hoe ons ontwikkel het, maar beslis ook hoe ons komedies op ʼn hoogtepunt begin het.

Sterk aanbeveel.

Gesoute rolprentresensent, skrywer, draaiboekskrywer Leon van Nierop resenseer maandeliks vir ons ʼn top-Afrikaanse rolprent wat op Showmax te sien is. Indien jy nog nie vir ShowMax ingeteken het nie, probeer die gratis 14 dae-proeflopie vir duisende ure se topklas vermaak op jou rekenaar, slimfoon, slim TV of tablet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.