Tuisfliek van die maand: Katrina

Skermgreep uit die fliek

Met Jill Kirkland en Joe Stewardson
Regisseur: Jans Rautenbach

Ter aansluiting by Vaselinetjie is dit die moeite werd om weer na Katrina te kyk. Hierdie rolprent van 1969 deur meester-regisseur Jans Rautenbach, spreek dieselfde kwessies as Vaselinetjie aan – maar dit kom uit ʼn ander tyd. Rautenbach het self erken dat hy nie toegelaat is om bruin akteurs in die hoofrolle te gebruik nie, vandaar die feit dat grimering op Jill Kirkland as Katrina en Kobus Rossouw as Katrina se broer, die vurige Adam September, gebruik is om hulle “bruin” te maak.

Die rolprent gaan oor die dilemma waarin ʼn bruin vrou Katrina, ʼn doodgewone mens, haar bevind. Sy het haar seun, wat nes Vaselinetjie, as “wit” deurgegaan het, na ʼn universiteit gestuur om ʼn dokter te word. Wanneer hy terugkom en op ʼn wit meisie (Katinka Heyns) verlief raak, word sy identiteit openbaar gemaak. Die wyse waarop dit ʼn stoere Afrikaanse gesin uitmekaar skeur, en die invloed wat die drama op die bruin gemeenskap gehad het, word vreesloos maar met groot empatie deur Jans Rautenbach uitgebeeld. Hier het hy reeds bewys dat hy een van ons land se top regisseurs is wat ook dapper en sonder skroom na sekere temas kyk wat hy voel van geweet moet word.

Saam met Die kandidaat is dit een van die eerste Afrikaanse rolprente wat dit gewaag het om kritiek teen apartheid en die apartheidsregering te lewer. Dit het tot ʼn reuse-sensuur debakel gelei wat tot die rolprent se voordeel gestrek het. Hierdie was terloops Katinka Heyns se debuut as aktrise, en het ook vir die eerste keer gebruik gemaak van ʼn bekende popliedjie (Cry to me) wat met groot effek gebruik is.

ʼn Meester-regisseur op sy allerbeste, en ʼn storie wat jou sal laat praat maak van hierdie klassieke rolprent ʼn moet. Soek verby die gewone lekker komedies waarop ʼn mens dikwels besluit as jy iets van Showmax sou wou kies, en stel jou bloot aan hierdie lewensveranderende rolprent. ʼn Absolute moet en ʼn meesterstuk.

Gesoute rolprentresensent, skrywer, draaiboekskrywer Leon van Nierop resenseer maandeliks vir ons ʼn top-Afrikaanse rolprent wat op Showmax te sien is. Indien jy nog nie vir ShowMax ingeteken het nie, probeer die gratis 14 dae-proeflopie vir duisende ure se topklas vermaak op jou rekenaar, slimfoon, slim TV of tablet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petrus ·

“Sy het haar seun, wat nes Vaselinetjie, as “wit” deurgegaan het, na ʼn universiteit gestuur om ʼn dokter te word”
Vaselinetjie IS wit. Het net in ‘n bruin huishouding grootgeword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.