Tuisfliek van die maand: Plekkie in die son

Met Jana Cilliers, Magda Beukes en Regardt van den Bergh

Regisseur: William (Bill) Faure

Al dateer hierdie rolprent uit 1979 is dit steeds ʼn ontroerende en selfs ontsenuende ervaring, en bewys net weer hoe ʼn groot talent William C. Faure, wat intussen dood is, as regisseur was.

Die fliek is gegrond op een van Ena Murray se trefferboeke en gaan oor ʼn vrou wat ontdek dat sy melaats is. Wanneer ʼn mens na dié rolprent kyk, moet jy in gedagte hou in watter tydperk (die mid-1970’s) dit afspeel. Die stigma van melaatsheid stem amper ooreen met die stigma wat in die 1980’s aan mense gekleef het wat MIV-positief was of selfs vigs gehad het.

Wat die rolprent so treffend en aktueel maak is die wyse waarop gewone mense, selfs die gesofistikeerde vrou se man (Eckard Rabe), op die nuus reageer. Sy word ʼn uitgeworpene wat slegs in die instituut vir die behandeling van melaatses aanvaarding en troos kry. Faure slaag daarin om op dikwels onsentimentele wyse, en met nugterheid en helderheid, na die vrou se dilemma te kyk.

Van die skokkendste tonele speel in die hospitaal af waar mense wat werklik aan melaatsheid ly, gewys word. Ook Jana Cilliers as die heldin en slagoffer Karen Viljoen beïndruk. Cilliers het hier reeds bewys dat sy ʼn uitsonderlike talent vir die kamera het en presies weet hoe om te onderspeel. Haar smart en vernedering word filmies knap uitgebeeld.

Maar dit gaan ook om vriendskap – van die verpleegsters soos vertolk deur Magda Beukes, tot by die nutsman Piet Fieks, pragtig vertolk deur Tobie Cronjé, en hoe hulle haar onvoorwaardelik aanvaar en help op haar pad na aanvaarding en ondersteuning.

Plekkie in die son is ʼn voorbeeld van die regte rigting waarin ons rolprentbedryf destyds beweeg het. Huur dit liewer in plaas van ʼn hedendaagse fliek. Dit sal jou ontroer en meesleur.

Gesoute rolprentresensent, skrywer, draaiboekskrywer Leon van Nierop resenseer maandeliks vir ons ʼn top-Afrikaanse rolprent wat op Showmax te sien is. Indien jy nog nie vir ShowMax ingeteken het nie, probeer die gratis 14 dae-proeflopie vir duisende ure se topklas vermaak op jou rekenaar, slimfoon, slim TV of tablet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.